‘Klouterdief’ teiken Bolhuis se strandhuis

Mike Bolhuis. (Foto: Argieffoto)

Diewe het die afgelope naweek die private speurder, Mike Bolhuis, se strandhuis aan die Tuinroete geteiken en met duisende rande se toerusting weggestap nadat hulle die stoorkamer leeggedra het.

“As ʼn mens die waarde van die gereedskap bereken wat gesteel is, het ek eintlik ʼn redelike groot verlies gely,” sê hy.

Bolhuis se stoorkamer is glo Saterdagaand oopgebreek en sowat R100 000 se instandhouding- en tuingereedskap is gebuit.

Dié bekende speurder is nou vasbeslote om die polisie met sy ondersoek by te staan om die skuldige vas te trek. Hy weet glo ook reeds wie die moontlike boosdoener(s) is.

Volgens Bolhuis het die vermeende diewe, wat hy beskryf as klouterdiewe, glo twee asblikke bo-op mekaar gestapel en oor die muur van sy strandhuis in Plettenbergbaai geklim.

Dié huis word ook gebruik as ʼn kantoor en hy besoek dit ʼn paar keer per jaar. Hy was egter nie tuis ten tyde van die inbraak nie.

“Hulle het by die buitemuur opgeklim en die ogie [van die alarmstelsel] geïdentifiseer en met kleeflint toegeplak,” sê hy.

Die veiligheidsmaatskappy waarvan Bolhuis gebruik maak het gesien dat daar beweging aan die buitekant van die huis is en het die erf gefynkam vir tekens van ʼn inbraak. Hulle kon egter geen tekens van ʼn inbraak sien nie.

Volgens Bolhuis kan ʼn veiligheidsmaatskappy se stelsel dit nie optel dat ʼn ogie toegeplak is nie, mits elke ogie individueel ondersoek word.

“Die boewe het dus baie slim gewerk. Toe die sekuriteit daar weg is sonder om iets te kry, het die klouterdiewe geweet dat hulle rustig een na die ander item [uit die stoorkamer] kan dra,” sê hy.

Die inbraak is eers die Maandagoggend ontdek toe die bediende nie die agterdeur, wat deur die asblikke versper is, kon oopmaak nie.

Kort voor die inbraak is instandhoudingswerk aan die huis gedoen, maar die span werkers het reeds die Donderdag voor die inbraak teruggekeer na Gauteng. Hy het egter ook ʼn buitekontrakteur in dieselfde week in diens geneem.

Bolhuis het intussen ʼn saak by die polisie in Kameeldrift, waar hy woonagtig is, aanhangig gemaak. Die saak sal na verwagting na die polisiestasie in Plettenbergbaai oorgeplaas word vir verdere ondersoek.

Volgens Bolhuis is hy reeds op die spoor van die vermeende baasbrein agter die diefstal en is hy tans besig met ʼn intensiewe ondersoek na soortgelyke voorvalle.

Hy beplan ook nou om sy veiligheidstelsel by die vakansiehuis op te skerp en onder meer kringtelevisie en spreiligte wat slegs aangaan wanneer daar beweging is – eerder as ligte wat voortdurend aan bly – te laat installeer.

Die speurder sê ná dié ervaring wil hy mense wat veral aan die kus bly waarsku om waaksaam te wees en steeds daadwerklike stappe te doen om hul eiendom teen inbrake te beskerm.

“Gaan kyk elke aand na jou alarmstelsel se ogies want diewe en rowers plak dit toe sodat dit nie enige beweging kan optel nie.

“Moet ook nie enigiets buite laat staan wat bo-op mekaar gestapel kan word nie. Dit is nou hier wat elektriese omheining of lemmetjiesdraad nuttig is om inbrake te voorkom,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Samuel ·

Diewe hou jy nêrens uit nie. Hulle is jou altyd een voor.

Johann ·

Stoute Klouteraar…jy beter maar terug bring wat jy mee weg is, want as die oom eers agter jou aan is………..

Hendrik ·

….kan jy weet jy het weggekom. Ek weet nie van enige sake wat hy al opgelos het nie.

Duck ·

Miskien moet jy eerste begin kyk na die mense wat jy in diens geneem het om jou huis op te knap.
Nou glad nie ‘n speurder nie maar dit maar 100% sin
sal jou my rekening stuur as ek reg is

Burt ·

“Hulle het by die buitemuur opgeklim en die ogie [van die alarmstelsel] geïdentifiseer en met kleeflint toegeplak,” sê hy. Really? geen-twee-in-eenlyn-stelsel nie? Hoop hy kan ten minste die een oplos

Chris dupreez ·

Daai ogie moes toegeplak gewees het toe die alarmstelsel af was. So , dit is so maklik om te weet dit moet die ouens wees wat daar werk.

Hein ·

So gaan dit hier in Plettenbergbaai. Meer inbrake en misdaad as plesier. Cctv wat offsite record is ‘n moet hier

Tanniepetoors ·

Vir so ‘n “top privaatspeurder” klink die sekuriteitstelsel maar redelik amateuragtig.

Shakespeare ·

Ek glo baie mense het geld verniet en mahala geskenk vir sy Plet huis. Ek self het ‘n R5000 skenking gemaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.