Liebenberg hof toe teen Meta oor ‘vals, lasterlike’ opmerkings op Facebook

Louis Liebenberg gaan ‘n dringende hofaansoek bring oor mense wat op Facebook “vals en haatlike opmerkings maak teenoor hom en sy vrou”. (Foto: Louis Liebenberg Public Figure / Facebook)

Omstrede sakeman en nou ook onafhanklike politieke kandidaat Louis Liebenberg gaan die hooggeregshof in Johannesburg in ʼn dringende aansoek vra om persoonlike inligting van mense wat op Facebook volgens hom “vals, lasterlike, afbrekende en haatlike” opmerkings teenoor hom en sy vrou, Dezzi, maak, te verskaf.

Dié aansoek vir verlof om regstappe is gerig teen Meta Platforms Ing., van wie Liebenberg inligting vra oor verskeie van die administrateurs van wat in die stukke bestempel word as “die Facebook-haatgroepe”. Meta, wat geleë is in Kalifornië in die VSA, is die eienaar van Facebook.

Liebenberg vra Meta om die inligting binne vyf dae aan hom te verskaf met die oog op Suid-Afrika se verkiesing op 29 Mei, waarin hy hom as onafhanklike kandidaat verkiesbaar gestel het. Hy meen die Facebook-haatgroepe gaan straffeloos voort, al bied hulle waninligting oor sy kandidatuur aan.

Hy voer aan sy reg om vir ʼn openbare amp te staan, soos vervat in die Grondwet, sal ernstig en onherstelbaar ondermyn word. Die Grondwet maak voorsiening vir burgers se regte tot die maak van ʼn politieke keuse.

In die hofstukke aanvaar Liebenberg hy “is ʼn openbare figuur” en dat hy die “onderwerp kan wees van kritiese beriggewing en kommentaar in die openbare ruimte”.

Wat hy egter nie kan aanvaar nie, luidens die stukke, is dat hy en sy vrou die onderwerp moet wees van lasterlike en ander negatiewe aanvalle, wat volgens hom gegrond is op niks behalwe onwaarhede nie.

“Selfs openbare figure het die reg tot hul integriteit en goeie naam.”

Liebenberg vra die hof vir toegang tot mense se basiese intekenaar-inligting (BSI), soos name, e-posadresse, telefoonnommers en aanmeld-IP-adresse waarmee die rekeninge geskep is.

“Om die basiese intekenaar-inligting te bekom is die enigste manier wat ek hulle kan identifiseer,” voer hy voorts aan en vra die hof vir ʼn interdik in dié verband.

Luidens die stukke sal Meta, luidens sy webwerf, ook net mense se persoonlike inligting onthul in reaksie op ʼn dagvaarding of hofbevel.

Liebenberg sê as sake-eienaar bestuur hy verskeie ondernemings en hy is trots op sy toewyding en bydraes tot die Suid-Afrikaanse ekonomie. “Nietemin was my besighede die afgelope jare die onderwerp van omstredenheid in die media en die openbaar.”

Facebookgroepe wat Liebenberg se doen en late as diamanthandelaar bespreek, word saam met individue in die dokumente genoem.

Dié groepe sluit in “Teen Louis Liebenberg & Verraaiers Groep,” met 2 200 lede, wat in Mei verlede jaar geskep is en luidens die aansoek die afgelope maand 855 nuwe inskrywings gehad het.

Hy noem ook die name van Retha Schreuder, Annelle Swanepoel, Arnold Green en Belinda Ruth Prinsloo en sê dié name kan skuilname wees.

Liebenberg maak melding van nog ʼn groep “Teen Louis Liebenberg Liegenbek 2.0” wat op 7 Augustus verlede jaar geskep is. Teen die tyd wat Liebenberg se beëdigde verklaring afgeneem is, het die groep 1 063 lede gehad en 15 inskrywings in die vorige maand. Luidens die stukke word dié groep geadministreer deur Tanya Koek en Golden JC.

“Teen Liebenberg vir Geregtigheid” wat op 13 Augustus verlede jaar geskep is, het 1 327 lede en het die afgelope maand 1 098 inskrywings gehad.

Lede Sunette du Toit, Johan Smit, Arnold Green en Belinda Ruth Prinsloo se name word in verband met dié groep genoem en is volgens Liebenberg die “gasheer vir duisende onregmatige opmerkings oor my en my vrou”.

