Lesufi se grootse plan om Gauteng te red

Panyaza Lesufi, Gautengse premier. (Foto: Twitter)

Gautengse premier Panyaza Lesufi het in sy provinsiale rede ʼn spoggerige plan ter tafel gelê om misdaad te pak, townships reg te ruk en nuwe skole te bou. Sy planne vir Gautengers sluit in ʼn nuwe staatsbank, e-paniekknoppies vir inwoners en hommeltuie wat uit die lug patrolleer.

Lesufi het Maandagaand sy eerste provinsiale rede gelewer nadat hy in Oktober verlede jaar as premier aangewys is. Hy sê as hy en sy span sy werk doen, sal mense nie bekommerd hoef te wees oor opwekkers of sonkragpanele nie omdat daar genoeg krag sal wees.

“Solank as almal van ons hier, agbare lede, nie openbare skole … openbare hospitale en openbare vervoer gebruik nie, beteken dit ons doen nie ons werk nie,” het die premier in sy rede vermaan.

Misdaad gepak

“Kom ons erken vandag ruiterlik dat ons provinsie die tuiste is van hartelose en genadelose misdadigers. Hulle doen wat hulle wil. Diegene met onwettige vuurwapens speel God. Hulle besluit wie leef en wie sterf.”

Om die misdaadprobleem te stuit, het Lesufi verskeie maatreëls aangekondig.

  • Die misdaadbekampingsbegroting word van R750 miljoen tot “multimiljard oor die volgende drie jaar verhoog”.
  • Van 1 April word woonbuurte, townships, sakegebiede, skole en openbare ruimtes met hoëtegnologie gesig- en voertuigherkenningkamerastelsels toegerus.
  • Inwoners gaan met e-paniekknoppies bewapen word wat met wetstoepassingsowerhede, geslote kringtelevisiestelsels en die geïntegreerde bevelsentrum in verbinding is.
  • Twee nuwe helikopters word in die nuwe boekjaar aangekoop en nóg vier in 2023-’24.
  • Die aankoop van 180 hommeltuie word beplan om moeilik begaanbare gebiede te patrolleer en te polisieer. Dit gaan toegerus word met tegnologie wat die rigting van ʼn koeël kan bepaal en waar dit vandaan kom.
  • 400 nuwe polisievoertuie word van 1 Mei aangekoop.
  • 6 000 mense is gewerf om Gauteng van 1 Mei te polisieer.
  • Samewerking met private maatskappye om gesteelde wapens op te spoor.

ʼn Spesiale eenheid gaan ook gestig word om blouligrowerbendes se tjank af te trap.

Nuwe skole in vooruitsig

“Ons onderwysstelsel is oorbevolk, ʼn situasie wat vererger word deur in-migrasie. Tensy ons iets anders doen, gaan ons onderwysstelsel ineenstort,” het Lesufi, ʼn jarelange voormalige LUR vir onderwys in Gauteng, gesê.

Die premier sê danksy lesse wat uit die plasing van gr. 1- en gr. 8-leerders geleer is, het Gauteng R6 miljard begroot om nuwe skole in hoëdrukgemeenskappe te bou. Die provinsie het ook R1,5 miljard van die nasionale tesourie ontvang om mobiele en asbesklaskamers plat te slaan.

“Binne weke gaan ons die mark nader om voorstelle van private maatskappye te vra om dié skole te bou. Ons gaan nie kompromieë tref oor swart ekonomiese bemagtiging en townshipbevoordeling nie.”

Die getal kinders wat by sentrums vir vroeë kinderontwikkeling in die provinsie geregistreer is, word ook meer en die provinsiale regering gaan nuwe toekomsgedrewe sentrums in verskeie gebiede bekend stel.

“Die sentrums van die toekoms gaan klaskamers hê met binnenshuise plonsswembaddens, inligtingstegnologiesentrums, ʼn waterherwinningsgebied en mini-sportruimte. Kodering en robotika gaan mettertyd by die leerplan ingesluit word om aan die vereistes van die Vierde Nywerheidsrevolusie te voldoen.

Beurtkrag in visier

Die kragkrisis bly een van die grootste hindernisse vir versnelde ekonomiese vooruitgang en Lesufi sê die provinsie probeer self oplossings vind. Gauteng gaan R1,2 miljard hiervoor beskikbaar stel en gaan binnekort ses ontwikkelaars aanwys wat sal begin met die bou van ʼn 800 MW-sonkragplaas in Merafong.

“Dit gaan gevolg word deur die installasie van sonkragpanele op die dakke van staatsgeboue, veral hospitale, klinieke en skole.”

