Lewens aan skerwe, maar ‘steeds nie einde van die pad’

Danielle van Zyl doen alles moontlik om die drie se onskuld te help bewys. (Foto: Maroela Media)

“As iemand hierdie oortreding gepleeg het, sluit hulle toe; maar hier is ʼn leuen oor hierdie mense se lewens gebou.”

Só sê Danielle van Zyl enkele dae voordat haar vriend, Chris Leicester, en sy ouers, Harry en Maria Leicester, weer in die Springs-landdroshof moet verskyn.

Joseph Mona, ʼn voormalige werknemer van die Leicester-gesin, het die Leicesters in 2018 daarvan beskuldig dat hulle hom in Desember 2017 gedwing het om ontlasting te drink en ook dat hulle hom in ʼn rioolgat gegooi het. Mona het vir die gesin op hul kleinhoewe by Endicott buite Springs gewerk toe die voorval glo plaasgevind het. Mona beweer die drie [Harry, Maria en Chris] het hom wakker gemaak omdat hy vergeet het om die pomp van die septiese tenk af te skakel.

Hy is glo die k-woord toegesnou en is daarna glo gedwing om ontlasting uit ʼn rioolmangat te drink. Mona voer aan hy is daarna in die gat ingedwing, dit is met ʼn sinkplaat toegemaak en hy het byna daarin verdrink. Hy kon glo later daaruit klouter.

Die beweerde voorval het ʼn herrie veroorsaak.

Die Leicesters is reeds in die gelykheidshof skuldig bevind en strafregtelike aanklagte van crimen injuria, menseroof en aanranding met die doel om ernstig te beseer is teen hulle aanhangig gemaak.

Dié saak duur voort en uitspraak word teen die einde van die maand verwag.

Van Zyl, wat onwrikbaar in die drie se onskuld glo, sê die gesin se lewe het die afgelope paar jaar aan skerwe gespat. Hulle sakeonderneming het gesneuwel omdat mense nie met hulle wou sake doen nie en hulle het hul blyplek verloor. Chris het ook toesig oor sy dogter verloor.

Sy voer aan nadat die Leicesters in Februarie 2018 aanvanklik in hegtenis geneem is, het Chris aan die polisie gesê dat daar ʼn geslote kringtelevisiestelsel op die perseel is wat die bewerings kan weerlê. Sy beweer die polisie het dit nie opgevolg nie, maar enkele dae later is daar by die perseel ingebreek en al die kameras, asook die stelsel waarop die opnames gestoor was, is gesteel.

Van Zyl sê ook ʼn kwitansie van die kuierplek waar sy en Chris op die dag van die beweerde voorval was, is ook by die hof ingedien.

“Vir die laaste paar jaar kon hierdie gesin nie ʼn inkomste verdien nie. Hulle kon nie ʼn lewe bou nie. Dit gaan sleg met hulle. Chris het net een nier en hy is baie siek. Jy leef vier jaar lank in ʼn groef en jy weet nie wanneer dit eindig nie.”

Sy bly glo in die drie se onskuld.

“Ek het ʼn sterk geloof, maar die laaste vier jaar was moeilik. Daar was tye dat ek gevoel het ek wil opgee, ek kan nie meer nie. Chris se pa sê vir my hulle sit as onskuldige mense in die tronk. Dit maak hulle klaar.

“Maar as ek opgee, hoeveel te meer gaan hulle dan nie opgee nie? Ek bly sterk vir hulle onthalwe.”

Die Leicesters verskyn Maandag weer in die hof om ʼn hernieude aansoek om borgtog in te dien, nadat hulle borgtog in November verlede jaar teruggetrek is. Chris en Harry word intussen in die Modderbee-gevangenis aangehou en Maria in die Johannesburgse korrektiewe sentrum.

“Ek is nie bang vir vonnisoplegging nie. Ek wéét hulle is onskuldig. En as hierdie hof dit nie so sien nie, is dit steeds nie die einde van die pad nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Nie Verbaas ·

So, omdat hy swart is het hof net sy getuienis geglo en die gesin skuldig bevind? Lekker ou ANC. As met hom gebeur het wat hy beweer sou hy ernstig siek geword het. Dan word hulle nie op borgtog vrygelaat nie maar moordenaars en verkragters word vrygelaat op borgtog.

Dries ·

Ai toggie en die hele SA het hulle verdoem. Nou kom iets anders uit wat dalk kan dui daarop dat hierdie mense onskuldig is

Leeuwyfie ·

Dis hoekom goeie joernalistiek so broodnodig is. Om al die kante te berig en die leser toe te laat om sy eie mening te vorm.
Ongelukkig het ons hoofstroom media meer propaganda media geword, om vir die mense te sê wat hulle moet dink.
Wel gedaan MM. Bietjie laat, maar dis goed dat dit nou uit is.

Dries ·

As hy ontlasting gedrink het. Was hy in die hospitaal of het hy nie siek geword nie. Tawwe mannetjie of hoe. Klink nou vir my hy het gelieg

Elize ·

Ek is seker solidariteit se regsafdeling kan hierdie mense help

Elsabe ·

Is die inbraak en diefstal van die kringtelevisie-kameras en verwydering van die bande al opgevolg? Is die skuldige/s al aangekeer?

Deon ·

Jammer dames ek WEET dit is ‘n swak vergelyking maar hier kom dit. ‘n Vrou hoef net te skree “rape” of ‘n kind ‘betasting” dan is die man skulding nog voor hy verhoor word. ‘n Swarte het net nodig om na die “K” woord te verwys dan is hy ‘REG”. Waar is sy getuies? Hoe kan ‘n mens nog “hoorse” getuienis” aanvaar? Is hy medies ondersoek en is daar ‘n geloofwaardige verslag oor die bevindings – of was hy by ‘n Sangoma wie se “crap” hulle mos glo? Hierdie land soos sy president en die res van die ANC insluitend die gelyksheid hof is korrup verby. EK VOEL JAMMER VIR DIE MENSE WAT MET ONVOLDOENDE GETUIENIS VERHOOR EN GEVONNIS IS. Ek sal my woorde graag terug trek sou iemand die teendeel kan bewys.

Danie ·

Ek kan nie glo dat “he said she said” deur enige hof oorweeg word om ‘n beslissing te maak nie.
Die regstelsel is siek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.