Legendariese SA fotojoernalis sterf

‘n Uitstalling van sommige van Peter Magubane se werk. Hy het Maandag in die ouderdom van 91 gesterf. (Foto: Nelson Mandela-stigting)

Peter Magubane, legendariese Suid-Afrikaanse fotojoernalis wat dekades lank die land se geskiedenis deur sy kameralens opgeteken het, is op Nuwejaarsdag in die ouderdom van 91 dood.

Magubane was in ʼn stadium die amptelike fotograaf van wyle oudpres. Nelson Mandela en sy ikoniese foto’s was wêreldwyd bekend.

“Hy was ongelooflik geesdriftig oor sy werk; alles anders sou stop wanneer dit by sy werk gekom het,” het sy dogter Fikile aan die SAUK gesê.

Magubane se familie het geen besonderhede oor die omstandighede rondom sy dood bekend gemaak nie. Volgens Sacef, ʼn vereniging vir joernaliste, het hy “vreedsaam gesterf, omring deur sy familie”.

Magubane het in die fotografielaboratorium van die tydskrif Drum gewerk voordat hy agter die kamera ingeskuif en die alledaagse destydse Suid-Afrikaanse werklikheid – en sleuteloomblikke in die stryd vir gelykheid – gedokumenteer het.

Fotojoernalis dr. Peter Magubane in New York in 2010. (Foto: Stephen Lovekin/Getty Images/AFP)

Hy is in 1969 in hegtenis geneem terwyl hy betogings gedek het voor die tronk waar Winnie Madikizela-Mandela en ander aktiviste aangehou is, en was vir 586 dae in eensame aanhouding. Ná sy vrylating is hy beveel om vir vyf jaar lank op te hou foto’s neem. Hy is in 1971 weer gearresteer en het daarna bly werk terwyl hy die polisie probeer ontduik het.

Tydens die Soweto-opstand van 1976 het hy van die treffendste foto’s van die protes geneem.

Dié foto is waarskynlik een van Peter Magubane, legendariese fotojoernalis, se bekendste werke. (Foto: Dr. Peter Magubane)

“Suid-Afrika het ʼn vryheidsvegter, ʼn meesterlike storieverteller en ʼn lensman verloor… Peter Magubane het die ongeregtigheid van apartheid vreesloos opgeteken,” het Zizi Kodwa, minister van sport, kuns en kultuur, in ʼn huldeblyk op X gesê.

“Peter Magubane, wat apartheid met sy kamera beveg het, het gesterf,” het The New York Times berig.

“Ek wou nie die land verlaat en ʼn ander lewe vind nie,” het hy in 2015 aan The Guardian gesê.

“Ek sou bly en met my kamera as wapen veg. Ek wou egter nie enigiemand doodmaak nie. Ek wou apartheid doodmaak,” het hy destyds gesê.

Magubane het nooit geposeerde foto’s geneem of toestemming gevra om enigiemand af te neem nie, maar “agterna om verskoning gevra indien iemand te na gekom gevoel het”, het hy gesê. “Ek wou die foto hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.