Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het gesê Abram Lekoadi (47) en sy kollega, ʼn veiligheidswag, het Sondagaand glo om ʼn vuur op die perseel van ʼn drankwinkel in Riba Cross in Tubatse gesit. Die veiligheidswag het glo aan die slaap geraak en beweer Lekoadi was aan die brand toe hy wakker geword het. Paramedici is na die toneel ontbied en Lekoadi is met hul aankoms dood verklaar. Dit is nie duidelik hoe Lekoadi aan die brand geraak het nie.
ʼn Groep inwoners van Riba Cross het Maandag by die drankwinkel se perseel saamgedrom en beweer die eienaar van die drankwinkel en Lekoadi se kollega was vir sy dood verantwoordelik, het Otto gesê. Die polisie kon daarin slaag om die veiligheidswag uit die hande van die woedende inwoners te red.
Die inwoners het egter die drankwinkel, die aangrensende huis en voertuie aan die brand gesteek en die winkel geplunder. Nog ʼn drankwinkel en oornagkamers wat aan dieselfde eienaar behoort, is ook aan die brand gesteek.
“Die polisie het Dinsdag weer die misdaadtoneel besoek en die verkoolde oorskot van ʼn onbekende persoon is in die huis gekry,” het Otto gesê. “Die polisie is besig met die ondersoek en geen persone is nog in hegtenis geneem nie. ʼn Saak van openbare geweld is geopen.”
Volgens Otto is die omvang van die skade nie in hierdie stadium bekend nie.
Genade, is dit ‘n bottel fabriek?
Dis die gevaar wanneer “die gemeenskap” reg in eie hande neem. Eiendom word onnodig vernietig, en waarskynlik is ‘n onskuldige nou doodgebrand.
Vigilante-optrede is uiters gevaarlik.