Laer werkloosheidskoers verwelkom, maar …

(Argieffoto: Facebook)

Die effense daling in Suid-Afrika se werkloosheidsyfer is wyd verwelkom, maar daar heers nietemin kommer dat die effense daling nie op lang termyn volhoubaar sal wees nie.

Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) het Dinsdag bekend gemaak dat die werkloosheidsyfer in die eerste kwartaal van 2022 met 0,8% gedaal het. Dit staan nou op 34,5%.

Prof. Raymond Parsons, ʼn ekonoom aan die Noordwes-Universiteit se bestuurskool, sê die effense daling is ʼn welkome neiging, aangesien dit kom ná ʼn lang tydperk van aanhoudende verswakking in Suid-Afrika se indiensnemingsvlakke.

“Dit is egter nog nie duidelik of die jongste verbetering in die komende maande volgehou sal word nie, veral gegewe die hernieude negatiewe ekonomiese tendense wêreldwyd en op eie bodem in die tweede kwartaal van 2022,” sê hy.

“Die risiko is nou dat hierdie faktore nog ʼn speek in die wiel kan wees om werksverliese te herstel.”

Suid-Afrika is een van die lande met die hoogste werkloosheidsyfer ter wêreld en politieke partye soos ActionSA en die DA meen die land moet ʼn nuwe ekonomiese rigting inslaan indien hy hierdie situasie wil omkeer.

Dr. Michael Cardo, die DA se woordvoerder oor arbeid en indiensneming, sê die jongste werkloosheidsyfer onderstreep die behoefte aan vars ekonomiese denke.

“Tot die regering begin om die moeilike besluite te neem om ons ekonomiese agteruitgang stop te sit – soos die hervorming van die rigiede arbeidsmark en die afskaffing van raswetgewing – sal Suid-Afrika aanhou om toenemende werksverliese te ervaar,” sê Cardo.

“Die private sektor kan werksgeleenthede op groot skaal skep en veral lede van die bevolking wat oorwegend ongeskoold is, in diens neem. Hierdie potensiaal moet dus dringend ontsluit word.”

ActionSA sê daar is verskeie sleutelingrypings wat Suid-Afrika se ekonomie weer lewensvatbaar kan maak.

Die party voer aan dat die land se arbeidswette verslap moet word sodat dit makliker is om Suid-Afrikaners in diens te neem. Wetgewing wat ekonomiese belegging uit die buiteland pootjie, moet hersien word.

“ʼn Geloofwaardige en samehangende strategie vir Suid-Afrika se ekonomie sal alle belanghebbendes sekerheid oor die rigting van die land gee,” sê Herman Mashaba, leier van ActionSA.

Hy het bygevoeg dat die staatsdiens dringend op ʼn professionele vlak geplaas moet word.

“Ongeag wie die nasionale verkiesing wen, moet Suid-Afrikaners daarop kan reken dat professionele mense in die staatsdiens aangestel word op grond van hul vermoëns, en nie gegrond op hul politieke lojaliteit nie.”

StatsSA het vroeër gesê dat 370 000 nuwe poste in die eerste kwartaal van 2022 geskep is, maar dat daar nietemin werksverliese in ʼn aantal sleutelbedrywe was.

Die hoogste amptelike werkloosheidsyfer (35,3%) sedert die aanvang van StatsSA se peiling in 2008 is verlede jaar gedurende die laaste kwartaal van die jaar aangeteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

annie ·

Die ANC se vars ekonomiese denke dra reeds ‘n klankie. Noudat niks meer op papier geskryf staan nie is die waarde van woorde nog minder werd. Vra eerder hoekom word die positiewe leuen verkondig. Binnekort gaan die sensus ook ‘n positiewe tendens toon… Op, op, op naar bowe!

Hannes ·

Daar sal altyd ‘n “maar…” wees waar die ANC betrokke is. Verneuk die mense maar as dit by die stembus kom dan wen hulle weer met lof.

Hennie ·

Werkskepping is net ‘n klein deel van die oplossing. Daar moet DRINGENDER as ooit, pogings aangewend word om bevolkings aanwas te verminder! Die goed gee hase kompetisie, of daar werk is of nie. Dit is die nr 1 rede hoekom “our people” arm is en arm sal bly.

Frannie ·

Ek is dan seker een van die gelukkiges wat deel is van die 0,8% wat werk gekry het hierdie jaar, maar my salaris is so min dat ek nog steeds sukkel om kop bo water te kry. Ek het byna niks meer in my huis wat ek kan verkoop nie. Ek weet nie wat ek gaan doen volgende maand nie. Ek werk my boude af vir ‘n boelie van ‘n bestuurder wat die bietjie “dignity” wat ek oor gehad het verder af breek, omdat sy weet hoe desperaat ek is. Ek is besig om in ‘n pateet te verander.

Marius ·

Dit lyk nog steeds sleg. Meer as ‘n derde van ons land se bevolking sit sonder werk.

Watsenaam ·

Wel, dit het tyd geword dat die huidige onheilige alliansie geluk gewens moet word. Hulle het bereik wat hulle van die begin af gese het , naamlik:
Bring alle mense op dieselfd armoedige vlak sodat hulle net kan doen soos ons se. Vernietig die infrastruktuur. Vernietig die gesondheids stelsel. Breek die mense se morele waardes. Vernietig die ekonomie, Maak die land bangkrot. Maak alles wat werk en reg is ongedaan. Julle moet saam stem dat hulle dit reggekry het. Dus baie geluk ons dapper regering.

Roebs ·

Skep werk, hou op met BEE, gee mense wat hul toekom. Hou op om probleme in ander lande op te los en werk aan ons eie land se probleme. Mense lei honger omdat geld wegraak, tenders wil mense gegee word wat nie die werk kan doen nie, en dan die geld laat wegraak. Dis tyd dat die RSA weer ‘n plek word waarop mense kan trots wees.

Renier johannes ·

Met die petrol prys gaan hy weer hoor word die werkloosheid

Pieter9 ·

Ontleed die statistiek, bv. baie werk is geskep d.m.v. die sensus opname. Wanneer dit verby is keer daardie weer terug na werkloos – sal wys in die laaste kwartaal. Die regering se BEE ontneem die ekonomie van sy organiese groei vermoë en potensiaal. Hierdie regering verstaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.