Kommer, kritiek oor lening by Wêreldbank

Die Wêreldbank se hoofkantoor in Washington D.C. (Foto: Eric Barada /AFP)

Die Suid-Afrikaanse Federasie vir Vakbonde (Saftu) en die DA het Suid-Afrika se lening van R7,6 miljard ($480 miljoen) by die Wêreldbank gekap, maar minstens een ekonoom sê in die breër prentjie is die lening nie veel om oor opgewonde te raak nie.

Die lening is toegestaan op versoek van die Suid-Afrikaanse regering om sy entstofverkrygingskontrakte te finansier. Dit sal nou terugwerkend gebruik word om die 47 miljoen dosisse Covid-19-entstof wat die land gekoop het, te betaal.

Die Wêreldbank en die nasionale tesourie het vroeër in ʼn gesamentlike verklaring gesê die lening gaan die regering “help om die fiskale ruimte te skep wat nodig is om sy gesondheidsorgstelsel te versterk en gaan finansiële en institusionele volhoubaarheid verseker”.

Zwelinzima Vavi, algemene sekretaris van Saftu, sê die organisasie verwerp die lening omdat dit die land se “ekonomiese soewereiniteit bedreig” en nie burgers van die land gaan baat nie.

“Indien die Wêreldbank bekommerd is om die fiskale ruimte te skep wat benodig is om nie net die gesondheidsorgstelsel te versterk nie, maar alle ander departemente wat basiese dienste aan mense lewer, moet hy aan Suid-Afrika en ander lande die geld om hul Covid-19-noodplanne te steun as subsidies en nie lenings gee nie,” sê Vavi.

Volgens die nasionale tesourie vorm die lening deel van die regering se pogings om die koste van sy skuld te verminder deur goedkoper bronne van finansiering te gebruik.

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het onlangs sy kommer te kenne gegee oor Suid-Afrika se stygende skuldlas en het nie nog ʼn lening aan die Suid-Afrikaanse regering toegestaan nie.

Dr. Dion George, die DA se woordvoerder oor finansies, sê die rol van die Wêreldbank is om armoede te verminder deur geld aan die regerings van sy armer lede te leen sodat hul ekonomieë en die lewensgehalte van hul mense verbeter kan word. Dit is ook gewoonlik die laaste plek waar daar om hulp aangeklop word.

George sê die Wêreldbank-lening is ʼn duidelike aanduiding dat dit al hoe moeiliker word vir Suid-Afrika om geld te leen, terwyl al hoe meer vrae ontstaan oor die volhoubaarheid daarvan en die land se vermoë om die skuld terug te betaal.

“Die ANC-regering se lening by die Wêreldbank is nog ʼn aanduiding dat Suid-Afrika se geld opgeraak het en dat hy hardwerkende belastingbetalers in ʼn al hoe dieper skuldgat laat beland, wat dienslewering aan die kwesbaarste lede van die gemeenskap wegkalwe.”

Rente-terugbetalings op skuld sal die fiskus sowat R1 biljoen (trillion) oor die volgende drie jaar kos en vir elke R5 wat in belasting ingesamel word, word R1 bestee om skuld te diens.

Dion sê die DA wil by Enoch Godongwana, minister van finansies, weet wat die bepalings vir die terugbetaling van die lening is.

“Die Wêreldbank-lening is tekenend van die groeiende desperaatheid om ʼn toenemend onvolhoubare finansiële situasie te finansier.”

Dawie Roodt, direkteur en hoofekonoom van die Efficient Groep, meen egter nie die lening is ʼn kwessie om oor slapelose nagte te hê nie.

“Dit is ʼn klompie geld, maar in die breër prentjie is dit nie vreeslik baie nie. Ek dink in hierdie geval gaan die geld in ʼn pot beland en vir besteding in die algemeen gebruik word, wat nie noodwendig verkeerd is nie,” sê hy.

Die geld word in dollar geleen. Dit beteken dit eindig by die Reserwebank waar dit in rand omgeskakel en aan die staat beskikbaar gestel word, met die regering wat besluit hoe dit bestee moet word.

Die regering kan besluit om die dollars te gebruik om Covid-19-benodigdhede in te voer, of hy kan sekere Covid-19-uitgawes wat reeds aangegaan is, finansier.

Roodt sê Suid-Afrika leen op dié manier teen ʼn laer rentekoers – wat die lening goedkoper maak – maar waarsku dat indien die rand beduidend verswak, dit die lening weer duurder sal maak.

Hy sê ook Suid-Afrika se buitelandse skuld is betreklik laag en algehele buitelandse lenings beloop naastenby 10% van die staat se uitstaande leningsrekeninge.

“Ek is nie bekommerd nie, dit is nie ʼn groot kwessie nie,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Vettiemaragartos ·

Die Wêreldbank en die nasionale tesourie het vroeër in ʼn gesamentlike verklaring gesê die lening gaan die regering “help om die fiskale ruimte te skep wat nodig is om sy gesondheidsorgstelsel te versterk en gaan finansiële en institusionele volhoubaarheid verseker”.

Wat ‘n grap!!!! Dink die mense moet op ‘n vliegtuig klim en kom kyk hoe lyk die staat se klinieke en hospitale!

Jacoba ·

Neee, nie op vliegtuig. Hul moet padlangs kom dat hul self kan sien hoe vodde is ons paaie en morsig die dorpe.

VaalDonkie ·

Gister praat hulle die lening is veronderstel om te betaal vir laasjaar en 2020 se COVID-gifstowwe

annie ·

Hierdie is ‘n groot jok oor die ware rede vir die lening. Wie is in elke geval die base van die nuwe covid-labs so ná die pes klaar oor is en wie het die virusentstofinvoere beding? Die ANC speel gevaarlike speletjies. Skryf CR die handleiding?

Marius ·

So word daar miljarde, nogal op skuld, gemors aan ‘n klug spul. Praat van vrugtelose besteding.

marius ·

Daar sal nie ‘n sent aan die mense spandeer word nie . Daar sal ook nie ‘n sent terug betaal word nie . Dan sak hulle toe op die laaste bietjie steenkool wat hier oor is . Van ‘n paradys na ‘n riool plaas in 30 jaar .

Waarnemer ·

350 milj van die 7.6 miljard gaan kuba toe en die res word verdeel in cr en sy kaders se gatsakke.

Johann101 ·

Roodt vir wie ek groot gesprek het… gaan en maak die stelling dat die lening ons nie slapelose nagte hoef te gee nie…
WAT?… HOEVEEL WORD HY BETAAL OM DIT TE SÊ?…
Ook volgens hom is ons buitelandse skuld betreklik laag!…
Nee regtig hy het ook nou ‘n regerings puppy geword… en saam dit, weg is my respek vir hom…

Andre ·

En hoeveel skenkings het die regering al van buitelandse instansies gekry juis agv covid? En waar is dit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.