‘Lottopreneur’ koop glo droomhuis met staatsgeld

Die Mooikloof Equestrian Estate aan die buitewyke van Pretoria. (Foto: Google Maps)

Deur Raymond Joseph, GroundUP

Dokumente dui aan dat ʼn omstrede prokureur groot bedrae geld van die nasionale lotery gebruik het om te help betaal vir sy luukse private woning op ʼn weelderige landgoed in Pretoria.

Denzhe Primary Care, ʼn nie-winsgewende organisasie wat deur Lesley Ramulifho bedryf word, het R27,5 miljoen ontvang om ʼn dwelmrehabilitasiesentrum op te rig. Bykans drie jaar later is die sentrum steeds nie klaar gebou nie en daar kan van meer as R20 miljoen nie rekenskap gegee word nie. Ramulifho het glo die grootste gedeelte van ʼn R7,5 miljoen-betaling wat die Nasionale Loterykommissie (NLC) in Denzhe se rekening inbetaal het, gebruik om vir sy Mooikloof-huis te help betaal.

Dié luukse huis van R11 miljoen is geleë op ʼn 1 ha erf in die peperduur Mooikloof Equestrian Estate aan die buitewyke van Pretoria.

Die gedeelte van die landgoed waar Ramulifho woon, is ook die tuiste van talle ander welaf inwoners wat ʼn landelike leefstyl, skaars 20 km van die middestad, geniet. Dit is ook net ʼn paar kilometer van Ramulifho se kantoor in Garsfontein.

ʼn Bedrag van R5 miljoen is van die Denzhe-rekening aan Etienne Naude, ʼn akteprokureur en eiendomsagent in Mooikloof, oorbetaal. Die oorbetaling is gedoen ʼn dag nadat die NLC R7,5 miljoen in die Denzhe-rekening inbetaal het.

Dit blyk dat Ramulifho die huis kontant gekoop het, omdat die titelakte geen aanduiding van ʼn verband bevat nie.

Ramulifho se regsverteenwoordiger, KR Elliott, het aanvanklik nie GroundUp se regsverteenwoordiger se vrae beantwoord oor die betaling wat aan Naude uit die Denzhe-rekening gedoen is nie.

“Dit is duidelik dat jou kliënt staatmaak op beweerde bankstate wat hy weier om beskikbaar te stel. Dus is die enigste afleiding dat die beweerde en ontkende state onwettig verkry is. Ons wag gevolglik vir afskrifte van die beweerde state. Ons kliënt sal dan besluit of hy gaan reageer – indien daar enige meriete in jou kliënt se bewerings is, iets wat steeds ontken word,” het Elliott gesê.

GroundUp het die bankstate inderwaarheid wettig bekom.

In daaropvolgende korrespondensie het Elliott, namens sy kliënt, ontken dat enige Denzhe-geld gebruik is om vir Ramulifho se eiendom te betaal.

GroundUp het verlede week berig hoe Ramulifho glo Denzhe se bankrekening as sy persoonlike kitsbank gebruik het om sy spandabelrige leefstyl te finansier. Dit het ingesluit die beweerde gebruik van loterygeld om vir klere, skoene, deftige restaurante, luukse dekor en werk aan een van sy twee Porsches te betaal.

Só verloop die gebeure ná die NLC se oorbetaling van R7,5 miljoen, die eerste gedeelte van Denzhe se finansiering:

  • Op 23 Mei onderteken Ramulifho volgens die aktekantoor ʼn R11 miljoen-koopooreenkoms vir die Mooikloof-eiendom.
  • Nagenoeg ses maande later, op 3 Oktober 2016, betaal Ramulifho ʼn bedrag van R100 in Denzhe se dormante FNB-rekening, wat hy wesenlik gekaap en gebruik het om aansoek te doen vir finansiering van die lotery, om dit weer te aktiveer.
  • Net meer as twee weke later, op 19 Oktober 2016, betaal die Nasionale Loterykommissie die eerste R7,5 miljoen in Denzhe se bankrekening.
  • Die volgende dag is R5 miljoen van dié rekening na Naude, die akteprokureur, uit die Denzhe-rekening oorbetaal.
  • Die huis in die Mooikloof Equestrian Estate is eindelik op 27 Januarie 2017 aan Ramulifho oorgedra, met Naude as oordragprokureur.

Die lekker lewe

Die Mooikloof Equestrian Estate het 24-uur geslote beeldmateriaalbewaking, word deur ʼn geëlektrifiseerde heining omring en wagte patrolleer die grens en binnekant van die landgoed deurlopend. In die landgoed se veiligheidskokon het inwoners toegang tot ʼn visvangdam, perderitte, stap- en fietsryroetes, asook stalfasiliteite vir inwoners wat perde besit, maar nie stalle op hul eiendom het nie.

