Suster vertel van man se grudood in Life Esidimeni-tragedie

Jaco Stols en sy suster, Sandra de Villiers (Foto verskaf)

Sandra de Villiers, die suster van Jaco Stols, een van die 144 slagoffers in die berugte Life Esidimeni-tragedie, het vandag tydens die formele geregtelike doodsondersoek na die dood van verskeie pasiënte getuig dat Stols vir vier weke lank aanhoudend vomeer het, wat daartoe gelei het dat hy van honger en dors in die ouderdom van 51 gesterf het.

Sy het ook getuig dat daar onverklaarbare merke aan sy liggaam was en dat verslae aandui dat hy hom saans aan die slaap gehuil het sonder dat sy versorgers dit by sy geliefdes aangemeld het.

Solidariteit Helpende Hand en AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig De Villiers in hierdie ondersoek. Adv. Phyllis Vorster, aanklaer by die privaatvervolgingseenheid, is ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag aangestel om De Villiers by te staan.

Stols, ’n intellektueel gestremde man met die breinvermoë van ’n negejarige kind, se lyding gedurende die laaste paar dae van sy lewe is vandag in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor. Die geregtelike doodsondersoek moet die volgende bepaal: die identiteit van die oorledenes, die oorsaak en datum van dood en of die dood deur ’n handeling wat neerkom op ’n misdryf deur enige persoon veroorsaak is. De Villiers is die 14de persoon van belang wat geroep is om te getuig.

Sy het by tye emosioneel geraak toe sy getuig het oor hoe haar broer voor haar oë weggekwyn het sedert hy as deel van Life Esidimeni-geldbesparingsplan op 9 Mei 2016 van die Cullinan Care and Rehabilitation Centre (CCRC) na die nuwe Siyabadinga-sentrum in Cullinan oorgeplaas is. Sy het vertel dat haar broer tydens ’n besoek só dors en honger was dat hy ’n literbottel koeldrank op een slag opgedrink het en dat hy sy kos so vinnig geëet het dat hy amper ook die servet ingesluk het. Die hof het gehoor hoe Siyabadinga egter op 8 Julie 2016 sy deure moes sluit omdat dit sonder die nodige permitte bedryf is. Stols is dus op 19 Julie teruggeplaas na CCRC.

Van toe af het De Villiers volgens haar getuienis waargeneem dat haar broer merke op sy liggaam het en het getuig dat Stols gesê het dat “hulle” hom seermaak. Hy het ook baie gehuil. De Villiers het al die voorvalle tevergeefs by die nodige gesagstrukture aangemeld met die hoop dat iets daaraan gedoen sou word.

Op 19 September 2016 het De Villiers weer haar broer besoek. “Hy het so baie gehuil en gesê ‘hulle’ maak hom seer. Hy het sieklik gelyk, en ek het toe besluit om hom na ’n private dokter op Rayton te neem,” het De Villiers getuig.

Dr. Deon Lombaard (wat ook môre in die ondersoek gaan getuig) het gevind dat Stols heel moontlik mishandel word en aan wanvoeding en dehidrasie ly. Dr. Lombaard het medisyne voorgeskryf met die opdrag dat CCRC hom in ’n hospitaal moet laat opneem as hy nie verbeter nie. Dit het egter, volgens De Villiers se getuienis, nooit gebeur nie. Ná nog besoeke, en op De Villiers se aandrang, is Stols uiteindelik op 26 September 2016 na die Mamelodi-hospitaal geneem toe hy skaars 39 kilogram geweeg het. Hy is egter net met ’n binneaarse drup behandel en teruggestuur na die sentrum, waar hy verder verswak het.

Op 3 Oktober 2016 het CCRC vir Stols weer in die Mamelodi-hospitaal laat opneem. Sy toestand het verswak, en hy is op 14 Oktober 2016 oorlede.

“Ons soek net geregtigheid. Ek het gevoel my broer is glad nie vir hulle belangrik nie, sy lewe maak nie saak nie en hy kan sommer maar net doodgaan. Hy is tog ook maar net ’n mens, maar hulle het hom soos ʼn hond behandel. Hy is ook moontlik seksueel mishandel,” het De Villiers getuig.

“Die staat en verskeie instellings het vir Stols en De Villiers, asook al die ander slagoffers, gefaal,” sê René Roux, adjunk- uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. “Dit is ’n skreiende skande dat weerlose mense na bewering aan die hand van hul versorgers moes sterf. Ons kan nie toelaat dat hulle daarmee wegkom nie en sal saam met AfriForum se privaatvervolgingseenheid werk om te verseker dat geregtigheid seëvier en dat hierdie families berusting kan vind.”

