Kommer oor geld stuit ‘werkersaktivisme’

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Kate Sade/Unsplash)

Wêreldwyd is werknemers minder geneig om stem dik te maak oor vermeende onregte by die werk omdat hulle bekommerd is oor die moontlike uitwerking daarvan op hulle geldsake, het ʼn nuwe studie bevind. Sakelui is egter oortuig daarvan dat dié neiging nie lank gaan duur nie.

Die maatskappy Herbert Smith Freehills het onlangs ʼn verslag bekend gemaak wat die toekoms van die werkplek ondersoek. Altesame 500 besluitnemers by groot ondernemings wêreldwyd het aan die studie deelgeneem.

Dit wys dat voortgesette ekonomiese angs en vinnige digitale transformasie in baie werkplekke ʼn vrees by werknemers gekweek het dat hulle hul werk kan verloor. Die ekonomiese druk wat tans beleef word, het ook werkers se prioriteite verander en werkgewers se gedrag beïnvloed.

“Dit lyk asof finansiële bekommernisse die vloei van werknemeraktivisme gestuit het,” sê Emma Rohsler, vennoot en streekhoof van Herbert Smith Freehills se indiensnemingspraktyk.

Luidens die bevindinge is 81% van werkgewers oortuig daarvan dat die lewenskostekrisis, inflasie en die bedreiging van ʼn resessie, die vooruitsigte van aktivisme verminder het.

“Dit is egter heeltemal moontlik dat dieselfde ekonomiese druk wat werkers twee keer laat dink voordat hulle teen werkgewers optree, die katalisator sal wees wat later hoër vlakke van werknemerontevredenheid veroorsaak,” sê Rohsler.

“Dit beteken werkgewers moet ʼn balans vind tussen dit wat reg is vir hulle onderneming en hul werknemers, sonder om reëls te laat vaar of aan die eise van uiteenlopende groepe binne die arbeidsmag te voldoen.”

Werkgewers het in die studie aangedui dat enigiets, insluitend aktivisme, wat uitgestel word bloot tydelik is, daarom verwag 59% van werkgewers dat werkers in die toekoms weer in opstand sal kom teen vermeende onregte by die werk.

Werkgewers verwag dat toekomstige aktivisme gedryf sal word deur dieselfde finansiële druk wat dit tans stilmaak. Ongeveer die helfte van die respondente (47%) glo die lewenskostekrisis sal aktivisme aanwakker en byna net soveel (40%) vermoed dit sal voortspruit uit verskille in vergoeding en voordele.

Die studie het egter daarop gewys dat werkgewers tans maniere ondersoek om werknemers se werkvoorkeure te beïnvloed deur verskillende dryfvere daar te stel.

Byna die helfte (47%) van respondente verwag dat afstandwerk ʼn voorreg sal word wat volg op vertroue wat ʼn werkgewer in ʼn werknemer stel, en byna net soveel (43%) het planne om die vergoeding vir werkers wat van die huis af werk teenoor diegene wat op kantoor is in die volgende 3 tot 5 jaar van mekaar te onderskei.

Hoewel werknemeraktivisme tans daal, wys die verslag daarop dat werkgewers onder druk is om beter werkomgewings vir hul werkers te verseker.

Driekwart van die respondente sê dat werknemers meer ondersteuning vir hul gesondheid eis, terwyl ʼn soortgelyke proporsie (74%) aanvoer dat werk wat ʼn sin van doelgerigtheid het, noodsaaklik is vir werknemerswelstand. Teen hierdie agtergrond moedig 62% van werkgewers hul werknemers aan om gereelde breuke te neem, 49% gee werknemers die “reg om af te skakel” buite werksure en 37% bied toegang tot berading aan.

Rohsler sê dit is egter ook duidelik dat verskillende generasies in dieselfde werkmag dit moeilik maak vir werkgewers om almal tevrede te stel.

“Die navorsing toon byvoorbeeld dat 46% van werkgewers saamstem dat die toetrede van generasie Z tot die arbeidsmag die risiko van werknemeraktivisme verhoog,” sê sy.

“Terselfdertyd voer meer as die helfte van die respondente aan dat verskille in oortuigings en waardes tussen generasies dit moeilik maak vir werkgewers om aan verwagtinge oor welstandskwessies te voldoen.”

Volgens Rohsler blyk meer bewustheid oor die belang van geestesgesondheid een van die pandemie se blywende nalatenskappe te wees.

“Welstandsinisiatiewe is nie sonder risiko nie omdat dit wat in een land as die norm beskou word, dalk nie geredelik in ʼn ander beskikbaar is nie. Die moontlikheid dat ʼn goedbedoelde daad aktivisme onder werknemers kan laat opvlam, kan dus nie uitgesluit word nie.”

  • Lees die volledige verslag hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nommer 7 ·

In SA is die werkgewers in die gasvryheids bedryf die grootste oortreders van onregte. Meeste het o.a. geen vaste werksure, geen oortyd, geen rusperiodes na 5 ure en geen bykomende vergoeding vir Sondae en vakansie dae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.