Life Esidimeni: ‘Mediese nalatigheid’ lei tot pasiënt se dood

Jaco Stols (Foto verskaf)

Dr. Deon Lombaard, ’n dokter met ’n privaat praktyk in Rayton wat vir Jaco Stols (een van die 144 slagoffers in die berugte Life Esidimeni-tragedie) in 2016 behandel het, het vandag getuig dat Stols in ’n haglike toestand was as gevolg van wanvoeding en dehidrasie toe hy hom ondersoek het. Hy het ook getuig dat Stols onverklaarbare merke op sy liggaam gehad het en slegs 39 kg geweeg het. Dr. Lombaard het getuig dat die enigste verduideliking vir Stols se toestand is dat die pasiënt ernstige mediese verwaarlosing en wanvoeding ervaar het wat gely het tot diabetiese simptome, maagseer, ’n swak immuunstelsel en uiteindelik sy dood.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid, in samewerking met Solidariteit Helpende Hand, verteenwoordig Sandra de Villiers, Stols se suster, in hierdie geregtelike doodsondersoek. Adv. Phyllis Vorster, aanklaer by die privaatvervolgingseenheid, is ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag aangestel om De Villiers by te staan en het ook die hoofondervraging van dr. Lombaard vandag behartig. De Villiers het haar broer in September 2016 na dr. Lombaard geneem nadat sy waargeneem het dat hy baie siek was.

Stols was ’n intellektueel gestremde man met die breinvermoë van ’n negejarige kind en was vir 18 jaar in die Cullinan Care and Rehabilitation Centre (CCRC) voordat hy as deel van Life Esidimeni-geldbesparingsplan op 9 Mei 2016 na die nuwe Siyabadinga-sentrum in Cullinan oorgeplaas is. Hy is in Julie 2016 teruggeplaas na CCRC nadat dit aan die lig gekom het dat Siyabadinga-sentrum sonder die nodige lisensies bedryf is. Dit is volgens dr. Lombaard se getuienis by hierdie sentrum waar Stols tot só mate verwaarloos is dat hy gesterf het.

Dr. Lombaard wat in die 1990’s vir 10 jaar die superintendent en later uitvoerende hoof van CCRC was, het die nodige binneaarse voeding en medikasie aan Stols voorgeskryf en ’n brief aan die sentrum gestuur oor die geskikte mediese behandeling van Stols. Hy het getuig dat daar tydens sy ampstermyn ’n mediese saal by die sentrum was en dat pasiënte die nodige behandeling daar sou ontvang het. Dit blyk egter volgens dr. Lombaard se getuienis dat dit nie gebeur het nie.

Jaco Stols was jare lank ‘n pasiënt by die Cullinan Care and Rehab Centre (Foto verskaf)

“Hoe meer getuienis in hierdie geregtelike doodsondersoek gelei word, hoe duideliker word dit dat iemand aanspreeklik gehou móét word vir die nalatige oorsaak van dood van die 144 pasiënte. Ons is oortuig daarvan dat hier gronde vir vervolging bestaan en hoop dat die Nasionale Vervolgingsgesag die partye wat in hierdie ondersoek geïmpliseer sal vervolg ten einde geregtigheid te laat geskied vir die weerlose mense wat op so wrede wyse moes sterf,” sê Wico Swanepoel, prokureur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

“Sandra de Villiers het gister getuig dat sy net geregtigheid vir haar broer soek en dit is al waarna Solidariteit Helpende Hand ook streef in hierdie saak,” sê René Roux, adjunk- uitvoerende hoof by Solidariteit Helpende Hand. “Ons wil hê dat die mense wat verantwoordelik is, verantwoordbaar gehou moet word sodat ons aan die einde van die dag kan omsien na die holistiese welstand van kwesbare groepe mense, in hierdie geval mense met gestremdhede. Dit is belangrik om om te sien vir die mense wat nie na hulself kan omsien nie en ook om ’n stem te wees vir diegene wat nie vir hulself kan praat nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Yvonne ·

Niks van die goed wat hier gebeur het is ooit behoorlik hanteer en afgehandel nie…..toegesmeer en onder die mat ingevee…hoe tragies

Tanniepetoors ·

Dis te laat om jammer te wees vir die wat gesterf het as gevolg van hierdie onmenslike besluite. My hart gaan uit na die families wat hierdie beproewing deurgaan. Mag julle berusting vind. Hoe weet ek nie, net deur genade. Sterkte aan u almal.

Sarel ·

Mediese Nalatigheid is ou nuus…wanneer gaan iemand vervolg word

Christine ·

Dit sal nie gebeur nie, want hulle is almal vriende van die kaders.

Erika ·

Die Eed van Hippocrates is blatent geminag. As mense nie deemoed vir mense het nie en passie het om ander te help ongeag ras nie Hoekoem word sekere mense dan Verpleegster/ Drs
Of is om jou doelbewus in die hiernamaals in te help….

Christine ·

Want hulle doen dit om die verkeerde redes, net nog ‘n job.

Christine ·

Jammer om dit te sê, maar ek twyfel of daar ooit geregtigheid vir hierdie mees onskuldige slagoffers sal wees, omrede die hartlose, onempatieke monsters wat hierdie aan weerlose mense doen, vriende van die staat is. Om ‘n mediese afhanklike van die staat te wees, is die mees onmenslike behandiling waaraan jy ooit blootgestel sal wees in hierdie land.

Spieel ·

Mediese nalatigheid se voet eerder massa moord onder die mees kwesbares van ons samelewing. Onvergeefbaar!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.