Kommer ontstaan opnuut oor Jhb-skole se belasting

skool-skoolbank-klaskamer-deltaworks.jpg

Argieffoto (Foto:
Deltaworks/Pixabay)

Dit lyk asof buitensporige belastingverhogings moontlik weer Johannesburgse skole se voorland kan wees.

Dít nadat die hooggeregshof in Johannesburg net vroeër vanjaar die optrede van die Johannesburg-metro om die eiendomskategorie van onderwysinstellings af weg te neem (wat buitensporige belastingverhogings vir skole sou inhou) ongrondwetlik verklaar het.

AfriForum sê dié optrede het op die 2022-’23- finansiële jaar betrekking gehad. Dit blyk nou dat die metro ’n soortgelyke proses vir 2023-’24 in die vooruitsig stel.

AfriForum het daarom kommentaar daarteen ingedien as deel van die metro se openbare deelnameproses oor beleid en tariewe. Die burgerregteorganisasie vereis in dié kommentaar dat onderwysinstellings as ’n eiendomskategorie gehou word.

“Indien die metro suksesvol is met die verandering sal openbare skole as eiendom vir openbare diens gekategoriseer word, en onafhanklike skole as onderneming en kommersiële eiendomme. Dit sal veroorsaak dat ’n openbare skool met ’n waarde van R100 miljoen se eiendomsbelasting verhoog van R18 900 per maand tot ongeveer R113 400. ’n Onafhanklike skool met dieselfde waarde se belasting sal verhoog tot ongeveer R190 000 per maand,” verduidelik Morné Mostert, AfriForum se bestuurder vir plaaslike regeringsake.

Mostert sê hierdie optrede van die metro is kommerwekkend.

“Die Johannesburg-metro behoort die belangrikheid van skole raak te sien, te bewaar en te bevorder in plaas daarvan om hulself deur skole te probeer fianansier. Hierdie optrede is kenmerkend van ’n desperate staat, wat bereid is om enigiets te probeer om geld te verkry omdat hul finansiële bestuur veel te wense laat.”

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, sê AfriForum wil gehalte-onderrig bevorder. “Dit sluit in dat onderwysinstellings teen uitbuiting deur munisipale owerhede beskerm word. Skole verkeer tans onder groot druk. Openbare skole kry beperkte finansiële hulp van die staat en privaat instellings is noodsaaklik omdat die staat nie voldoende infrastruktuur kan voorsien om aan die aanvraag te voldoen nie.

“Om skole aan meer finansiële druk te onderwerp, sal daartoe lei dat sommige moet sluit en ander aan onderwysdienste moet besnoei, wat die gehalte van hul onderrig in die gedrang sal bring. Dit is beslis in niemand se belang nie en dus moet hierdie herkategorisering en heffings teengestaan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

annie ·

Onkunde is vervang met gierigheid: Waar kan ons nog tap. Diegene in die bestuur eis net groter salarisse en kry hulle sin. Die armes word armer. Ouers wat nie skoolgeld kan bekostig nie sal hul kinders uit skole onttrek. Ons dog onderrig en ontwikkeling is vooropgestel vir die ANC.

Fontein Tannie ·

Ons sal wrintie op straat sit met een stel klere aan en blikkie skud en die regering sal n manier kry om die blikkie te belas…

Andre ·

Ons moet onthou, die anc hou nie van slim kinders nie en sal enige iets gebruik om te keer dat kinders slim word, selfs om belasting so te verhoog dat skole moet sluit.

john ·

Hulle sal eenig iets in hulle vermoe doen om die standaard van onderwys te verlaag, n ongeletterde bevolking kan beheer word

domheks ·

Hoekom moet ouers nog skoolgeld betaal? Alles is dan verniet. Hulle voorsien tot kos aan skole. As dit goed is vir die een moet dit mos goed wees vir die ander een ook. Staak onmiddelik alle skool gelde. Julle word verplig om jou kind skool toe te stuur – dan moet dit mos GRATIS vir almal te wees! ! ! !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.