Komitee veroordeel aanval op toeriste

Tafelberg Nasionale Park in Kaapstad. (Foto: Table Mountain Watch via Facebook)

Die parlementêre portefeuljekomitee oor toersime het die onlangse aanvalle op toeriste ten sterkste veroordeel.

In die jongste voorval is ʼn 44-jarige toeris Saterdagoggend in die Tafelberg Nasionale Park in Kaapstad vermoor.

Die toeris is met ʼn skerp voorwerp doodgesteek voordat die verdagtes met sy rugsak met sy persoonlike besittings daarin gevlug het. Maroela Media het vroeër berig ʼn 25-jarige verdagte is reeds in verband met die voorval aangekeer.

Net minder as twee weke gelede is die personeel en gaste by die luukse Mount Nelson-hotel in die Moederstad deur ʼn groep van 15 mans oorval, aangehou en beroof. Die aanvallers het ook die vertoonvensters in die portaal van die hotel met groot hamers stukkend geslaan en juwele gebuit en kontant uit ʼn kasregister geneem.

Die portefeuljekomitee het sy medelye met die Oekraïnse toeris se familie betuig en ʼn beroep op wetstoepassingsagentskappe gedoen om nog vermeende betrokkenes so gou moontlik aan te keer.

Die komitee het ook onderneem om alles moontlik te doen om te verseker dat sulke “gruwelike misdade teen toeriste nie herhaal word nie”.

Die komitee het Sanparke bedank wat reeds 55 wildbewaarders ontplooi het om die Tafelberg Nasionale Park te patrolleer. Hy het ook gevra vir gekoördineerde samewerking tussen die polisie en Sanparke om sigbaarheid in parke te verhoog.

“Ons het tydens ons interaksie met inkomende toeroperateurs, asook Suid-Afrikaanse Toerisme – wat ons bemarkingsarm is – gesien dat persepsies oor misdaad in Suid-Afrikaanse ʼn negatiewe uitwerking op toerisme het.

“Dít het weer ʼn negatiewe uitwerking op die sosio-ekonomiese voordele van die sektor, veral toerisme se bedrae tot die bruto binnelandse produk, werkskepping en uiteindelik ook armoedeverligting.”

Die komitee sê hy gaan met alle betrokkenes, insluitend die polisie, toerismeowerhede en die bestuur van groot toeristeaantreklikhede vergader om die pad vorentoe uit te stippel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

James ·

Julle veroordeel en polisie monitor .

Dus jy is op jou eie as jy hier is!!

CHAPPIES ·

Misdadigers,verkragters,moordenaars en geweldadige protesters,word mos BESKERM en GOEDgepraat deur die regering?

Hettie ·

Lyk of almal die woorde uit n boek lees! Ons veroordeel …………..! Die mense wie se geliefdes in SA vermoor word gee nie ‘n hel om of jy veroordeel of nie . Die regering moet wakker word !

Andrea ·

My suster bedryf haar gastehuis in n pragtige deel van die land. Sy kry baie oorseese gaste. Sy waarsku hul baie ernstig oor hoe gevaarlik dit in SA is ten spyte van die mooi broodjies wat deur die regering gebak word. Sy sê hulle kan dit nie verstaan nie, en sê gereeld v haar dit kan nie so erg wees nie. Die land is mos nie in n burgeroorlog gewikkel nie, dus bestaan strukture soos bv die polisie/wet en orde mos. Terwyl strukture in plek is, behoort misdadigers gevang te word. Hulle sê dit kan mos nie wees dat ons tussen moordenaars wat altyd oploer is, leef nie. Hulle het geen idee van hoe ons regtig hier leef nie.

Clipper ·

Ek wens daar was ook so baie teenkanting in die parlement teen plaas moorde wat net so ‘n groot effek op die land het

Denise ·

WAT Ñ GRAP!!!!
Siestog!!
Wat maak TOERISTE nou meer spesiaal as die ander burgers en belastingbetalers van Sa,hmmm…ANC regering???

Anoniem ·

Rerig? Vat dit nou ‘n komitee om tot daardie “diep” slotsom te kom?

Nick ·

Hoop toerisme val plat in hierdie vieslike land met st vieslike nasies!!

Pop ·

ANC moet liewer meer konsentreer om die skurke in hierdie land uit te roei in stede daarvan om met grondhervorming te karring. Grond gaan nie die moordbende uitroei nie.

Iens ·

Niks help nou nie… die man is vermoor en sy vrou en kinders moet op n vliegtuig huus toe
.. sonder hom.

Hanna Hoekom ·

Wat van die gruwelike misdade teenoor ons boere? Of tel hulle nie? Hoop die buiteland skrik wakker en vermy hierdie hool van n land.

Droë Perske ·

Mense, kom by. Die owerhede is nie hier om ons te beskerm teen misdaad nie. Bewapen jouself, kry die nodige opleiding, berei jou geestelik voor dat jy ferm en beslis sal optree as jy aangeval word, en gaan aan met jou lewe. Weier om in vrees te lewe. Weier om jou lewensgenietinge in te boet. Weier om ‘n slagoffer te wees. Besef jy is op jouself aangewese. Besef jy is jou eie “first responder”. Besef jou veiligheid is jou eie verantwoordelikheid. Probeer dit, dit wérk.

Nic ·

Veroordeel. Nou hoe gaan dit help. Die land is reeds onregeerbaar, want die huidige regering het nie die vermoeë om iets te doen nie.

Anton ·

Die pad vorentoe is opgekap en dit wat oor is lei na n afgrond. Die land is in beheer van boewe en die polisie meesal skurke. Justisie is n politieke vleuel van die boewery waar woorde meer tel as lewens.
Verder beweeg en leef die onskuldige mense wat nog oor is soos sand tussen n klippe in n bottel deur die daaglikse lewe en se “Ja wel, pasop vir die klippe”

Susna ·

Meeste van die buitelandse lande waarsku voornemende besoekers aan Suid Afrika teen die misdaad in die land. Diegene wat wel aan Afrika besoek wil afle word aangeraai om eerder Botswana as n opsie te oorweeg. Ek het familie in Frankryk en hulle het agv die waarskuwing verkies om in Botswana tuis te gaan en ons het hulle daar gaan sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.