Liggaam gevind van jong man wat van krans spring

(Foto: NSRI)

Die liggaam van ’n jong man wat Saterdag vermoedelik van ’n krans in die Breederivier naby die N2-hoofweg naby Swellendam gespring het, is Sondag deur polisieduikers gevind.

Reinard Geldenhuys, bevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) op Agulhas, sê plaaslike gesinne het die dag langs die rivier deurgebring toe die voorval plaasgevind het.

Die man het glo van ʼn hoë krans in die rivier gespring voordat hy onder die water verdwyn het.

Die provinsiale nooddiens, polisie en die Overberg-brand‑ en reddingsdiens is omstreeks 19:00 na die toneel ontbied. Die Overberg-verkeersdiens het onder meer met bykomende beligting gehelp terwyl NSRI-reddingswemmers na die vermiste man gesoek het.

Die man was egter spoorloos en die polisie se duikeenheid is ontbied. Duikers het Sondagoggend die soektog na die man voortgesit en sy liggaam gevind.

ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen.

Intussen is nog ʼn liggaam Sondagmiddag in die see by Fonteinpunt by Knysna gevind. Die Somaliese man het glo sowat twee weke gelede vermis geraak.

Volgens die NSRI is die polisie se duikeenheid omstreeks 16:30 na die toneel ontbied nadat ooggetuies ʼn liggaam in die water gewaar het.

ʼn NSRI-reddingsboot is ook gestuur om polisieduikers by te staan.

Jerome Simonis, bevelvoerder vir die NSRI in Knysna, sê die liggaam is deur ʼn vryduikoperasie uit die water gehaal en na die strand geneem.

ʼn Geregtelike doodsondersoek word ook gedoen.

Die NSRI het hul meegevoel met die naasbestaandes van die slagoffers betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Althes ·

Selfdood sal daar altyd wees. Maar ons regering moet egter ook skuld dra aan baie faktore wat mense ongelukkig maak, werkloosheid en armoede en trauma agv misdaad. Die ANC laat die ekonomie stagneer.
Baie mense voel hopeloos en verlore.
My innige meegevoel aan die persoon se gesin.

Christine ·

Ek sal graag wil weet om watter rede mense nie saamstem met hierdie ware kommentaar nie. Seker ANC-kaders.

Casper ·

Gesinne het die dag langs die rivier deurgebring toe die voorval plaasgevind het.Althes hoe seker is jy dit was selfmoord,dit klink vir my na ‘n man wat uit onkunde die sprong gewaag het en nie geweet het van faktore soos korrekte liggaamshouding asemhaling ens nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.