Lang herstelpad wag op tienerseun ná slangbyt

Wicus het die meeste weefsel aan die bokant van sy hand verloor. Aan die onderkant kan net gesien word hoe geswel dit nog is. Foto: Facebook

ʼn Lang en moeilike herstelpad wag op ʼn tienerseun van Rustenburg in Noordwes nadat ʼn kobra hom einde November gepik het.

Wicus Olivier (13) is gelukkig doodtevrede solank hy Wi-Fi het, vertel sy ma, want hy word steeds in die private hospitaal op sy tuisdorp behandel waar die dokters die wond aan sy hand gedurig aan die bloei hou sodat die gif kan uittrek.

Wicus se ma, Marieta, vertel haar seun het hulle om middernag op Donderdag 29 November kom wakker maak en heel rustig gesê ʼn slang het hom gepik. “Die slang was onder sy kopkussing en het hom twee keer aan sy hand gebyt.”

Sy pa, Danie, het die slang geskiet, terwyl Marieta die hand en arm styf verbind en hulle toe hospitaal toe gejaag het.

Wicus se pa, Danie, het die kobra doodgeskiet kort nadat dit Wicus gepik het. Foto: Facebook

Wicus is ongelukkig allergies vir die teengif. “Die Vrydagoggend is hy in die hoësorgeenheid opgeneem en 15:00 is hy vir die eerste keer teater toe om dooie weefsel weg te sny en drukking weens die swelling te verlig.”

Hy het twee diep snye gekry, een bo-op sy hand en een op die palm en ʼn vakuumpomp is aangesit. Die Maandag is die wonde oopgemaak en was die dooie weefsel aan sy hand duidelik sigbaar.

Die Woensdag is hy weer teater toe om die weefsel te verwyder. “Ná teater laat roep die wondsuster ons en sê die skade is baie meer as wat hulle gedink het,” sê Marieta.

“Al die sagte weefsel van die bokant van sy hand is verwyder en nog van sy palm en duim en onder die vel van sy arm tot so halfpad elmboog toe.”

Wicus en sy gesin, van links: ma Marieta, pa Danie, ouboet Tertius en sy verloofde, Numandi.

Twee dae later is die wond vir die eerste skrop oopgemaak, maar nog weefsel moet verwyder word. Dié prosedure sal waarskynlik Donderdag uitgevoer word, nadat die wond nie Maandag skoongemaak kon word nie omdat die narkotiseur na ʼn noodgeval ontbied is.

Die herstelpad gaan lank en pynlik wees.

Marieta sê hulle weet nog glad nie wanneer Wicus ontslaan sal word nie; trouens, hulle dink nog nie eens daaraan nie. “Die herstelpad gaan lank en pynlik wees. Die wonde moet twee keer per week geskrop word en die vakuummasjien sal nog tot minstens middel Januarie permanent moet opbly.”

Sy vertel Wicus, wat vanjaar in gr. 7 aan die Laerskool Proteapark was, raak maar verveeld van heeldag in die hospitaal moet bly, maar soos enige kind is hy gelukkig solank hy internettoegang op sy foon het. “Sy gemoed is maar heeltyd op en af.”

Gelukkig is hy oud genoeg om te verstaan wat met hom gebeur. “Ons verduidelik vir hom alles en draai nie doekies om nie,” sê Marieta. Sy sê Wicus besef hy sal nie binnekort ontslaan kan word nie en daarna wag nog talle prosedures en arbeidsterapie om te leer om weer sy hand te gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Sandy ·

Glo dit of te nie, ek kyk elke aan voor ek in die bed klim onder my kussing en onder die duvet, en om alles te kroon, voor ek op die troon sit. My persoonlike vrees is meestal vir spinnekoppe (ok en vir slange). Het nog altyd gedink, wat sal mense se as hulle jou dit sien doen, nou is ek bly ek doen dit. Myne is natuurlike heeltemal ongegrond want ek het (touch wood) soos die engelse se, nog nooit op ‘n slang afgekom nie. Ek hoop klein Wicus word sommer gou gesond.

LD ·

@Sandy – ek doen presies dieselfde! In my kinders se beddens word daar ook gekyk voor daar ingeklim word! Ons deure bly permanent toe en vensters wat nie sif voor het nie bly ook helemal toe! Ons bly op n plaas en hier is van die giftigste slange! Swartmamba baie van hulle, pofadders ook baie en onderandere die Mosambiekse Spoegkobra wat baie daarvan hou om in die bed in te klim, ons het al n hele paar hier gekry, gelukkig nog nooit in my huis nie, maar buite baie. Het al paar honde verloor agv slange! Nee wat, ek kyk alles mooi voor ek in die bed klim, op die toilet sit of selfs vuurmaak! Het so week terug n slang gekry, hyt n paar name oa, vine snake, takslang, houtslang en voelslang by die agterdeur. Hy lyk nes n stok wat daar le, doodstil! En hy is highly venomous! En natuurlik soos dit net kan wees in SA, is hier in Limpopo bitter min teengif, en moet mens van die een dorp se hospitaal na die ander dorp se hospitaal jaag voor iemamd jou kan help!