Nog ʼn groep is “Louis Liebenberg Laaaaifs Kommentaar”, wat geskep is sowat ʼn week voor “Teen Liebenberg vir Geregtigheid”. Op eersgenoemde kan mense volgens Liebenberg vrylik plasings maak en kommentaar lewer, sonder vooraf goedkeuring. Dié groep het 627 lede en het 23 nuwe inskrywings gehad oor die afgelope maand. Luidens die stukke word die blad geadministreer deur Frieda ii No Friends Profile.

Liebenberg sê hy het die sogenaamde haatgroepe op 17 April vanjaar gerapporteer vir waninligting wat verband hou met die komende verkiesing en weer twee dae later vir die bevordering van haatspraak. Facebook het hom laat weet hulle gebruik “dieselfde stel gemeenskapstandaarde om alle verslae te hersien” en het gevind die groep se optrede druis nie teen dié standaarde in nie.

Louis Liebenberg en sy vrou, Dezzi.

“Ons verstaan dit kan ontstellend wees en beveel aan dat jy die beskikbare opsies ondersoek om te beheer wat jy kan sien. As jy wil hê ons moet iets spesifiek binne ʼn groep hersien, maak seker dat jy die inhoud rapporteer, nie die hele groep nie,” lui die terugvoer luidens die dokumente.

Liebenberg sê hy het agt afsonderlike verslae ingedien (twee per groep, een vir waninligting en een vir haatspraak), maar het terugvoer slegs op een daarvan ontvang en niks verder nie.

“Afgesien van die oortreders self, is Meta ‘die enigste ter wêreld wat hierdie inligting het’,” voer hy aan.

Liebenberg sê die hoofaansoek is vir ʼn bevel om Meta te kry om die BSI van die oortreders te verskaf, om minstens sy grondwetlike regte te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Jannie ·

Jy mors jou tyd. Hul sal daardie inligting NIE vir jou gee nie. As jy jou uitgee vir ‘n toffie en gekou word, moenie kerm oor die aandag nie

Di ·

HY moet ons almal eers verkeerd bewys! Waar daar n rokie trek, is daar ‘n vuurtjie. SOVEEL mense is bedrieg deur hierdie skelm

Arend ·

Sjym. As jy bereid is om miljoene aan Zuma te gee om regskostes te dek moet jy mos seker maar pa staan vir “stories” wat rondloop.

SjN ·

Die man het orals n vinger in die pie en moet omtrent keer vir sy wickets en vure doodslaan.

Casper ·

Hy is inderdaad baie omstrede en ek wonder hoekom.Wat gaan hy met die inligting doen as hy dit gaan kry.Sy kanse om parlement toe te gaan is net so goed soos my kanse om swanger te raak.Sluit eerder by Zuma se party aan,jy gee mos geld vir die man.

Perdeby ·

Net so terloops het enige van julle al gehoor of geweetdat jy geen put inligting van ENIGE persoon mag share of uitblaker op enige virm van die media sonder die persoon se toestemming nie??? Mense plaas foto’s van persone wat hulle op een of ander manier ingedoen het, JY MAG NIE NIE!!!Die persone wat dit share is ook skuldig aan naam sending.

kommentaar ·

Dankie oom dat jy soveel humor op so n gereelde basis verskaf.

Pieter ·

Hy moet maar agter Carl Niehaus aan trek. Dink hulle sal lekker gesels. Dan nooi hulle ook sommer vir Hlaudi Motsoeneng.

ES ·

@Perdeby, net ‘n bekwame hof kan jou skuldig bevind van naamskending. Enigiets wat jy wel publiseer op enige vorm van sosiale media, selfs al versprei jy net inligting wat jy iewers anders gekry het, is jy voor verantwoordelik.

Oosieoos ·

Stem saam pieter. As ek hy was het ek lankal verdwyn nie my naam elke dag meer en meer met a plank slaan hoe lagwekkend

Morne ·

Louis soek die waarheid, en elke keer as hy die waarheid soek, word daar gevra: ‘Hoekom soek jy dit in die hof?’ Die hoogste hof in die land sal die waarheid moet verkondig. Gee Louis Petrus Liebenberg sy dag in die hof, waar hy sy kant kan stel; dan sal die wêreld die waarheid hoor en weet. Julle kruisig n onskuldige man.

msp ·

Met alle respek gesê, dit lyk of hy die land se mense deur die hof wil dwing om van hom te hou.

msp ·

Met alle respek gesê, dit lyk of hy die land se mense deur die hof wil dwing om van hom te hou. Nee man, al die hoëe ouens word maklik raak gesien, vat dit soos ń man.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.