Koperdief moet tien jaar sit

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Unsplash)

’n Koperkabeldief is vandeesweek tot tien jaar direkte tronkstraf gevonnis nadat hy verlede maand daaraan skuldig bevind is dat hy noodsaaklike infrastruktuur beskadig het.

Luidens ’n verklaring deur die Johannesburgse kragvoorsiener City Power, is die skuldige in Junie verlede jaar in hegtenis geneem nadat die polisie hom betrap het waar hy koperkabels in die omgewing van die FNB-stadion in Johannesburg opgrawe. Die veroordeelde se naam is nie in dié verklaring bekend gemaak nie.

City Power het die skuldigbevinding en vonnis verwelkom en sê dat dit ʼn “sterk boodskap” aan ander misdadigers stuur wat elektrisiteitsinfrastruktuur beskadig en besteel.

“Die saak is deeglik deur die SAPD ondersoek en suksesvol deur die Nasionale Vervolgingsgesag vervolg. Regdeur die ondersoek en vervolgingsproses het sekerheidskenners van City Power die nodige ondersteuning verskaf, onder meer deur identifisering, skadebepalingsverklarings en getuienis gedurende hofverrigtinge.”

Die finale uitspraak is op 25 Mei gelewer.

“As ’n entiteit wat met ongebreidelde kabeldiefstal gekonfronteer word, is City Power tevrede die uitspraak.

“Ons glo dat ons die oorlog teen kabeldiefstal sal wen en dat ons gesamentlike sekerheidstrategieë met onder andere die gemeenskap, buurtwagte en wetstoepassingsagentskappe, begin vrugte afwerp.”

City Power sê voorts dat hul sekerheidsbestuurspan onder leiding van Sergeant Thela, hoofbestuurder van sekuriteitsrisikobestuur, onverpoos saam met doelgerigte infrastruktuurtaakspanne werk om kabeldiefstal te beveg en vervolging te verseker. Verskeie taakspanne is vroeër deur lt.genl. Elias Mawela, Gautengse polisiekommissaris, saamgestel om dié misdade in die provinsie hok te slaan.

“Die stryd om noodsaaklike elektrisiteitsinfrastruktuur teen misdadigers te beveilig, vereis ’n multidimensionele benadering en gemeenskapsbetrokkenheid,” het Thela bygevoeg.

“Georganiseerde misdadigers is by dié diefstal betrokke. Deur vennootskappe kan ons dié misdadigers, asook die meesterbreine, met groter toewyding vervolg.”

City Power doen voorts ʼn beroep op gemeenskappe om kabeldiefstal en die beskadiging van kraginfrastruktuur by hul hulplyn aan te meld: 011 490 7900/ 7911/ 7553. ʼn WhatsApp-boodskap kan ook na 0835794497 gestuur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Waarnemer ·

Koper diefstal sal nie gekeer word alvorens die regering die skrootmetaalhandelaars verbied om enige vorm van koper aan te koop nie.Die prys van koper is do hoog dat werklkses meer verdien daarmee as sommige salaris trekkers.STOP DIE AANKOOP VAN KOPER BY SKROOTMETAAL HANDELAARS.

Kobus ·

Stel voor die staat gee hom afslag indien hy die koper / s se besonderhede verskaf. Dit is waar die probleem lê. Pionne sit vir misdrywe maar die ” kingpin” lag lekker

Chris dupreez ·

Die skade en ongerief wat hulle veroorsaak is 10 jaar die helfde te min.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.