Annatjie Z ·

Sandyek is en was ook soos jy ons het op ‘n plot in Pretoria gebly Kameelfontein, ek het 2 kinders op daardie stadium gehad, ek het ‘n enkelbed aan die eenkant van ons dubbel bed gesit en die kot aan die anderkant van ons bed jy kon letterlik net van die onderkant van die bed in die bed klim. Maar elkke aand en bedags wanneer die kinders sou wou slap het ek alles die matrasse alles om gekeer en gekyk of daar nie ‘n slang was nie, daar was onderandere baie pofaders ook ander soorte. Ons het baie dood gemaak na 3 maande het ek vir my man gese jy kan hier bly of ons trek nou. Nodeloos om tese ek wat altyd in huise gebly het trek vanaf ‘n plot na ‘n stappel woonstel in die dorp dis wat gebeur het. Ek het meenigge slange dood gemaak jammer vir die ouens wat skree”bewarring” slang se kind is ‘n SATAN by my kom jy nie lewendig verby nie. Op die plot was ek elkke oomblik vrees bevange nee dit werk nie vir my nie.

Alle sterkte vir jou seun moed hou en God sal jou die nodige sterkte gee om vas te byt. Mag dit net goed met jou gaan. Onthou God is in beheer van alles by Hom is niks onmoontlik nie. xxxx

SANDRA ·

Ek het net nou die aand amper iemand onthoof omdat daar ‘n spinnekop op my skouer kom sit het. Ek was vir ‘n paar minute stom, imagine as ek ‘n slang van naderby moet leer ken. Dankbaar dat hy wakker geword en sy ma-hulle gaan roep het. Sterk staan sauna.

Nettie ·

@Sandra, hoe slaan jy dan so wild na iemand, as daar ‘n spinnekop op jóú skouer kom sit? Op die keper af beskou ….. ek dink enige slang of spinnekop wat naby my kom, moet maar voorbereid kom met ‘n reënjassie aan – dis nou teen my reaksie as ek daai spinnekop of slang gewaar, jy weet ……….

Potgietersrus ·

Ons kyk ook in die beddens voor ons gaan slaap! So ruk terug is daar n seun Johan Emmenes gepik deur n Mosambiekse spoegkobra in sy bed en hulle bly hier naby ons! Mense kan maar dink wat hulle wil maar as ons kuier mense het dan se ek ook vir hulle kyk maar in die bed voor julle in klim!

Blommie ·

Sterkte vir die herstel pad, dis glad nie lekker nie!
Dankbaar hy het betyds hulp gekry.
Hoop alles werk 100% uit!

Koos ·

Hoekom die slang doodmaak ??
Jy hoef ook nie die slang te identifiseer nie, hospitale gebruik een teengif vir alle giftige slangbyte

Robert ·

Koos: kyk wat jy skryf en kry eers jou kennis voor jy sulke twak bekend maak. Daar is sitotoksiese, neurotoksiese en hemotoksiese gif en die antiserums vir hulle verskil van mekaar. Jy kan die dood van iemand veroorsaak as die persoon deur ‘n slang gebyt is wat neurotoksiese gif bevat en jy spuit antiserum vir sitotoksiese gif in. Nee man kry jou kennis reg en moenie hier probeer dokter speel nie!!

Joe ·

‘Jy sal sy kop verbrysel en hy sal jou aan die hakskeen byt’

LD ·

@Koos – regtig?? die goete sonder voete en die goete met 8 voete lewe ook nie hier by ons nie! Jammer maar die hospitale hier by ons het nie eers teengif nie! Jaag Pietersburg (polokwane) toe dan se hulle nee jammer dis Pretoria toe met die persoon want daar is geen teengif beskikbaar nie! Teen daai tyd is die skade al so groot en met klein kindertjies moontlik al dood! So nee dankie! Hulle word hier doodgemaak, of hy nou iemand pik of nie!

CINDY Fourie ·

Nee Koos jy is verkeerd. Nie EEN teengif vir ALLE giftige slanbyte nie. Gaan doen jou huiswerk. Vir sommige slangbyte bestaan daar nie eens teengif nie – gaan kyk vinesnake.

Nettie ·

@Cindy Fourie: “Thelotornis Capensis: – “twig snake, vine snake”, voëlslang, tak-slang – UITERS GEVAARLIK!!! Hemotoksiese gif, m.a.w. vernietig mens se bloedstollingsfunksie en jy bloei letterlik tot die dood. GEEN TEENGIF beskikbaar nie, Kom voor in die Gauteng, Noord-Wes, Noordelike dele van KZN, Limpopo, Mpumalanga, Zimbabwe, Mosambiek, Botswana en Noordelike dele van Namibië.

@Koos, “imagine” jy dien nou sitotoktiese teengif toe in die geval van ‘n voëlslangbyt, dink jy dit sal werk?

Nettie ·

@LD – ja, maak alle slange (ook nie nie-giftiges) dood …… en oor ‘n paar jaar is jý een van die honderde wat ‘n treurmare lug oor al die rotte, muise en ander plae wat jou buurt oorweldig.

Nee man, laat ‘n slangkenner kom en die slang veilig verwyder. Nie alle slange is giftig vir die mens nie. En slange het binne die eko-sisteem ‘n baie belangrike rol om te speel. Dit is die MENS wat in die SLANG se plek is, nie andersom nie.

Denise ·

Koos lat ek gou in my kristal bal kyk hoekom die pa die slang dood gemaak het ????? Asb hoekom ? dit is sy besluit gewees punt. Sterkte aan die familie!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.