Luister: Dozi sing weer ná ʼn dekade

Dozi. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Vir langer as ʼn dekade het Dozi gedink dat hy eintlik klaar met die musiekbedryf is – toe vind hy uit dat die musiekbedryf nog nie klaar met hom is nie.

Dié gewaarwording het die rasperstemsanger getref toe hy besef het dat hy sy Godgegewe talent onder ʼn maatemmer hou deur homself so weg te hou van die mikrofoon af. Hy het nooit werklik die musiekwêreld verlaat nie, veral nie met sy gewilde musiekvenue, Back to the roots, wat deur die jare ʼn tuiste vir verskeie musikante geword het nie. Dit is by dié venue, op sy kleinhoewe net buite Hartbeespoort, waar hy hoofsaaklik opgetree het, hoewel dit sy Kaapse aanhangers gepla het dat hy nie meer toer nie.

Dozi meen dit het tyd geword dat hy weer sy kitaar optel, in die toerbus klim en sy musiek weer ver en wyd deel.

“Ek is te oud om te stres, en buitendien hou ek nie van stres nie,” erken hy aan Maroela Media. “As jy stres, leef jy verkeerd.”

Kort voor lank het hy ʼn luitjie vir sy voormalige bestuurder, Louis van Wyk, gegee met die hoop om weer sy musiekloopbaan aan die gang te skop. Hy was aanvanklik nie te ingenome met die idee nie, wat Dozi laat wonder het of hy nie maar sy kleinhoewe geheel en al moet verkoop en aftree nie. Hy is immers iemand wat homself nie laat afskrik deur groot besluite nie, trouens dit is byna altyd die soort besluite wat hy neem.

“Hy met my een oggend teruggebel en ingestem om my te help. Sy voorwaardes was egter dat ek nie meer moet kuier nie, en dat hy nie meer lus is vir jongmensprobleme nie,” onthou Dozi. “Ek sê toe vir hom dat ek vir ʼn jaar en ʼn half nie meer kuier nie en dat ek ernstig oor die herlewing van my musiek is.”

(Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Dozi het voor daardie oproep eintlik reeds ʼn string nuwe liedjies gehad wat gereed gestaan het soos ʼn resiesperd wat wil laat waai.

Hy het in daardie tyd van sy lewe ook weer mooi na die titel van musikant, wat hy al jare lank op sy mou dra, gekyk. Dit het hom laat wonder waarom hy ʼn musikant geword het en waarom hy graag dit vir die res van sy lewe wil doen. Hy word immers 60 in Maart vanjaar, ʼn verjaarsdag wat hom teruggeruk het na wat sy skeppingsdoel in die eerste plek was.

“ʼn Musikant is iemand wat ander mense moet laat ontspan en goed voel. Ek meng nie my musiek met politiek nie, ek maak musiek omdat ek ʼn musikant is.”

Dozi erken dat sy voltydse terugkeer na die musiekbedryf hom aanvanklik aan die stres gehad het, 12 jaar is ʼn lang tyd, en hy het nie eintlik geweet wat om te verwag nie.

Slegs ʼn week ná Louis ingestem het om Dozi te help, het hy uitgevind dat die hele Maart reeds vol met optredes reg oor die land bespreek is.

“Ek het 28 vertonings in Maart. Ek dink nie ek hoef myself meer te bewys aan mense nie. As jy nie van my hou nie, moenie na my optredes toe kom nie. As jy van my hou, kan jy kom.

“Enige mens gaan deur fases, en ek was verskriklik lank jonk. Ek wou nie ontslae raak van daardie jong deel van my nie – jonk is lekker. Ek sê altyd vir skoolkinders dat skool die lekkerste tyd in ʼn mens se lewe is. Jy het geen bekommernisse nie.

“Grootmense het nie daardie luuksheid nie, ons het baie stres. Dit is waar musiek inkom: dit kan daardie stresvlakke bietjie in toom hou.”

Nuwe musiek vir ʼn nuwe Dozi

“Ek is so gereed jy kan met my seep kook,” sê Dozi oor die vooruitsig om in Maart weer die verhoog te betree.

“Ek is die blydskap vanself, want ek het uiteindelik weer gesien dat musiek my lewe is. Ek kan niks anders doen nie.”

Daar is ʼn paar liedjies wat Dozi reeds in die argief gereed het om uit te reik. Een van dié liedjies was “Toe die engel aan die water raak”, ʼn liedjie wat hy vroeër vanjaar saam met Nádine uitgereik het.

Die betekenis van dié liedjie loop diep, sê hy, dit is juis waarom hy Nádine gevra het om die liedjie saam met hom te sing.

Alles verander, maar sy geloof nie

Dozi was van jongs af ʼn rebel, erken hy, maar daar is een ding wat hy vandag steeds gemeen het met die klein witkopseuntjie wat in sy kinderjare op plaas rondgehardloop het – sy geloof.

“Ek is so geseënd dat ek by die Here gebly het. Dit is die ultimate in my lewe,” sê hy.

“Ons stres oor simpel goed. Ek glo jy word vir jou ma en pa geleen. Almal dink dit is jóú kind, of mý kind – jy is God se kind.

(Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

“Ek dink ons moet ons kinders weer leer om dankbaar te wees. Dit is een van die belangrikste goed in die lewe. As ek wakker word in die oggend, weet ek dat my lewe in God se hande is. Ek kan nie sê wat vanaand gaan gebeur nie, wat nog te sê van of ek Desember saam met jou in Hartenbos gaan wees?

“Ek is nie die ou wat die Bybel die beste ken nie, maar ek weet waar my geluk vandaan kom, omdat ek weet waar my krag vandaan kom.”

  • Luister boaan na ‘n volledige klankonderhoud met Dozi. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Louise ·

Wat ‘n voorreg om hom te sien optree by “Kamp Vrede” hier in Namibia. Dit was awesome.

Miena ·

Wow – pragtige lirieke en melodie.
Dit is uitsonderlik baie mooi. Ek wil dink dat hierdie naas Pennies op die spoor een van sy beste werke nòg is.

Welgedaan Nadine & Dozi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.