Liedjie geskryf om klein Lielie Muis te onthou

Leah de Jager. (Foto: Annelie Jonker Photography)

Gerrit de Jager van Uitenhage het Woensdag vir die eerste keer na die liedjie geluister wat ʼn bekende sanger-vriend van hom spesiaal vir sy babadogtertjie, Leah, of eerder “Lielie Muis” soos hy haar altyd genoem het, geskryf het.

Deon Groot van Bietjie liedjie-faam het verlede jaar al die liedjie “Slaap nou sag” vir sy vriend se ses maande oue babadogtertjie geskryf voordat klein Leah in Januarie vanjaar aan ʼn seldsame mediese toestand dood is.

Leah is sonder ʼn immuunstelsel gebore en was in haar kort lewe gedurig in die hospitaal.

Gerrit, ʼn radio-omroeper in die Baai, het vanoggend vir die eerste keer na Lielie Muis se liedjie op radio geluister nadat hy en sy vrou, Lezaan, dit so lank as moontlik uitgestel het omdat hulle nie daarvoor kans gesien het nie.

Deon het verlede jaar tydens Leah se siekte vir Gerrit gevra of hy ʼn liedjie vir Leah kan skryf waartoe hy dadelik ingestem het. “Ek het vir Deon gesê hy moet dit beslis doen as die Here dit op sy hart druk,” het Gerrit aan Maroela Media gesê.

Hoewel Gerrit gaande is oor die gebaar, kon hy egter vanoggend slegs ʼn minuut lank na die liedjie luister. “Dit het my gebreek,” sê hy. Hy beplan om die res van die liedjie later saam met sy vrou te luister.

Dit is veral vir die egpaar erg omdat dié liedjie na ʼn wiegeliedjie klink met lirieke soos: “Slaap nou sag tot die môre kom. Ek weet Hy waak oor jou, my blom.”

Leah de Jager by haar ouers, Lezaan en Gerrit. (Foto: Annelie Jonker Photography)

“Hoeveel mammas gaan nou vir hulle kinders hierdie wiegeliedjie kan sing? Ek gaan nooit weer kans kry om vir Leah ʼn wiegeliedjie te sing nie,” sê hy.

Deon verduidelik op sy beurt dat hy besluit het om tog die liedjie vir sy vriend te skryf, maar nooit vir Gerrit aangestuur het nie omdat hy besef het dat in dié stadium nog baie emosioneel vir die ouerpaar sou wees.

Die sanger het die liedjie reeds voor Leah se dood geskryf en verduidelik dat die lirieke albei kante toe kon gaan – vir wanneer sy sou slaap of as sy wel te sterwe sou kom.

Deon en Gerrit het sowat vier jaar gelede bevriend geraak toe Deon in die musiekbedryf betrokke geraak het en hoewel die een in Port Elizabeth en die ander in Gauteng woon, was Deon een van Gerrit se grootste steunpilare gedurende Leah se siekte en dood. “Dit is my broer,” sê albei van mekaar wanneer Maroela Media hulle oor dié vriendskap uitvra.

Gerrit vertel dat dit tans onder die omstandighede goed gaan met hom en Lezaan hoewel party dae erger as ander is. Een van dié dae sal volgende week wees wanneer Leah op 4 Junie een jaar oud sou geword het.

ʼn Tasbare nalatenskap

Leah se nalatenskap word egter nie net vervat in ʼn wiegeliedjie nie, maar ook in ʼn tasbare gebaar om ʼn werklike verskil te maak.

Gerrit verduidelik daar is verlede jaar tydens Leah se siekte geld ingesamel om die dogtertjie se mediese koste te dek. Ná haar dood het heelwat van dié geld egter oorgebly en sal dit nou benut word om twee groot hokke by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Uitenhage op te knap.

Hy verduidelik dat die egpaar na hul baba se dood die DBV besoek het om ʼn hond aan te neem en op dié hokke met honde afgekom het. “Ek en my vrou het vir mekaar gekyk en toe het geweet wat ons met die geld moes doen.

“Lezaan het die simboliek in die hokke raakgesien. Soos Leah in ʼn ‘hok’, die hospitaal, vasgekeer was en gewag het vir ʼn dokter om haar te red, so wag die honde in ʼn hok vir ʼn eienaar om hulle te red,” verduidelik hy.

Daarom wil hulle graag die werk aan die hokke in die tyd rondom klein Leah se verjaardag voltooi. Dit sal ook goeie terapie vir Lezaan wees, meen hy. Nes Lielie Muis se wiegeliedjie wanneer hulle dit in die toekoms luister.

“Slaap nou sag” is beskikbaar op alle digitale platforms asook in Deon Groot se jongste selfgetitelde album. Luister hier na Lielie Muis se wiegeliedjie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

My mening ·

Ai, dis so hartseer. Baie sterkte. Dis regtig die seerste seer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.