Die provinsie sal met Johannesburg se City Power, Tshwane se Rooiwal-aanleg en die eienaars van die Kelvin-kragsentrale saamwerk om verdere maniere te vind om beurtkrag te beperk.

“Volgende week sal ons begin vra vir voorstelle van alternatiewe energieverskaffers wat kan help met die oplossing van die kragkrisis en die herindustrialisering van Gauteng.”

Staatskapasiteit, plaaslike owerhede

Lesufi sê die provinsiale tesourie is beveel om die inwerkingstelling van ʼn staatsontwikkelingsbank te lei en dat die konsultasieproses hieroor goed vorder.

Daar word ook gekyk na die stigting van ʼn staatsbeheerde farmaseutiese maatskappy wat moet verseker dat geen hospitaal of kliniek in die provinsie ooit weer sonder voorraad sit nie.

Op meer plaaslike vlak, gaan die provinsie inspring om die sukkelende Emfuleni-munisipaliteit reg te ruk.

Gautengse munisipaliteite skuld Eskom ʼn gesamentlike R8,6 miljard – en meer as R6 miljard hiervan is deur Emfuleni verskuldig. Om die owerheid reg te ruk, gaan ʼn “bekwame” munisipale bestuurder en finansiële hoof aangewys word.

Lesufi het ook ʼn salvo na die Tshwane-metro, waar DA-burgemeester Randall Williams verlede week bedank het, afgevuur.

“Tshwane het agteruitgegaan, sukkel om Eskom te betaal en die jongste verslag van die ouditeur-generaal skets ʼn droewige prentjie van ʼn munisipaliteit wat ineenstort.”

Townships reggeruk

“Townships is die nuwe goud. Met nuwe winkelsentrums en vulstasies wat vinnig in townships gevestig word, moet ons verseker dat dié beleggings ons mense baat.”

Om townshipekonomieë ʼn hupstoot te gee, gaan 60% van die (R34 miljard-) begroting vir goedere en dienste aan townshipprojekte bestee word. ʼn Digitale databasis vir ondernemings in dié buurte word op die been gebring en ʼn finansieringsmodel om ondernemings te help om teen beter pryse op groot maat te koop, is afgehandel.

“Ons het ook ʼn prototipe vir spazawinkels aangeneem sodat ons kan onderskei tussen dié winkels en winkels in buitelanders se besit. Ons gaan ons winkels in townships terugneem.”

Die premier het ook betroubare Wi-Fi – gratis in sekere “strategiese gebiede” – beloof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

58 Kommentare

miraclealigner ·

Hy het as LUR vir gesondheid weinig uitgerig gekry, verbasend hoe so ‘n swak individueel ons agbare provinsiale leier is. Baie mooi drome. Sal sien of enige iets van dit uitvoerbaar is. Self regering is al wat gaan help in Gauteng. Net my 2sente…

Allop ·

Hy leef in n droomwereld van sy eie. Praat praat en niks gebeur nie Nou wil hy as premier skole bou wat agterwee gebly het tydens sy bestuur as LUR

Koos 100 ·

Dag ek nou dat sy plan is om te bedank. Hy leef op sy eie planeet! Al waarmee die ANC baie goed is, is om planne te maak, verskonings uit te dink en om te skep.

Di ·

Dream on!! DIT gaan NOOIT gebeur nie. Kan nie eers die ligte aanhou in die land nie

Manie ·

Die skepsel kom uit verskeie departemente wat hy in chaos agtergelaat het. Wat gaan verander noudat hy premier geword het? NIKS. As LUR vir onderwys kon hy nie eers onderhoud op infrastruktuur onder die knie kry nie.

Anel ·

Wha, ha, ha, ha! Lag ek my nou amper ‘n papie!!!! Hoeveel skole het hy gebou terwyl hy in beheer was van onderwys??? Verder sê ek niks!

Iwan ·

Keep a close eye on this one.

Net nog n highway vir corruption.

Nina Uit ·

Net ‘n nuwe plan om hul eie koffers weer te vul. Ons gaan oor so maand of ses lees een van sy pêlle het R31 034 567 gekwoteer om bakstene aan te ry vir nuwe skole. 2 Kilometer ver.

Eugene ·

Geagte meneer Lesufi. Al wat julle kan bou, is kinners. So vergeet van jou planne om GAUTENG te red. Jy gee syfers aan, ons soek oplossings

Fran ·

Hy is heeltemal te slim vir homself. As EEN hierdie wonderplanne tot uitvoering kom, join ek sowaar die ANC….wat is die kans?!

SjN ·

Hy gaan ook seker die lisensies uitreik, hy het mos vele talente!!

Chris dupreez ·

n Nuwe staatsbank wat ons weer kan plunder soos vbs bank. Jy lieg ook net soos die minister van transport

Vettiemaragartos ·

Go big or go home!!!! Hierdie 1’netjie moet maar huis toe gaan!!!!!!

