Likwidasies in Suid-Afrika neem met 10% toe

geld ekonomie suid-afrika

Argieffoto.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het Dinsdag aangekondig dat altesaam 2 024 mense, maatskappye en ondernemings in 2019 gelikwideer is. Dit is ʼn 10%-toename sedert 2018.

Dié skerp styging volg op die jaarlikse daling in likwidasies die vorige twee jaar.

Die getal maatskappye wat in dié tyd gelikwideer is (1 079), het met 11% gestyg sedert 2018, toe 972 maatskappye gelikwideer is. Die likwidasie van beslote korporasies het met tot 10,3% gestyg, van 873 in 2018 na 963 in 2019.

StatsSA het dié administratiewe inligting oor likwidasies versamel vanaf die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom en die departement van handel en nywerheid. Inligting oor insolvensies is uit kennisgewings van die hooggeregshof verkry.

Die ekonoom Dawie Roodt sê maatskappye gaan in likwidasie weens die swak onderliggende ekonomiese toestand in die land. “Dit gaan sleg met baie van die ondernemings. Talle oorleef skaars en maak geen wins nie,” sê Roodt.

Roodt meen ook die belastinglas op maatskappye moet drasties verlaag word.

“Hoewel ons ons nie op dié syfers moet blind staar nie, moet ons bewus wees van maatskappye wat een vir een toemaak. Dit is nie net ʼn aanduiding van ʼn onderliggende swak ekonomie nie, maar ook ʼn bewys dat armoede en gebrekkige werkskepping daagliks toeneem.”

Hy sê die private en openbare sektor gebruik dié syfers om ekonomiese prestasie te meet. Die getalle is ook ʼn belangrike aanduiding van die omvang van onbetaalde skuld in Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Thinus ·

Dit is als te danke aan die anc se rasstiese beleide, hul konstante inmeneging met dit wat hul nie verstaan nie en hul onvermoe om ‘n land te regeer. Raak ontslae van die anc/eff/blf/cosatu en kommunistiese partye en als sal weer begin werk en die ekonomie sal groei. Anders is dit net afdraand tot totale bankrotskap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.