Lewenslank vir moord op adjunk-balju

(Foto: Maroela Media/ Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Hendry Dlamini is Woensdag in die Mbombela-hooggeregshof lewenslank tronk toe gestuur vir die destydse moord op Michelle Jones, adjunk-balju van Mbombela.

Jones is op 20 Oktober 2022 doodgeskiet nadat sy ʼn huis in Nelsville gekoop het wat Dlamini in daardie stadium bewoon het.

Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Mpumalanga, sê Dlamini het Jones die dag voor haar dood met die dood gedreig toe sy die slotte van die huis verander het.

Volgens Nyuswa is Jones en ʼn man, wat nie deur Nyuswa geïdentifiseer is nie, die betrokke dag (19 Oktober 2022) na die huis om die slotte te verander toe Dlamini daar opgedaag het. “Hy het aan die deur geklap en vir die slagoffers gesê dat die huis aan hom behoort en dat niemand in sy ma se huis sal woon nie. Hy het verder gedreig om hulle dood te maak.”

Jones en die man het dieselfde dag nog aansoek om ʼn beskermingsbevel gedoen.

Hulle is egter die volgende dag in hul geparkeerde motor geskiet.

Nyuswa sê Jones en die man was naby ʼn winkel geparkeer toe Dlamini hulle gewaar het. Dlamini het na hul voertuig gestap en skote op hulle afgevuur. Jones het wonde aan haar nek, bors en buik opgedoen en is dood verklaar.

Die man is in die arm geskiet en het oorleef.

Dlamini het ná sy inhegtenisneming onskuldig op die aanklag van moord teen hom gepleit.

Regter Johannes Hendrickus Roelofse het eindelik bevind dat Dlamini die bedoeling gehad het om Jones te vermoor. Roelofse het ook bevind dat Dlamini ʼn ernstige misdaad teen ʼn weerlose vrou gepleeg het en geen berou vir sy optrede getoon het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.