Lasbrief vir vrou oor R54 miljoen-tender

Die beskuldigdes tydens ‘n vorige verskyning (Foto: NPA/Twitter)

ʼn Lasbrief vir die inhegtenisneming van Avendra Naidoo deur die Pretoriase gespesialiseerde handelsmisdaadhof is Vrydag met onmiddellike effek uitgereik.

Naidoo staan saam met voormalige polisiebeamptes en sakemanne tereg op aanklagte wat verband hou met twee polisietenders wat in 2016 uitgereik is met ʼn totale waarde van meer as R54 miljoen. Die tenders is toegeken aan Brainwave Projects CC en handel dryf as I-View Integrated Systems, wat ook aangekla word.

Naidoo saam met die voormalige waarnemende nasionale polisiekommissaris Johannes Kgomotso Phahlane, lt.kol. Godfrey Mahwayi, genl.maj. Maanda Obert Nemutandzhela, genl.maj. Mankosana Agnes Makhele en die sakemanne Inbanathan Kistiah en Avendra Naidoo staan tereg op aanklag van bedrog, korrupsie, diefstal en oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA).

Volgens Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag se ondersoekdirektoraat (OD), het Naidoo versuim om Vrydag saam met haar medebeskuldigdes in die hof te verskyn.

“Die beskuldigde het 14 dae om by die hof aan te meld. Indien sy versuim om dit te doen, sal haar borgbedrag finaal aan die staat verbeur word,” sê Seboka.

Maroela Media het vroeër berig die polisie se misdaadintelligensie-eenheid het op 21 Desember 2016 sagteware-apparaat en stelsels in ʼn “noodgeval” aangeskaf.

Die sagteware is glo by ʼn maatskappy gekoop wat nie by sagteware-ingenieurswese betrokke is nie, maar wel by sekuriteitsalarms en kringtelevisie. Die eienaars van die sogenaamde mededingende maatskappye was vriende en hulle het saam planne gemaak oor die kwotasie.

Die kwotasie is verskaf aan Inbanathan Kistiah deur die voormalige eggenoot van die alleendirekteur van ʼn maatskappy genaamd Perfect Source, ʼn menslikehulpbronne-maatskappy. Die ander sagteware wat aangeskaf is, was ʼn selfoon-enkripsie-platform genaamd Daedalus.

Die polisie het die proses van stapel gestuur om drie moontlike verskaffers te nooi om vir die tender aansoek te doen, maar een van die verskaffers het gesê sy “kwotasie” was bedrieglik omdat die maatskappy nooit eers ʼn kwotasie ingedien het nie. Twee aanbiedings vir die aanskaffing van sagteware-apparaat is op 21 Desember 2016 ontvang. Een aanbod was om die sagteware te bekom. Twee geskrewe kwotasies is hiervoor ingedien: een van I-View, die maatskappy wat tans aangekla word, en die ander van Perfect-Source (die menslikehulpbronne-maatskappy, nie ʼn ingenieurswese-maatskappy nie). Die eienaar van dié maatskappy was die eksvrou van Naidoo.

Perfect-Source was egter besig om gederegistreer te word. Die ondersoek het onthul dat Naidoo die kwotasie ingedien het, en nie sy vrou nie.

Daar word verder aangevoer dat R33 miljoen aan I-View oorbetaal is en binne ʼn kort rukkie ook R21 miljoen vir Daedalus.

Daedalus is aangeskaf alleenlik om oproepe te enkripteer en selfoonrekords en -boodskappe te verwyder. Daar word aangevoer dat daar afgewyk is van die normale aanskaffingsprosesse vir die kontrakte (dit is dieselfde dag nog onderteken en geprosesseer) en betaling is op 22 Desember gemaak, een dag ná goedkeuring.”

Die beskuldigdes sal weer op 30 Junie in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Eugene ·

Ag shame. Dan moet daar n’ lasbrief ook aan die ramp-phosa regering uitgereik word vir bedrog. Wat die vrou gevat is, is peanuts.

Amelia ·

Sal seker net jaar tronkstraf kry en verder aan gaan asof niks gebeur het nie Die regstelsel is einlik n grap

Roek ·

Hulle kan sommer ook kyk waar JMPD se alarm”s en blou ligte gedoen was ,daar was ook groot probleme !

Shakespeare ·

Aangekla ??? Ons regstelsel is meestal hopeloos onbekwaam en omkoopbaar. PATETIES !!!

Dries ·

Dit gebeur omdat die borg bedrag nie in ooreenstemming is met die bedrog bedrag nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.