Komitee hoor oor ‘viktimisasie’ by OB se kantoor

Adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Die uitvoerende bestuurder van ondersoeke in die kantoor van die Openbare Beskermer (OB) het Woensdag getuig dat adv. Busisiwe Mkhwebane onmoontlike sperdatums aan haar gestel het en haar tydens ’n familiekrisis geviktimiseer het.

Ponatshego Mogaladi het Woensdag voor die parlement se artikel 194-komitee, wat belas is met die proses oor die moontlike verwydering van Mkhwebane as OB, getuig dat Mkhwebane haar in 2018 met dissiplinêre stappe gedreig het nadat sy versuim het om verskeie verslagsperdatums na te kom.

Mogaladi hou egter vol dié sperdatums was nie haalbaar weens haar werkslading nie en boonop gestel dae ná die dood van ʼn nabye familielid.

“Ek het destyds die OB gebel om haar in kennis te stel dat ek na Polokwane sal moet reis omdat my niggie op Sondag 13 April 2018 inmekaargesak het en die dokters die aand ʼn dringende operasie moes uitvoer.”

Mogaladi sê Mkhwebane was aanvanklik ondersteunend toe die familielid kort daarna oorlede is. Mkhwebane het egter glo ʼn dag ná haar familielid se dood daarop aangedring dat sy ses uitstaande verslae moet lewer óf dissiplinêre stappe moet verwag.

Die OB het glo later ook die destydse waarnemende bedryfshoof Nthoriseng Motsitsi opdrag gegee om dissiplinêre stappe teen Mogaladi te doen nadat sy ʼn sperdatum in November 2018 nie gehaal het nie. Die OB was glo nie bereid om enige verduidelikings aan te hoor oor redes waarom die sperdatum nie gehaal kon word nie.

Mogaladi glo nou die wyse waarop sy aan dissiplinêre prosesse by die OB se kantoor onderwerp is, kom neer op viktimisasie.

Sy het voorts aangevoer dat sy met haar aanstelling in die spreekwoordelike diepkant ingegooi is en nie genoeg tyd gegun is om haar werksverpligtinge na te kom nie.

Mogaladi het voor die komitee getuig dat sy nie die geleentheid en tyd gegun is om haar van die ekstra werkslading te vergewis nie. Sy het gesê dat sy haar op haar derde werksdag by ’n nuwe OB-tak in ʼn situasie bevind het waar sy reeds e-posse ontvang het oor uitstaande kennisgewings en verslae.

Daar is egter aan haar gesê dat dié kennisgewings en verslae reeds lankal agterstallig was, selfs voordat Mogaladi by die tak oorgeneem het en dat die OB dit wou hê.

’n Kennisgewing is in Januarie 2020 op Mogaladi beteken om ʼn dissiplinêre verhoor die daaropvolgende maand by te woon. Die verhoor is egter destyds uitgestel en sy het later herformuleerde aanklagte ontvang. Mogaladi is eindelik skuldig bevind op vier van ses aanklagte.

Die betrokke voorsitter van die dissiplinêre verhoor het aanbeveel dat sy vir ʼn tydperk van drie maande sonder betaling geskors word sowel as ’n finale geskrewe waarskuwing moes ontvang. Die OB het nie hiermee saamgestem nie en Mogaladi moes motiveer waarom sy nie eerder ontslaan moet word nie.

Mogaladi sal Donderdag voor die komitee gekruisondervra word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

marius ·

Staatsamtenarre wat dink hulle is konings en onaantasbaar .

annie ·

Hoeveel bewyse is nog nodig? Andersins sou dit beteken dat net Madam die waarheid praat en die hof nederige om verskoning vra en met kniebuigings agteruit uit die hofsaal stap.

henndrik ·

Hierdie klink vir my soos baie aanstellings in senior posisies by die staat – Ponatshego Mogaladi was verseker nie bevoeg om die werk te doen waarvoor sy aangestel is nie maar dit is ‘n wonderwerk dat sy daarvoor aangekla en verhoor is, dit gebeur selde. Ek wil glad nie hiermee se dat Adv. Busisiwe Mkhwebane bekwaam was nie.

Oosieoos ·

Bose vrou maar dis nie die einde daar is nog baie. Dis wanneer onbevoegde mense ander onbevoegdes aanstel. Die aanstellers moet ook vervolg word

domheks ·

Kan die ding dit nie in haar kop kry dat sy ‘useless’ is nie? Net soos mpofieee

Nie Verbaas ·

En so begin die kaders mekaar opvreet. Weereens net weer n bewys wat mag in die hande van n onbevoegde aan mense doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.