Koebaai beurtkrag by Kaapstad-biblioteke

(Argieffoto: Jamie Taylor/Unsplash)

Kaapstad se biblioteek- en inligtingsdiens het ʼn rits ingrypings ingestel om seker te maak dat hulle soveel as moontlik dienste kan aanbied tydens beurtkrag.

Nuwe tegnologie word boonop by meer stadsbiblioteke ingespan.

Patricia van der Ross, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdiens, sê die stadsraad het ononderbroke kragtoevoer (UPS)-eenhede ontplooi om IT-infrastruktuur te beskerm.

“Dié eenhede sal boonop netwerkdienste moontlik maak tydens beurtkrag. Teen die einde van die 2023/24- finansiële jaar sal 68 biblioteke met dié UPS-eenhede toegerus wees en Wi-Fi-toegang bied tydens beurtkrag.”

Van der Ross sê hulle wil toegang tot opvoedkundige en ontspanningshulpbronne moontlik maak en om besoekers deurlopend aan die internet verbind te hou, beteken dat dié doelwit bereik word. “Dit gaan nie net oor ononderbroke kragtoevoer nie, maar dit help ook leerders om met hul navorsing voort te gaan en om toegang tot geleenthede te bied vir ons besoekers.”

Die biblioteke het ook sy uitleen-voordele hersien om beter toegang tot inligting te verseker. Die uitleenperiode vir alle formate, insluitend boeke, CD’s en DVD’s (uitgesluit studiemateriaal wat ʼn hoë aanvraag het) is nou twee weke (dit was vroeër een maand). Die uitleenperiode vir DVD’s is verleng van twee dae na twee weke.

“Hierdie verandering beteken dat gebruikers hul DVD’s rustiger kan kyk sonder die druk dat hulle moontlik boetes opgelê kan word of die moeite om items binne ʼn kort tydperk terug te gee.”

Die hoeveelheid items wat besoekers kan uitleen is ook aangepas om gelyke toegang te verseker vir alle hulpbronne te alle tye. Dié wysiging beteken dat materiaal vinniger kan sirkuleer.

(Foto verskaf deur Kaapstad-stadsraad)

Bykomende inisiatiewe sluit in:

  • Toegang tot die biblioteek se bestuursagtewarestelsel. Elke biblioteek het ʼn skootrekenaar ontvang wat personeel in staat stel om materiaal in- en uit te teken tydens kragonderbrekings, aanlyn of vanlyn waar UPS-eenhede aangeskakel is.
  • Die Wi-Fi-voetspoor van biblioteke word stelselmatig uitgebrei, met 90 uit 102 fasiliteite wat nou toegang tot aanlyn dienste kan verskaf aan besoekers. Teen 2024/25 sal al 102 fasiliteite toegang tot Wi-Fi kan aanbied.
  • Tabletrekenaars word opgestel en aan biblioteke versprei. Altesaam 32 biblioteke het tans elkeen vyf tabletrekenaars. Opvoedkundige apps en e-boeke is op dié toestelle geïnstalleer en verskaf ondersteuning in die ontwikkeling van noodsaaklike geletterdheid en digitale geletterdheid.

“Biblioteke verskaf toegang tot ʼn groot verskeidenheid van inligting en hulpbronne. Ons stel besoekers in staat om nie net te alle tye verbind te bly nie, maar help ook ons jonger besoekers om meer vaardig te raak in die digitale en tegnologieruimte,” sê Van der Ross.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.