Kokerboom ·

Die sosialis droom heerlik met belastingbetalersgeld. Hier kom groot korrupsiepotensiaal. SOE maak jul reg. Sy kader pelle gaan weer skep.
Weet hy daar is dinge soos implementering en onderhoud?

Eden ·

Lesufi moet seker baie beloftes maak, anders is hy dalk sy werk kwyt na volgende jaar.
Hoeveel van sy planne gaan kom, is natuurlik bedenklik.
Die ANC het nog nooit enige verval gekeer nie. Inteendeel. Die Hommeltuie gaan wegraak en die helikopters gaan seker 10x meer kos as markwaarde.
Of die “township” ekonomieë goud is, kan ek maar net lag oor.
Die townships se besighede is bekend daarvoor dat hulle mafia boewe moet betaal om aan die gang te bly. Niemand wil daarin belê nie. Inteendeel, ek dink baie kleinhandelaars gaan dié areas binnekort permanent verlaat, soos wat in Durban gebeur het na die Strooptog van 2021.

Riaan ·

Ek vertrou nie die mense wat aangestel gaan word om die drones te beheer nie. Hulle kan dit net so maklik aanwend om te sien die inwoners is nie tuis nie, en die inligting deurgee na hulle vriende wat die plek dan gaan leeg dra. Om van die skending van privaatheid nie eers te praat nie.

Wondermaarnet ·

Hou op leë beloftes maak aan jou mense! Pateties verby en om nie eers te praat van ONBEVOEG nie.

OW ·

Lesufi moet maar aanhou lekker droom.Die president sê 4 jaar oue staatsredes met “watch this space” staan al vir 4 jaar leeg met geen beloftes wat rialiseer nie.Hierdie nuwe planne sal lugkastele bly tot daar tekens van enige rialisering is.

Heinrich ·

Lyk vir my of Ramaphoser se speech skrywer hierdie lekker dagdrome vir hom neergepen het; Wakanda 2 so net langs die pres s’n. Hiermee trap hy ook gladnie op die tone van ander ministers nie né. Ek kan nie glo dat ons nog nie die ekonomiese krag van die townships begin ontgin het nie! Al gedeelte van die toespraak wat waar was, is die “Kom ons erken vandag ruiterlik dat ons provinsie die tuiste is van hartelose en genadelose misdadigers” gedeelte, waarvan die helfte in die polisie is, om van metropolisie nie eers te praat nie. Nee wat, hierdie pie-in-the-sky laat die kaders lippe aflek aangesien daar belowe word dat hulle nie ‘gekompromiseer’ gaan word nie.

Hoffie ·

Met so ‘n intellek sal ek hom nie eers klasleier van Standerd een maak nie

Wildemien ·

Amper Vernon, amper. Op 1 April kan ons uitsien vir die hoëtegnologie gesig- en voertuigherkenningskamers. Gevorderde stelsels, man, gevorderd! Oral! Whahahahahaha!

Henk ·

Daar is miljoene stemvee wat baie bly is oor hierdie beloftes. Dis daai wat glo Wakanda is ‘n werklikheid iewers.

Vexed ·

As ek die fiktiewe maatreëls so lees, beteken dit dat ons almal ons privaatheid moet prysgee om hulle gemors skoon te maak.

Phillip ·

hahaha … dis ‘n provinsiale rede Lesufi … nie ‘n wetenskapsfiksie draaiboek nie

SjN ·

Kry eerstens jou aanhangers om begin te betaal vir hul dienste, waar gaan die geld vandaan kom vir jou lugkastele Lefufi,?

skurweberg ·

Ek hoop hy hou hierdie keer boek van die bevolkingsaanwas in die provinsie.en hulle behoeftes.

Chris ·

Haw bo Mfwetu. Laat hy nie sleepsels van sy vorige betrokkenheid by ander departemente nie. Wat my die meeste van die regeringsamptenare verbaas is hul “dillusions of grandeur”. Waar kom die mense vandaan?

Charmain ·

Begin deur 10111 te kry om effektief te werk, dit sal n goedkoop begin wees maar as hy dit ni eers uit die blokke kan kry nie gaan hierdie nuwe duur tegnologie ook net n vermorsing van geld wees

Piet ·

Hou jou video kameras uit my woonbuurt uit. Ek het jou nie nodig om hier te snuffel nie. Ek doen dit self. Dis my privaatheid.

Astrain ·

Hy kan nie eens homself help as hy van die bed afval nie!

Wildemien ·

Wag, ek dink ek moet weer ‘n keer gaan lees…….. Maggies, Gauteng gaan mos grênd wees!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.