Lugambulans vir GP sloer oor tenderprobleme

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Ben Wicks/Unsplash)

Meer as ʼn jaar nadat die Gautengse departement van gesondheid ʼn tender goedgekeur het vir dié provinsie om ʼn lugambulans te bekom, sloer die proses steeds weens “onreëlmatighede met die tenderproses”.

Die DA sê die vertragings in die verkryging van ʼn lugambulans knou pasiënte se kanse op oorlewing.

Luidens ʼn skriftelike antwoord op die DA se vrae in die provinsiale wetgewer, sê die Gautengse LUR van gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, die tender vir ʼn lugambulans is in Februarie verlede jaar toegeken.

Die kontrak is egter nog nie afgehandel nie omdat die ouditeur-generaal onreëlmatighede met die tenderproses opgemerk het. Dit kan dus eers voortgaan sodra die diensvlakooreenkoms gefinaliseer en die ouditnavrae opgelos is.

Volgens die LUR beteken die vertraging “daar is geen voldoende, tydige reaksie vir noodbehandeling en vervoer na die naaste mediese fasiliteit” vir Jan Alleman nie.

Jack Bloom, die DA se woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, sê dit is betreurenswaardig dat pasiënte wat kritiek beseer is dalk kan sterf omdat daar nie ʼn openbare lugambulans is om hulle vinnig by ʼn hospitaal te kry nie.

“My raming is dat ongeveer 100 pasiënte per jaar by ʼn openbare lugambulansdiens sal baat,” sê hy.

“Dit sluit diegene in met ruggraat- en kopbeserings, slagoffers wat erge brandwonde opgedoen of byna verdrink het en selfs diegene wat asemnood ervaar of ʼn elektriese skok opgedoen het. Dít is alles gevalle waar tyd van uiterste belang is.”

Bloom meen dat die departement se ondoeltreffendheid die lewe van pasiënte wat nie private gesondheidsorg kan bekostig nie, negatief raak.

Die departement het intussen egter gesê dat hy die gebrek aan mediese lugvervoer probeer versag deur sy intensiewesorg-ambulanseenhede uit te brei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Amelia ·

Weet mos aan wie tenders toegeken word glo nie was voor 1994 soveel bedrog ens nie het die bbe en wat alles nie maar als hiermee te doen nie en die klomp tender hemelshoog maar tenders word steeds aan hul toegestaan wat n mors van geld en tyd

Sarel ·

Hulle bestuur nie eers hulle Hospitale nie
O nreelmatighede met Tender.
Hoekom word nuwe Tenders nie gevra nie

Althes ·

Verlos ons asb van hierdie onbevoegde spul politici met hul 114 raswette

Koos 100 ·

Die aankoop van ‘n helikopter is regtig nie die grootste uitgawe nie. Koste om ‘n lug ambulans te vlieg is sowat R8000 tot R10000 per uur. Dan nog stoorplek,(hanger), onderhoud en vlieeniers en bemanning, radio lisensies, toerusting en so kan ons maar aangaan. DA, gaan vra die SAPS wat dit regtig kos. Help nie die helikopter word gekoop maar staan en vergaan soos ons Gripons nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.