Leerder, vriend maak ontvoering glo op

boeie

(Argieffoto: SA Polisie)

’n Leerder (20) en sy vriend (24) is Saterdag in hegtenis geneem nadat hulle die leerder se ontvoering glo opgemaak en losprysgeld van R7 000 geëis het.

Volgens brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, het die leerder Vrydag omstreeks 07:00 sy huis in Lusaka in Dennilton, Limpopo, verlaat om skool toe te gaan. Die skool is sowat drie kilometer van sy huis geleë.

“Die leerder se ma het bekommerd geraak toe hy nie soos gewoonlik betyds teruggekeer het huis toe nie. Sy het ná werk haar man van hul seun se verdwyning in kennis gestel,” sê Mojapelo.

“Die man was verbaas omdat hy verskeie boodskappe van sy seun se selfoonnommer af ontvang het wat aandui dat hy hom moet bel, maar toe hy hom bel, het hy nie geantwoord nie.”

Die seun se klasmaats het aan die leerder se ouers erken dat die leerder nie Vrydag by die skool was nie.

“’n Onbekende persoon het omstreeks 20:15 die familie met die leerder se selfoon gebel en R7 000 geëis. Die persoon het gedreig om die leerder dood te maak indien die geld nie betaal word nie.”

Die saak is by die polisie aangemeld en ’n saak van ontvoering is aanhangig gemaak.

“’n Spesiale span wat die polisie se gyselaarsonderhandelaars ingesluit het, is ontplooi vir deeglike ondersoek en die moontlike inhegtenisneming van die skuldiges. Ondersoeke het aan die lig gebring dat die slagoffer in Tafelkop onder die Motetema-polisiëringsgebied was en die gebied is gefynkam.”

Die verdagte het by die toneel opgedaag en hy het die span gelei na waar die leerder was.

Die leerder is saam met sy medepligtige vir ondervraging geneem. Die twee is in hegtenis geneem nadat hulle beken het dat hulle saamgesweer en die ontvoering versin het om die geld van die familie te eis.

Lt.genl. Thembi Hadebe, die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het die voorval veroordeel.

“Ons ontvang soms verslae van ontvoering en is verplig om onmiddellik op te tree deur hulpbronne te mobiliseer aangesien die veiligheid van slagoffers op die spel kan wees. Vals verslae plaas baie druk op polisiehulpbronne wat gerig kon word om werklike voorvalle van misdaad te hanteer,” het Hadebe gesê.

Die twee verdagtes sal Maandag in die Mdutjana-landdroshof in Siyabuswa verskyn op aanklag van sameswering om bedrog te pleeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Phillip ·

Ek was ook 20 jaar toe ek klaar gemaak het met skool as jy 3 keer gepluk het is jy 20 en wil skool klae maak by gesê

TruthDealer ·

My probleem is nie soveel dat hy op 20 nog probeer om sy matrieksertifikaat te kry nie. Maar n volwasse man behoort darem al te besef hy gaan sy arme ouers deur hel sit deur die bedrogspul. Dis nie asof hy n kleine kind is wat geen benul het hoeveel ouers hulle bekommer nie. Baie baie lelik, wat hy aan sy ouers gedoen het. Skelm ook, natuurlik. Maar meer as dit, lelik en gemeen. Hoe moet hulle voel?

Johann ·

‘n “leerder” van 20? Soos in 20 jaar oud en nog steeds op skool? Belaglik.

Piet 6 ·

Mens moet nie te vinnig praat nie. Toe ek in 1969 in standard 6 was, was die oudste matriek 21. Hy het toe al vir amper 3 jaar met sy eie motor skool toe gery.

Dandeleen ·

Ons hoor jou Piet, maar dit is nie meer 1969 nie bygesê!

George ·

In my matriek jaar 2002 – was daar 4 matrieks van 21/22 en twee st 8s van 18. en ja, boere.

Piet 6 ·

Dandaleen, hoekom was dit toe ok, maar nie nou nie? Dit is hoekom ek sê moet nie te vinnig praat nie, dit gebeur al jare.

MJLS ·

‘n Leerder van 20 jarige ouderdom? Watter graad? As hy sulke planne kon beraam het, kon sy skoolloopbaan lankal voltooi gewees het. Watter straf gaan die 2 bedrieërs kry?

ES ·

Hy is volwasse – kla hom krimineel aan en dagvaar hom vir die totale koste van die onnodige mors van polisiehulpbronne.

TruthDealer ·

“Die SEUN se klasmaats het aan die leerder se ouers erken”…Nee op 20 jaar oud is hy n volwasse MAN. En duidelik n man wat nie veel gevoel vir sy ouers het het nie!

Pretorianooi75 ·

Ja neh!! Slim vang sy baas. Kla beide krimineel aan.

Wildemien ·

Wat ‘n onsamehangende berig. Soos ek lees is daar drie partye betrokke – ‘n “verdagte” wat op die toneel opgedaag het, die leerder en sy medepligtige. Of is die verdagte en die medepligtige dieselfde persoon?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.