‘Laat dít wat jy geleer het, voortleef’

Christine en Basson en Lindie Strydom. (Foto: Facebook)

Lindie Strydom, sakevrou, motiveringspreker en voormalige aktrise, lewer ʼn roerende huldeblyk aan die aktrise Christine Basson wat verlede week dood is. Basson was waarskynlik die beste bekend vir haar vertolking van Nora in die destydse TV-sepie Egoli.

Maroela Media publiseer dié huldeblyk met toestemming.

Vir my is die beste manier om iemand te onthou deur dit wat jy by hulle geleer het, te laat voortleef.

Ek was maar 18 jaar oud en vars uit die skoolbanke toe ek in Januarie 1997 as Karin Schoeman, die plaasmeisie van Okahandja, Namibië, in Egoli begin het. Soos my karakter het ek ook die eerste ruk by ʼn tannie loseer. Ek was ver van my mense en beskermde ouerhuis in Port Elizabeth en ek het net ʼn maandkontrak gehad om te kyk of Karin tuis sou wees in Tannie Nora se Brixton-huis. Christine Basson was die een wat hierdie jongetjie wat hulle sommer so van die straat af gevat het sonder enige dramaopleiding of ervaring, onder haar vlerk geneem het om daar by haar kombuistafel te leer wat geen geld of kwalifikasie kan koop nie.

Vir haar het dit nooit saak gemaak watter papiere geraam was teen jou muur of watter rolle al vir jou naam gemaak het nie, want ons was almal gelyke vennote wat mekaar nodig het en vertrou om die boodskap oor te dra. By haar het ek geleer hoe jy met alles van jouself ʼn saak en span groter as jouself dien om ʼn storie wat nodig is met geloofwaardigheid te kan vertel.

Ek het toneelspeel leer ken as ʼn wisselwerking van heen-en-weer se “give and take”. Kon nogal ooreenkomste sien met ʼn sport soos tennis waarvoor ek ook nie die beste vaardighede of voetwerk gehad het om my teenstander mee te wen nie, maar ek het geweet as ek selfs net ʼn raket op die bal kon kry wat met soveel krag na my toe geslaan is, kon ek met ʼn eenvoudige refleks sorg dat ek die bal ten minste oor die net terugstuur. Hoe beter my opponent gespeel het, hoe beter het my eie terughoue gelyk. Dalk was dit wat die regisseurs met die frase “speel van mekaar af” bedoel het.

Ek onthou ʼn spesifieke dag en teksaanwysing wat vir my as jong aktrise ʼn groot uitdaging sou stel: “Karin ruk van die huil – as aktrise kan.” Ek het self nie geweet of ek kan nie, maar Christine het haarself in haar rol as Tannie Nora geheel en al gegee om my as’t ware tot by daai punt te begelei. Sy kon met ʼn hand op my skouer of ʼn kyk tot in my binneste ʼn nerwe aanraak wat die rouste emosies na vore sou bring. Ek het nie trane gaan soek of forseer nie. Ek het bloot gereageer op die eerlikheid van die oomblik wat Christine geskep het.

Van my heel eerste tot laaste toneel saam met Christine oor ʼn tydperk van 12 jaar is elke liewe een met dieselfde deeglikheid en afronding aangepak. Elke “prop” en beweging is voor die tyd ingeoefen en waar sommiges sou roem op hul vermoë om “hom te vat soos hy kom” het Christine se dissipline ʼn diepte gebring vir nog ʼn laag subteks wat so maklik verlore kon gaan in die worsmasjien van net nog ʼn dag en nog ʼn toneel. Haar voorbeeld van voorbereiding was die fondasie vir my loopbaan en ek glo grotendeels die rede hoekom ʼn maandkontrak 12 maande en uiteindelik 12 jaar geword het. ʼn Indiensopleiding nie net vir drama of toneelspeel nie, maar vir die harde werk wat ʼn mens altyd bo laat uitkom in die lewe.

Ek hoop ek het gesê en gedoen wat ek kon in die tyd wat ek met haar gedeel het. En mag ek nou dit wat ek by haar geleer het laat voortleef – in hoe ek die “klein mense” behandel en laat voel, hoe ek altyd diensbaar bly aan ʼn saak, span en storie groter as myself terwyl ek die klein takies enduit met deeglikheid aanpak en myself gee om iemand anders uit homself uit te roep om te wees wie hy of sy kan wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

???? leser ·

pragtig, basson en strydom, basson vir haar welgedane rol in egoli, strydom wat saam met haar was en nog steeds pragtig is
ek salueer jul alby
dankie lindie

Strand looper ·

Pragtig gestel mens kan sien dit kom uit jou hart. Ons almal koester mooi herineringe.

Blommie ·

Pragtige huldeblyk Lindie!!! Jy maak Port Elizabeth trots voel en veral jou alma mater, Hoērskool Framesby!!

willem Botha ·

Eerste keer in n lang tyd dat ek n artikel lees wat mooi en positief is en iets waarmee ek kan vereenselwig.

JAN ·

Kosbare konsep wysheid.
Leer die kinders om nie dieselfde foute te maak as hul ouers / geliefdes nie. Leer deur jou ouers se foute en koester hul mooiheid. Want niemand is perfek nie.
Haat is die afwesigheid van liefde…
hmm?
wel Einstein het Die Dywil so beskryf.
Dankie die mooi artikel.

Johan van Drimmelen ·

In jou moedertaal kan jy tweemaal so vinnig, teen helfte die prys, jou kundigheid en vaardigheid aanleer !! (En ‘daarna’ sommer nog n ander internasionale taal ook). Dit geld vir almal, en dit het niks met kleur te doen nie.

Stephan de S ·

Sjoe, wat n pragtige , gevoelvolle huldeblyk……dit was opbouend om dit te lees……..en wat n pragtige foto van hul twee saam.

VanAfrika ·

Ou tannie Christine het net soos my oorlede ouma gelyk, hulle kon susters gewees het, toe sy in Bosveld winkel gespeel het en ek haar daar die eerste keer ervaar het, sê ek vir my sussies, “haai sy lyk net soos ouma” en elke keer as ek n foto’s van haar sien of op Egoli, sien ek my ouma. Dankie Lindie vir die pad “down memory lane”, dit sal altyd gekoester word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.