Kommer oor verhongerde diere op De Aar

Inwoners sien om na een van die diere.

WAARSKUWING: Dié berig bevat foto’s wat sommige lesers kan ontstel. 

De Aar se belastingbetalersvereniging borg tans ʼn inspekteur van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV). Kevin Khumalo help inwoners met die steeds groeiende probleem van losloper-plaasdiere op die dorp en paaie in die omgewing.

Die verhongerde diere is weens die knellende droogte op soek na weiding en water.

Die NDBV se woordvoerder, Meg Wilson, het bevestig twee perde moes van kant gemaak word nadat die diere in haglike omstandighede in die aangrensende Britstown aangetref is.  Britstown val soos De Aar ook onder die Emthanjeni-munisipaliteit.

Gerhard Engelbrecht, voorsitter van De Aar se belastingbetalersvereniging, het aan Maroela Media gesê die gemeenskap is hewig ontsteld omdat die diere onder meer die dorp se rioolwater drink.

Die karkas van ‘n bees word uit ‘n straat verwyder.

“Die donkies loop in die hoofstraat en vreet uit die asdromme en vullissakke,” sê Engelbrecht.

Hy het ook ʼn klag by die polisie aanhangig gemaak nadat ʼn trop beeste met kalfies vyf dae lank sonder kos of water op ʼn leë erf op die dorp gelaat is.

Kort nadat hy die diere bevry het, het die diere se eienaar hulle op dieselfde perseel toegemaak. ʼn Koei en ʼn kalf het ʼn dag later daar gevrek.

Engelbrecht sê hy het ʼn week later op nóg ʼn koei en ʼn jong bul afgekom wat dood in die dorp gelê het.

Hy het daarna die NDBV se hulp ingeroep. Engelbrecht beweer die plaaslike owerheid dwing nie munisipale verordeninge af nie en daag nie vir vergaderings op waar die probleem bespreek word nie.

Die vrylopende diere veroorsaak ook ‘n gevaar op paaie.

Ontstoke inwoners sê die opkomende boere neem nie verantwoordelikheid vir hulle diere nie en die polisie, asook die staatsdepartemente wat boere moet bystaan, voer nie hulle mandaat uit nie.

“Daar word eenvoudig nie opgetree nie,” beweer hulle.

Die diere loop los op die R48 en N10, die hoofweë wat verby De Aar loop, en hou ʼn gevaar vir motoriste in.

Verskeie diere is die afgelope ruk dood.

Die dorp se verkeershoof, Allan Boucher, sê die loslopende diere is ʼn landwye probleem omdat grensdrade gesteel word, net so vinnig as wat dit opgesit of vervang word.

De Aar het ook nie ʼn skut nie en diere wat in die dorp wei, word in ʼn kamp ingejaag tot hulle eienaars dit kom haal. “Maar die meeste is kort daarna terug in die dorp weens die gebrek aan grensdrade en weiding.”

Inspekteur Khumalo was sedert die begin van die week op De Aar waar hy samesprekings met die bevelvoerder van die polisie, kol. Jennie Christie, gevoer het.

Hy het ook met die munisipale bestuurder, Izak Visser, vergader. Visser moet teen Vrydag ʼn volledige verslag aan die NDBV voorlê oor hoe daar voortaan opgetree gaan word ten opsigte van rondloper- en verwaarloosde diere in die munisipale gebied.

Khumalo is intussen ook deur inwoners van ander omliggende dorpe om hulp genader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

P ·

Dit is vir my so aardig dat mense diere WIL hê en dan eenvoudig die diere laat honger ly. Het dit al persoonlik beleef is hartverskeurend om dit te aanskou, veral die mens se beste vriend honde kry die swaarste. Die arme diere kry hulle so jammer????????

SjN ·

Dit is waar al die siektes en peste onder diere begin, word nooit doseer nie, kom dan in aanraking met ander by bv veilings ens, daar moet wet wees dat indien jy nie geregistreerde brandmerk eienaar is met nodige infrastruktuur jy nie by magte is om diere aan te hou nie, dit sal diefstal ook beperk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.