Lewende uil as deposito? Nee dankie, sê bank

Brendan Murray van die Owl Rescue Centre met die uil wat hulle gered het. (Foto: Owl Rescue Centre/Facebook)

Baie Suid-Afrikaners sukkel dalk om die boeke te laat klop, maar ʼn lewende uil kan nou eenmaal nie as ʼn deposito gebruik word nie.

ʼn Man van Westonaria is verlede week bank toe om ʼn nuwe rekening te open. Hy was slaggereed met sy eerste deposito: ʼn lewende uil.

Die Absa-tak op dié Wes-Randse dorp het verlede Woensdag verduidelik hulle aanvaar slegs betaalmiddels en het die uilreddingsentrum in Hartbeespoort ontbied, wat die roofvoël gaan haal en na veiligheid geneem het.

Brendan Murray van die sentrum sê hoewel ongewoon was hierdie nie die vreemdste versoek wat hulle nóg gekry het sedert hy en sy vrou Danelle sowat 15 jaar gelede die sentrum geopen het nie. “Sedert die opening het daar bykans nie ʼn dag verbygegaan wat ons nie ontbied is om een of ander dier te gaan red nie.”

Murray glo die man wou eintlik die uil verkoop, want hy het aanvanklik by ʼn moetie-winkel in dieselfde omgewing as die bank aangeklop. Die winkel het dit duidelik gemaak: hulle koop nié lewende diere nie. Dis toe dat die man besluit het om die uil by die bank te probeer deponeer.

“Daar blyk baie mense te wees wat glo dit is oukei om wilde diere te vang en hulle aan ondernemings te verkoop. ʼn Rukkie gelede is ons gekontak oor ʼn uil by ʼn pandjieswinkel in Hillbrow. By die ingang het die dier in ʼn vergulde hok, wat uit die 1980’s dateer, gesit.”

Die bank sê as betroubare bankvennoot wat kliënte van alle vlakke van die lewe oor baie jare bedien, is hy daartoe verbind om sy kliënte te ondersteun “selfs wanneer dit by ongewone lewensituasies kom, want elke storie maak saak,” het ‘n woordvoerder gesê.

“Die werknemers van die tak het die uilreddingsentrum se hulp ingeroep om die lewe te red van ʼn pragtige uil, want uilstories maak óók saak.

Murray het in ʼn Facebookinskrywing gesê hierdie versoek was nie naastenby die vreemdste wat hulle al gehad het nie. Dit is nie eens een van die top-100 (vreemde versoeke) wat hulle al gehad het nie. “Dinge wat slegs in Afrika gebeur,” het hy afgesluit.

Absa sê hulle aanvaar nie diere of lewende hawe as deposito’s nie.

“Ons is wel verheug om aan te kondig dat Birdlife South Africa binnekort een van die Absa Rewards-begunstigdes word waar kliënte skenkings kan maak deur die beloningprogram.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.