Wico Swanepoel, prokureur by AfriForum, sê dit is reeds vyf jaar sedert die regering hierdie weerlose mense versaak het en De Villiers het vandag getuig dat nie die NVG of die departement van gesondheid al ooit met haar gekonsulteer het nie, ten spyte van die feit dat sy ‘n strafsaak by die polisie gemaak het oor haar broer se dood. “Dit blyk verder dat niemand bereid is om aanspreeklikheid te aanvaar vir die onmenslike wreedheid wat Stols en ander pasiënte moes verduur het nie. Nietemin, sal AfriForum se privaatvervolgingseenheid in samewerking met Solidariteit Helpende Hand voortgaan om aan hierdie geregtelike doodsondersoek deel te neem om te verseker dat diegene wat hul pligte versaak het en uiteindelik die dood van sowat 144 mense veroorsaak het, verantwoordbaar gehou word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

melaney ·

Hoekom moet die ergste gebeur voordat daar opgetree word?

Sarel ·

Die vraag nou so baie gevra maar niemand antwoord nie.
Hoekom was volgens my, niemand…geen Staatsamptenaar of verantwoordelike Politikus ooit
vervolg vir wat daar gebeur het nie

Pannies ·

Dit is onaanvaarbaar dat die persone wat daardie rampspoedige besluite geneem het, ses jaar later nog nie verhoor of gestraf is nie. Al word hulle net uit die staatsdiens verban.

Aha ·

Hoekom het die vrou nie net self na haar broer gekyk toe sy agterkom hy word mishandel nie? Hoe kan mens jou familie net so oorgee

anniekiewiet ·

Omdat families nie altyd groot genoeg is met kennis en plek nie, soms moet almal werk om pot aan die kook te hou. Daarom is inrigtings daar, veronderstel, om na ons swakker mense te kan omsien. Ook kan hulle dan saam met soortgelyke mense wees ipv om uit te staan of weggesteek te word tussen ‘normale’ mense.

Fronsie ·

my vraag ook – veral as jy sien hoe hy wegkwyn en huil… Ek sou verseker ‘n ander plan gemaak het ipv om hom elke keer terug te stuur soontoe.

Alida ·

Ek wil ook graag weet, as jy mos sien jou geliefde word mishandel, hoekom los jy hom daar.. ek vra maar net..

Herman ·

Aha, jy behoort van beter te weet. Hierdie mense het spesialis aandag en hantering nodig. Iets wat min huishoudings in SA kan bied of bekostig. Het jy al so geval in jou huishouding gehad?

Aha ·

Ek verstaan dit heeltemal Herman, my oupa het alzeimers gehad en ja daar is mense wat opgelei is om na hulle te kyk maar in die geval haal jy jou broer uit en soek ‘n ander plek. Jy kan nie’ n blinde oog gooi as dit by mishandeling kom nie

Sandra ·

Jy neem die woorde uit my mond. Ek sou hom summier huistoe gevat het.

Misky ·

Onmenslike gebeure en persone verantwoordelik sal voor God moet antwoord.

Groen Ghoen ·

Liewe Vader. Hoe wreed is dit nie? Ek smeek vir verlossing van hierdie waansin wat in S.A. losgelaat is en soos ‘n kanker alles vernietig.

Swerwer ·

Dit is bitter hartseer en traumaties. Verkeerde personeel word aangestel en is nie by magte om te voorsien in die gestremdes se behoeftes nie. Dit is slegs spesiale mense met insig en deernis vir die gestremdes se behoeftes wat regtig behoort aangestel te word om na hul om te sien. Ongelukkig
plaas hul onbevoegde personeel by die gestremdes en dit veroorsaak geweldige trauma aan die gestremdes en hul lewensstandaard gaan dan teen ‘n tempo agteruit.

Ratel ·

100% korrek Swerwer. Dan kry jy private instansies wat die onbevoegdes afdank net vir die EFF om daaroor te toi toi en te brand… hoe gaan n mens wen?

Swerwer ·

Wen sal ons nooit wen met die huidige kader aan bewind nie.

Mieke ·

Ai tog!! Dis so hartseer en wreed. Tot nou toe is niemand regtig verantwoordelijk gehou en ek lees nou dis die 14de slagoffer se saak wat nou hanteer word. . Wat het van die ander geword? Seker ook weer alles onder die mat gevee!

Ratel ·

Ja, seker n paar honderd duisend rand in die hand gestop en op hulle pad gestuur.

Jacobus ·

Skandalig! Oudit en soek skuldiges. Julle het mos tyd om na Juliaas se twak te luister. Waar is die “friends of the ANC” by name die HSM. Gaan julle ook hier fout vind met AfriForum se pogings. Die toutjie raak kort!

Nico ·

Hierdie te-huis personeel is wreedardig en gevoelloos, gaan daar ooit aandag gegee word aan die saak.

Hein ·

Vra steeds die vraag. Wat is vomeer Maroela. Julle bly die vraag verwyder

Jacques ·

So vertel my asb, as diegene aan bewind in staat is om beide mens en dier van honger en dors te laat vrek, sonder enige meegevoel of gewete, waarom is hulle nog aan bewind?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.