Krieketlegende Mike Procter oorlede

Mike Procter (Foto: Facebook)

Mike Procter, Suid-Afrika se voormalige nasionale krieketafrigter, is Saterdag in die ouderdom van 77 oorlede.

“Hy het tydens ʼn operasie ʼn komplikasie opgedoen, bewusteloos geraak en nooit weer wakker geword nie,” het sy vrou, Maryna Procter, aan AFP gesê.

Procter het voorverlede week komplikasies tydens ʼn roetine-operasie ervaar. “Terwyl hy in die waakeenheid herstel het, het hy hartprobleme ervaar,” het sy gesin vroeër gesê. Procter is in ʼn hospitaal naby sy tuisdorp, die kusstad Durban, behandel.

Procter se internasionale loopbaan is in 1970 kortgeknip toe Suid-Afrika van wêreldkrieket uitgesluit is weens die beleid van die apartheidsregering. Voor die verbod het Suid-Afrika ses van die sewe toetse waarin Procter gespeel het, almal teen Australië, gewen.

Hy het egter geweier om bitter te voel omdat hy van ʼn lang toetsloopbaan ontneem is. “Baie mense het baie meer verloor in daardie jare, en as ons ʼn rol gespeel het om ʼn onregverdige stelsel te verander deur ʼn toetsloopbaan te mis, dan is dit goed vir my.”

Hy was hoofsaaklik bekend as ʼn vreesaanjaende snelbouler en het 41 paaltjies teen ʼn gemiddeld van 15,02 lopies in sy sewe toetse geneem. Maar hy was ook ʼn flambojante kolwer en het ʼn wêreldkolfrekord geëwenaar toe hy ses honderdtalle in opeenvolgende beurte geslaan het.

Nadat Suid-Afrika ʼn demokrasie geword het en na internasionale krieket teruggekeer het, het Procter die afrigter van die Suid-Afrikaanse span geword en hulle na die halfeindronde van die 1992-Krieketwêreldbeker gelei.

Procter het vir 16 jaar eersterangse krieket gespeel, waaronder 14 seisoene saam met die Engelse graafskap Gloucestershire, vyf daarvan as kaptein, waar hy legendariese status behaal het.

David Graveney, ʼn voormalige Gloucestershire-spanmaat van Procter, het gesê die Suid-Afrikaner “was ʼn fantastiese speler en heeltemal tereg beskou as een van die beste veelsydige spelers wat Gloucestershire nog verteenwoordig het”.

“Hy was net een van die bestes saam met wie ek ooit gespeel het. Die frase ‘Proctershire’ was baie gepas vir Mike. Hy het die grootste vertonings in die grootste wedstryde gelewer.”

Plaaslik het hy die meeste van sy krieket vir die destydse Natal (nou KwaZulu-Natal) gespeel. Hy het in sy loopbaan 21 082 lopies in eersterangse krieket teen ʼn gemiddeld van 36,92 aangeteken, 47 honderdtalle geslaan en 1 357 paaltjies teen ʼn gemiddeld van 19,07 lopies geneem.

Procter laat sy vrou en twee kinders agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.