Lasbrief uitgereik vir beweerde vakansie-swendelaar

Francois Swart van Priority Escapes (Foto verskaf deur AfriForum)

Die polisie het ’n lasbrief vir inhegtenisneming uitgereik vir Francois Swart, die besturende direkteur van die reisagentskap Priority Escapes.

Swart het na bewering verskeie voornemende vakansiegangers uit honderdduisende rande geswendel.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig twee klaers wat in Augustus ’n strafregtelike klag teen Swart by die Modimolle-polisiestasie ingedien het.

Die egpaar het die eenheid genader toe hulle nie die ondersoekbeampte se besonderhede gekry het nie en ook nie deur die ondersoekbeampte genader is oor dié saak nie. Die eenheid het aan die stasiebevelvoerder geskryf en kommer uitgespreek dat ’n eenvoudige saak van bedrog glo na die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) verwys is om ondersoek te word.

Volgens adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is hierdie saak eenvoudig. “Die klaers het die totale bedrag aan die verdagte oorbetaal om hul vakansie te reël en hy het dokumente aan hulle gestuur om te bevestig dat die nodige vlieg- en verblyfreëlings getref is. Dié dokumente was egter vervals. Die eenheid se kliënte is na bewering uit meer as R130 000 geswendel,” sê Nel.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het op 7 Desember bevestig dat ’n J50-lasbrief vir arrestasie wel uitgereik is vir Swart.

“Daar word verder verneem dat die klaers se saak wel op stasievlak ondersoek word – waar dit ondersoek behoort te word – en nie deur die Valke nie. Ons hoop dat hierdie saak nou die aandag sal kry wat dit verdien. Dit is belangrik dat die publiek moet eis dat klagtes spoedig afgehandel word sodat die beginsel van ‘geregtigheid vertraag is geregtigheid ontneem’ opnuut in die Strafregstelsel gevestig kan word.”

Enige persoon met inligting oor Swart se bedrywighede word aangemoedig om besonderhede aan die polisie te kommunikeer of dit by die eenheid aan te meld by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.