Knysna-brande: Talle verskil van verslag

knysna-brande-morne-jonker

Van die lugfoto’s van ‘n smeulende rookkolom wat op 22 April in die omgewing van die Karatararivier geneem is. Foto: Morné Jonker/Facebook.

Was die Knysna-brande te wyte aan ʼn natuurlike oorsaak, was dit dalk ʼn braaivleisvuur of suiwer sabotasie, of is dit maar net alles toevallig?

Morné Jonker, ʼn boer van die Herold-gebied noord van die Outeniekwaberge, is oortuig weerlig was die oorsaak van die brande wat op 7 Junie verwoesting in die Knysna-gebied begin saai het.

Jonker het gesê hy stem nie saam met die gevolgtrekking van die Knysna-munisipaliteit se ondersoekspan dat menslike aktiwiteit die oorsaak van die brande was nie.

Clinton Manual, hoof van Knysna-brandweer wat die ondersoek gelei het, het Maandag by die dorp se stadsraad ʼn verslag oor sy bevindinge bekendgemaak. Volgens die verslag is daar duidelike bewyse dat die brand ontstaan het nadat mense vuur gemaak het. Die bewyse sluit dennebolle, wat waarskynlik gebruik is as aanstekers, en planke wat op mekaar gestapel is in. Die verwoestende vlamme is verder aangevuur deur sterk winde, die knellende droogte in die streek, topografie en plantegroei.

Jonker het Dinsdag foto’s op Facebook geplaas van ʼn smeulende rookkolom in die inheemse woude wat hy op 22 April in die Karatararivier geneem het. “Ek is ʼn passievolle vlieënier wat gereeld ook lugfoto’s neem. Die rookkolomme aan die oostekant van die rivier het my opgeval, want dit was die eerste keer dat ek so iets in die inheemse woud gesien het.”

Volgens Jonker het verskeie boere van die Elandskraal-omgewing die smeulende onderbos by die brandweer aangemeld, maar die owerhede het toe gesê die omgewing is só ontoeganklik dat hulle dit nie kan bereik om nadere ondersoek in te stel nie.

“Volgens die munisipaliteit het die brand ook op ʼn bepaalde punt ontstaan wat ʼn hele ent weg is van waar ek die foto geneem het,” het Jonker gesê.

Hy was ook verbaas dat die munisipaliteit in sy eie verslag na weerlig in die omgewing verwys het, maar dit nie self verder ondersoek het nie.

“Ek dink daar moet net soveel vrae gevra word oor wat nie in die verslag gesê word nie, as wat wel bevind is. Dit is vir my vreemd dat die owerhede reken die ontstaan van die vuur was te wyte aan menslike aktiwiteite, maar vroeër gesê het die terrein was so ontoeganklik dat mense nie eens daar kon uitkom vir ʼn inspeksie nie.”

Maroela Media het ook op 9 Junie berig dat dr. Wallace Vosloo, ʼn ingenieur van Stellenbosch wat vir Eskom werk, op 29 April ʼn video met ʼn hommeltuig van die smeulende onderbos in die Elandskraal-omgewing geneem het.

Vosloo het ook sy eie verslag saamgestel met behulp van weerligdata, satellietfoto’s en weerdata van die outomatiese weerstasie op sy plaas. Hy het ook tot die gevolgtrekking gekom dat weerlig ʼn brand in die inheemse woud veroorsaak het. Hy het destyds aan Maroela Media bevestig dat hy nie gemene spel of brandstigting vermoed nie.

Volgens Anton du Plessis, nog ʼn inwoner van Elandskraal wat destyds met Maroela Media oor die ontstaan van die brande gesels het, kan iets soos ʼn enkele weerligstraal of ʼn stukkie glas wat sonlig weerkaats die onderbos laat vlam vat. “Die onderbos in ʼn woud kan lank lê en smeul. Hierdie smeulende kompos kan die wortelstelsel van die bome in kole omskep en ʼn sterk wind kan dit weer vinnig laat vlam vat.”

knysna-brande-dr-david-klatzow-afriforum

Dr. David Klatzow tydens die ondersoek van die Knysna-brande. Foto: AfriForum.

Intussen is die burgerregte-organisasie AfriForum Donderdagmiddag in ʼn gesprek met Helen Zille, die premier van die Wes-Kaap, waar die organisasie sy verslag deur dr. David Klatzow, ʼn forensiese wetenskaplike, bespreek.

Reint Dykema, woordvoerder van AfriForum, het aan Maroela Media bevestig hulle bevindinge verskil van dié van die Knysna-munisipaliteit. “Die Klatzow-verslag toon byvoorbeeld aan dat die westelike brand ʼn ander oorspring het as wat die Knysna-munisipaliteit in sy verslag aanvoer.”

Volgens Dykema sal die inhoud van Klatzow se verslag by ʼn mediakonferensie in Kloofsig, Centurion, bekendgemaak word. Die konferensie sal regstreeks uitgesaai word. “Ons het nog nie op ʼn datum vir die konferensie besluit nie; dit sal alles afhang van wat uit AfriForum se samespreking met Zille spruit,” het Dykema gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Henry ·

Nou wil jy nou meer.

Hoe toevallig dat twee van die mees verwoestende van 26 (!) afsonderlike brande op 7 Junie, min of meer dieselfde tyd begin brand het!!!

Die Elandskraal ene wat grootliks vir die verwoesting van huise in Knysna verantwoordelik is, het volgens sommige ondersoekers weens ‘n weerligstraal iewers in April begin.

Die Kruisfontein vuur wat net-net aan die Oostekant van Knysna, dieselfde tyd as die Elandskraal een, ongeveer 20 km Weswaarts (soos die kraai vlieg) begin het, het tot by Plettenbergbaai verwoesting veroorsaak. Of hierdie een ook deur die weerlig iewers gedurende April veroorsaak is, weet ek nie. Sal maar nog sien…

Hoe ookal. Hierdie is nie ‘n stukkie fopnuus nie. Ek het beide brande eerstehands tydens die beginstadium gesien, beleef en uiteindelik tot die bittereinde geveg om my huis teen die vlamme van my buurman se brandende huis te beskerm.

Soos al my pelle in ons verwoeste dorp, volg ons al die slimmerds se verklarings met ‘n houtoog. Sal maar sien…

:-)

Blondie ·

En wat van die brande by PE??!! Is dit ook deur weerlig begin??

popeye ·

Soos ek voorheen gese het: as dennebolle en stapels hout aangedra was om vuur te maak deur armoedige bos slapers, dan het armoede ‘n prys wat ons almal betaal…onthou die kostes van kort termyn versekeraars gaan jou en my in Gauteng en al die provinsies raak!
Indien die skade deur weerlig veroorsaak is, dan gaan jy en ek armer raak want die verliese deur die kort termyn versekeraars gaan jou en my raak in Gauteng en al die provinsies.
As dit opsetlike brandstigting was, gaan ons armer raak want die kort termyn versekeraars het groot verliese gely. Die twee grootstes: meer as 100 Biljoen! Hierdie verlies gaan oor die algemeen aan ons almal wat versekering het deurgegee word! Dis dit of bankrotskap; hierdie maatskappye kry nie lewensboeie van die staat soos SAA nie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.