Kommer, woede oor plasings in Gautengse skole

Die Noorgesig Primary School in Soweto wat onlangs voltooi is. (Foto: GDE)

“Hoe naby moet jy aan ʼn skool woon om ʼn plasing vir jou kind te kry?” is die vraag van ʼn moedelose Gautengse ouer oor die plasing van haar gr. 8-dogter vir volgende jaar.

Mmatshethla Matjila woon en werk in Pretoria-Noord en het onsuksesvol by Hoërskool Gerrit Maritz, Hoërskool Akasia en Hoërskool Amandasig vir plasing aansoek gedoen – almal parallelmediumskole binne trefafstand van haar huis en werk. Sy woon sowat ʼn kilometer van die naaste hoërskool in haar buurt, maar haar dogter is nietemin by ʼn skool in die weste van die stad geplaas.

“Ek het ʼn antwoord gekry dat die skool vol is. Ek het aanlyn beswaar gemaak en dit is van die hand gewys. Ek het nou ook geappelleer en die besluit is nog hangende,” sê Matjila.

“Ons moet hierdie tyd van die jaar begin skoolklere koop. Terwyl ander kinders feesvier oor hul plasings, vra ons kinders hoekom kan hulle nie ook nie. Dit is geweldig stresvol – vir ons en vir hulle.”

Matjila sê sy weet van verskeie ander ouers wat in dieselfde penarie sit. Hulle het die departement tot dusver individueel genader om ʼn oplossing te probeer vind, maar oorweeg nou om as ʼn groep saam te werk om die departement te dwing om in te gryp.

“Hulle moet tog ons frustrasie sien? Ons het begrip dat Pretoria-Noord geweldig groot is en dat daar ʼn reusebehoefte aan nog skole is.”

Luidens syfers van die departement van basiese onderwys was daar verlede jaar altesame 2 564 812 leerders in 2 941 openbare en private skole in Gauteng. Hiervan was 225 162 leerders in gr. 1 en 205 435 leerders in gr. 8 – dié leerders wat die Gautengse onderwysdepartement ingevolge sy sentrale aanlynstelsel besig is om te plaas.

Dié syfers hou net aan groei, hoewel die getal skole in die provinsie steier om by te hou.

Sy het geen beswaar teen die skool waar haar dogter geplaas is nie, sê Matjila; sy het wel ʼn probleem met wáár die skool geleë is waar haar dogter geplaas is en die geweldige logistieke uitdagings wat dit gaan veroorsaak.

“Die departement moet oop kaarte met ouers speel oor skole waar daar nog plek beskikbaar is, sodat ouers ʼn ingeligte besluit oor plasings kan neem.”

Benetta van Biljon het ʼn soortgelyke probleem. Haar seun Wian (13) is aanvanklik by Hoërskool Dinamika in Alberton geplaas – waar daar vir hom aansoek gedoen is – maar Van Biljon begin binnekort met ʼn nuwe werk in Kempton Park en Wian moet nou daar skoolgaan.

Van Biljon sê dit was tot dusver ʼn haas onbegonne taak om die plasingsaansoek te wysig.

“Ek moet my kind by ʼn skool ingeskryf kry en ek wil graag hê hy moet uit die staanspoor by die skool se bedrywighede betrokke wees.

“Ek moet skoolklere en boeke koop. Wat koop ek? Dit is ʼn reuseprobleem.

Sy sê die skool sluit amper. “Wanneer gaan hulle hom plaas?”

Van Biljon het Hoërskool Kempton Park direk genader om navraag te doen oor ʼn plasing en die skool het haar na die departement verwys. Sy sê navrae – op e-pos en telefonies – aan die departement bly egter onbeantwoord.

“Ek kan mos nie die enigste ouer wees wie se omstandighede die afgelope ruk verander het nie. Ek weet nie meer watter kant toe nie en my stresvlakke is iets verskriklik. Skryf ek hom nié in nie, oortree ek die wet.”

(Argieffoto: Elaine Krige)

Volgens die departement word leerders wat nie by hul voorkeurskole geplaas kon word nie, van 17 Oktober tot 30 November deur die departement geplaas. Van 1 tot 15 Desember word onvolledige aansoeke verwerk en laat aansoeke kom van 20 Desember tot 20 Januarie aan die beurt. In laasgenoemde fase kan ouers aansoek doen by skole waar daar nog plekke beskikbaar is.

Die Gautengse onderwysdepartement sal na verwagting Sondag die jongste plasingsgetalle bekend maak en het navrae oor die situasie tot dan uitgestel.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), stel voor dat die departement die stelsel oopmaak sodat skole self plasings kan afhandel. “Wanneer skole dit self hanteer, gaan dit baie beter,” sê sy.

Buys sê daar is beslis bepaalde uitdagings in sekere sogenaamde hoëdrukomgewings, terwyl wanfunksionele skole verdere druk op presterende skole plaas.

Buys sê die departement moes lankal begin het om byvoorbeeld meer tydelike klasse aan skole in hoëdrukgebiede te lewer, en moet die gebruik staak om sekere skole te teiken om al hoe meer leerders in te neem, selfs al het die skool lankal reeds kapasiteit bereik.

“Die departement moet skole se kapasiteit respekteer. Dit is ʼn gevaarlike situasie as hy dit nie doen nie, en die skool, kinders en gemeenskap word daardeur blootgestel.”

Sy sê in Gauteng is die probleem nie noodwendig toegang tot skole nie, maar toegang tot skole waar goeie onderwys die leerders ʼn kans op ʼn suksesvolle skoolloopbaan bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Antie Sarie ·

In Capital park word leerders aangery met honderde taxis. Asook die engelse hoërskool in Centurion. Hoërskool Langenhoven se parkeer area lyk soos n taxi staanplek in die oggende en middae. MAW, nie een van daardie leerders bly in die omgewing waar hul skoolgaan nie. Die wat wel in die omgewing woon, moet maar by ander skole heenkome soek.

Republikein in die Wes Kaap ·

Eintlik maar anargie. Net soos in Amerika sal eiendomspryse deur skole beïnvloed word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.