Lui, lui … miljoene oproepe na 10111-sentrums onbeantwoord

(Argieffoto: Unsplash)

Die meeste van die polisie se 10111-noodoproepsentrums word bedryf met net sowat 41% van die ideale personeelkomponent, terwyl die meeste van dié sentrums se personeelgetalle die afgelope vier jaar byna glad nie verhoog is nie.

Die syfers kom uit ʼn antwoord van Bheki Cele, minister van polisie, na aanleiding van ʼn parlementêre vraag van die DA.

In 2020-’21 het die syfer op 41,63% gestaan.

“Die syfers is ʼn weerspieëling van die gebrek aan sorg van die minister en ʼn aanduiding van sy absolute verontagsaming van behoorlike personeelgetalle en hulpbronne vir hierdie belangrike openbare diens. Dit is die eerste kontakpunt vir slagoffers wat dadelike polisie-ingryping benodig, dikwels te midde van ʼn gewelddadige misdaad of as getuie daarvan,” sê Andrew Whitfield, die DA se woordvoerder oor polisie.

Só lyk die vakaturekoers by elke 10111-noodoproepsentrum:

  • Queenstown (Oos-Kaap): 91,85%
  • Mthatha (Oos-Kaap): 58,52%
  • Oos-Londen (Oos-Kaap): 59,22%
  • Welkom (Vrystaat): 72,59%
  • Richardsbaai (KwaZulu-Natal): 82,96%
  • Hilton (KwaZulu-Natal): 74,30%
  • Port Shepstone (KwaZulu-Natal): 72,41%
  • Middelburg (Mpumalanga): 75,56%
  • Witrivier (Mpumalanga): 71,85%
  • Secunda (Mpumalanga): 85,93%

(Argieffoto: SA Polisie)

In 2022-’23 is altesame 2,34 miljoen oproepe na 10111-sentrums onbeantwoord afgesluit. Dit is sowat 61,59% van al die oproepe na die sentrums in die spesifieke boekjaar.

Die minister sê in sy verduideliking ook dat dié onafgehandelde oproepe (amptelik beskryf as “abandoned calls”) ook vals oproepe en gekskeerdery insluit.

Whitfield sê dit maak dat voorsiening getref word vir bona fide-foute, maar dat dit haas ondenkbaar is dat selfs net ʼn gedeelte van die byna 2,5 miljoen onafgehandelde oproepe iemand is wat die noodnommer per ongeluk geskakel het, of gekskeer-oproepe was.

“Die enigste afleiding wat uit die syfers gemaak kan word, is dat die polisie eenvoudig nie die foon optel nie.”

Die DA sê onder Cele se leiding is daar nou minder operasionele polisiepersoneellede as vyf jaar gelede, die speurdiens is in ʼn gemors en onopgeloste sake word daagliks in hul duisende weggepak.

Maroela Media het vroeër berig meer as 2,5 miljoen sake wat die speurdiens in die boekjare van 2020-’21 tot -23 ondersoek het, is onafgehandel en steeds onopgelos. Dit is meer as 42% van alle misdaadsake wat by die polisie aangemeld is. Oor dieselfde tydperk was slegs 34,25% van die ondersoeke tot só ʼn mate suksesvol dat vervolging ingestel kon word.

“En terwyl die polisiediens as’t ware brand, blits die minister die land vol op die belastingbetaler se onkoste,” sê Whitfield.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Di ·

DIT is wat gebeur as onbevoegde, nuttelose mense in poste aangestel word weens hulle RAS. BBBEE is een die grootste oorsake dat ons land ten gronde is. Korrupte ANC Regering moet pa staan vir al die gemors in SA

Bevorder geregtigheid - Vrydenker Vlakvark ·

Fact is that the South African Criminal Justice System is in in tatters and shambles. A national disgrace. Finish en klaar.

willie ·

En hulle sal nooit onslae raak van cele nie, want onbevoeghed is juis wat in hulle kant tel.

knolle ·

Dis beslis nie net tekort aan mannekrag nie, meer tekort aan entoesiasme om wel die telefoon op te tel. Ek het by verskeie staat instansies, polisiestasies ingesluit, gesien hoe daar eenvoudig verder gesels word met die maatjies of net hande gevou sit terwyl die fone onophoudelik lui.

Kokerboom ·

Wat doen die Minister,sy Adjunk, Kommissaris en hordes Adj Kommissarisse?

George ·

@Di, die het niks met ras te doen nie, en die NP kan saam “pa staan” want die gemors het gebegin toe ons onderdruk was agv velkleur, toe se julle niks oor werk kry agv ras nie, nou dat dit anders om is, nou wil julle baie se.

George ·

@Di, was jy so vocal oor werk kry agv ras pre-94? Ek twyfel, want toe het die ‘regte’ ras mos werk gekry.

Sandra ·

Dit is ‘n skande. Hoe sal hulle weet dis nie ‘n noodgeval as hulle nie die oproep beantwoord nie. Dis nie die eerste maal dat die nommer nie werk vir Jan Publiek nie. Dit werk al sedert 2016 nie, ek kan daarvan getuig. Iemand kan in ‘n regte krisis in beland, en waar gaan hulle hulp vandaan kom? Nie van 10111

Di ·

Martie slaan die spyker op die kop. Meerderheid is absoluut onbevoeg en te sleg om hulle werk te doen. Sit net daar en wag vir die volgende salaris. Het self in die Staat gewerk en glo my, dis skokkend om te sien hoeveel lui, onbevoegde mense in poste sit wat nie ‘n steek werk verrig in ‘n dag nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.