Die landgoed, met meer as 550 1 ha-erwe, het ook sy eie maandelikse tydskrif.

ʼn Uittreksel op die Mooikloof-webwerf lui: “Die groot erwe bied privaatheid en skep ʼn gevoel van spasie en rustigheid – ʼn stukkie paradys in die middel van die voorstede. Of jy nou ʼn familie van perdeliefhebbers is, of werkende beroepslui is wat van die stadslewe wil ontsnap, bied Mooikloof ʼn landelike grootwordplek vir die kinders van stedelike beroepslui in Gauteng.”

Dit gaan voort: “Geleë in die beveiligde leefstylsentrum van Pretoria-Oos, bied Mooikloof ʼn gevoel van rustigheid, al is dit ʼn skamele 20 km van die Pretoriase middestad geleë. Die landgoed het oorgenoeg voëllewe, asook troppe blesbokke wat vry rondloop. Talle inwoners het hul eie springbokke of hoenders wat die plaasatmosfeer verder bevorder.

Ramulifho se luukse smaak eindig egter nie by ʼn multimiljoen rand se herehuis op ʼn spoglandgoed nie.

Hy het ook vier voertuie wat in sy naam geregistreer is: ʼn Colt L200, ʼn Mercedes-Benz E Class-sedan – met ʼn prys van nagenoeg R840 000 vir ʼn nuwe model; ʼn Porsche Cayenne GTS – wat nuut nagenoeg R1,1 miljoen kos; asook ʼn Porsche Panamera 4, wat jou nuut amper R1,5 miljoen uit die sak jaag.

  • GroundUp het die berig oorspronklik in samewerking met The Citizen gepubliseer. Lees die oorspronklike berig hier.
  • Ramulifho se prokureurs het Maroela Media ook gekontak ná publikasie van die berig en die aantygings weer ontken. GroundUP volstaan egter by die feite van die berig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Johan ·

Al sou die berig waar wees, sal die betrokke man dalk nie eers aangekla word nie. Wat nog te sê skuldig bevind word!

Net nog korrupsie! ·

En wat gaan hieraan gedoen word?
Ek weet!
NIKS!

Anoniem ·

Wanneer gaan hulle leer om nie geld vooruit te betaal nie. Gee gedeeltelik soos gebou vorder en inspeksies gedoen word. Daar gaan ons lotto geld

Riaan ·

Jy bedoel die seker as ‘n grap?
As jy ernstig is is jy net so skuldig soos die skelm!

koos ·

Weereens ‘n bewys dat korupsie nogsteeds in volle sterkte voort gaan.
En wat het CR beloof????

Jacobus ·

Nou moet ons die vraag vra; Wie by die Lotto kantoor deel in die geld omdat die dormante bank rekening van die nie-windgewende organisasie op 3 Oktober 2016 gekaap is en die lotto geld op 19 Oktober 2016 inbetaal is in die rekening volgens die berig.

Wie het nie die ‘due diligent” navorsing gedoen.

Daar is ‘n slang in die gras en dit is nie ‘n tuinslang nie.

Christa ·

Hy het Groot huis nodig op weg te kruip as die oordeelsdag aanbreek.

Gert van Wierdapark ·

Hy het seker net n “lotto-kaartjie”ingevul en dit as motivering vir Sy geldjie ingestuur. Voor jy Mes kon se, was die tjekkie seker in die pos!!! Miskien was daar darem “kick-backs”Vir die groenlig-gewers!!??

Veens ·

Die verskil tussen spandabelrigheid en ondernemerskap. Die ondernemer sou dieselfde R4M op drie trokstelle spandeer, om elke jaar nog R4M se wins te genereer. Dan kan jy elke jaar ten minste nog twee trokstelle aankoop, saam met ‘n nuwe kar, vir omtrent die volgende vier jaar. Teen Jaar Vyf, behoort jy tussen die inruilings en nuwe aankope te kyk na ten minste vyf nuwe trokstelle en ‘n kar te kyk, elke jaar? Die hardste vennoot in enige besigheid is die onderneming self; as hy gelukkig is, kan die ander vennote ook voordele en bonusse ontvang. Solank die onderneming self-volhoubaar kan aanhou groei.

Tinus Coetzee ·

Nee wat, vrot en korrup is hulle nou maar eenmaal. En ons weet almal wie se skuld dit is né? Wie dan nou anders as Jan van Riebeek.

Ernie Fourie ·

Ek was defnitief nie daardie dag by die skool toe hulle die les oor “Money For Nothing” aangebied het nie!
Hier sit ek, ‘n eerlike sakeman, met UITSTEKENDE besigheidsplanne… en kan nie EEN opregte belegger “oorreed” om te belê nie. Maar HIERDIE mense kry professionele mense om MILJOENE rond te gooi soos Liquirice All Sorts. HOE??? Die Vader weet… HOE?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.