LP’s gewaarsku oor oproerigheid oor kospryse

Argieffoto (Foto: beeki, Pixabay)

Argieffoto (Foto: beeki, Pixabay)

Graan SA het gesê die land kan moontlik oproerigheid oor kospryse te wagte wees weens die voortslepende droogtetoestande in die land.

“Suid-Afrikaners moet hulself staal vir ʼn moeilike jaar, aangesien die land miljoene ton graan sal moet invoer as gevolg van kleiner oeste weens die droogte,” het Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, Vrydag gesê.

“Ons het ʼn studie gedoen oor dit wat in 2007/2008 in die wêreld gebeur het waar die Arabiese Lente plaasgevind het. Daar word ondersoek ingestel oor die verband tussen hoë kospryse en voedselonluste. Daar is ʼn groot moontlikheid dat dit in Suid-Afrika kan gebeur,” het De Villiers bygevoeg. “Wanneer ons kyk na dit wat met kospryse gebeur, dat dit noemenswaardig kan verhoog, is daar ʼn moontlikheid dat die publiek in opstand gaan kom daarteen.”

Volgens Graan SA is die grootste uitdaging vir 2016 om genoeg kos in die land in te bring. Suid-Afrika se departement van landbou voorspel dat Suid-Afrika nagenoeg 3.8 miljoen ton mielies gaan moet invoer.

“Die 3.8 miljoen ton [van moontlike invoere] is gebaseer op ʼn oes van ongeveer 7.4 miljoen ton [plaaslik], en aangesien dit nie gereën het nie, is die 7.4 miljoen ton dalk baie optimisties,” het De Villiers verduidelik. “Die probleem vir 2017 is dat die boere moontlik nie kan plant wanneer die reën kom nie, want hulle gaan moontlik nie die kontant hê om dit te doen nie.”

Hy het gesê die landboubedryf, die regering en bedryfshoofde moet beplan hoe die armes teen die verwoestende effek van die droogte beskerm gaan word, veral teen hoë kospryse. “Kos gaan duur wees. Daar is baie mense wat dit nie kan bekostig nie, en hulle gaan in die moeilikheid kom en ons gaan ʼn voedselsekuriteitnet moet span om hulle te help.”

Buiten mielies, sal ander grane ook ingevoer moet word. Na beraming sal 2 miljoen ton koring, 900 000 ton rys, 300 000 ton sojabone, 100 000 ton sonneblomsade, 60 000 ton gars en 20 000 ton grondboontjies ingevoer moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Rynhardt ·

Voedselpryse gaan al hoe duurder en skaars raak! Die ergste van alles is dat die Zuma-regering se ondersteuners gaan dit nie verstaannie.Die zuma-tegering is die grootste mislukking in SA en hoe langer SA met Anc-regering sit, hoe meer gaan dinge geweldig raak! Boere kry ook nie ondersteuning van Zuma-regering nie.Al hoe meer vleise gaan van oorsee ingevoer word wat die reels en regulasies gaan omseil, want geld doen die praatwerk agter die skerms.Hierdie ingevoerde kosse gaan astronomies duur wees, maar groot vraagtekens hang ook oor die gehalte daarvan! Die Anc volg net die verkeerde weg, ongeag die negatiewe implikasies wat dit gaan bring.

Trolle ·

Toemaar Malema en sy rooi span gaan boer volgende jaar vir ons,dan gaan ons oorvloed kos he.
Eers het kos duurder geraak met olie prys wat opgegaan het nou is olie al onder die R30 n barrel,nou gee hulle weer droogte die skuld.Ons lewe nie net van mielies nie die groente boere om my plant nog steeds dieselfde hoeveelheid groente maar groente so duur nou mens kan dit amper nie bekostig nie.Te veel middelmanne nou wat bakhand staan.

Liewe lulu ·

Brandstof speel ook n rol. Gaan brandstof se prys op gaan kos se prys op. Kom brandstof se prys af bly kos se prys hoog. Dalk is dit tyd dat daar na die winsgrens van voedsel gekyk word. Kyk maar hoeveel kos word maandeliks weggegooi omdat dit nie verkoop nie. Dit is te duur. Kos word eerder gemors as wat die prys verlaag word.

Eddy ·

Die supermarkte merk hoender op met tussen 40% en 50% en porsies tussen 60%
en 90%. Boere het laaste 2jaar maar R 1-00 per/kg meer gekry.Probleem lê beslis nie in die beginpunt van ketting nie

Yahlegha ithlatinhi ·

Dankie Eddy. Ek neem aan jy boer want jy weet darem. Baie stadsmense (blankes ook) reken boere is die probleem. Dis goed dat jy so n opmerking maak. Ons dink dois net swartes wat oningelig is oor hoe boerdery werk.. maar dit is nie realiteit dat dt net andeskleuriges is nie.

Christo ·

Ek sien vandag dat 6liter melk kos nou R79.99 waar dit verlede week R53.00 was .Hoe is dit moontlik,die boere het n verhoging van 50sent/liter gekry

John ·

Graan SA moet uitbly uit die hele gedoente rondom graan invoere. Laat die regering dit hanteer. Dis nie die boere wat die droogte veroorsaak het nie, of is dit? Hulle gaan in elke geval die skuld kry vir die tekorte. Laat die regering die kastaiings uit die vuur krap. Ons boere moet eerder hulself afvra wat hulle te doen staan, waar hulle gefaal het en of landbou-etiek nie ‘n slag in oenskou geneem moet word nie.

Loon ·

Hallo John, ons boer self en dit is nie regtig n kwessie van waar die boere gefaal het nie, maar eerder waar die regering SA gefaal het.
Die droogte was enorm en ons gaan dit vir n lang tyd nog voel.

Loon ·

Hierdie is nie n grap nie DPJ,
klein kindertjies tel onder die mense wat gaan honger kry en hoe verduidelik jy aan hulle hoekom daar nie kos is nie.
Als is nie altyd n grap nie, dink bietjie meer oor jou uitlatings!

amelia ·

kan die boere nie direk aan publiek verkoop nie veral in groot stede seker sal groente vining verkoop kry Groentewinkels is baie duur en nie altyd vars nie Of mag boere nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.