Krag na dele van Kaapstad herstel

Die brand wat dele van Kaapstad in die donker gelaat het.  (Foto: Geordin Hill-Lewis/Twitter)

Krag na verskeie dele van Kaapstad is teen Dinsdagmiddag herstel, nadat die brand van hoogspanningkabels inwoners sedert Maandagaand sonder elektrisiteit gelaat het.

Krag is reeds na Woodstock, Vredehoek, Tuine, Tamboerskloof, Distrik Ses en die oostelike dele van die middestad herstel.

“Daar is egter steeds dele van die Atlantiese kusstrook en die middestad wat sonder krag is en ons spanne werk onverpoos om die krag so gou as moontlik deur die Tafelbaai-substasie te herstel,” het die Stad in ʼn verklaring gesê.

Luidens die verklaring het werkers van die stad deurnag gewerk om te verseker dat die kragtoevoer onmiddellik herstel word.

Die oorsaak van die kragonderbreking is intussen geïdentifiseer as grootskaalse skade aan een van Eskom se hooftoevoerkabels. Dit het tot gevolg gehad dat al die kabels wat krag aan area 7 verskaf, onklaar geraak het.

Die stad verwag dat alle kragtoevoer teen vanaand herstel sal wees.

Inwoners is aangemoedig om elektriese toestelle liefs af te skakel. Verkeersreëlaars is intussen by groot kruisings ontplooi om die vloei van die verkeer te vergemaklik.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.