LUR in Noordwes vra leerders moet vroegtydig registreer

Argieffoto

Mmaphefo Matsemela, Noordwes se LUR vir onderwys, het Woensdag ouers van dié provinsie gemaan om hulle kinders vroegtydig vir die komende skooljaar te registreer.

Volgens Matsemela moet ouers en voogde kinders so gou as moontlik by die skool van hul keuse registreer sodat die departement van onderwys die nodige leermateriaal volgens die aantal leerders wat by ’n spesifieke skool ingeskryf het, kan verskaf.

Dit sal ook die lang toue aan die begin van die akademiese jaar aansienlik verminder en sodoende toelaat dat onderrig reeds op die eerste skooldag van die akademiese jaar kan plaasvind, het Matsemela verduidelik.

Registrasies is reeds in April vanjaar oopgestel en sluit op 30 September.  Dié registrasies sluit in leerders wat vir die eerste keer moet registreer in die geval van graad eens, asook diegene wat van skool verander en die wat volgende jaar hoërskool toe gaan.

Ouers en voogde het gesertifiseerde geboortesertifikate, immuniseringskaarte, oordragbriewe, waar toepaslik, sowel as ʼn kinders se laaste akademiese rapport nodig om leerders te registreer.

In die geval waar ʼn leerder nie ʼn Suid-Afrikaanse burger is nie, vereis die departement ʼn bewys van verblyf asook die nodige leerderstudiepermitte of werkspermitte van die ouers of voogde.

Die departement hoop om laat registrasies te vermy wat volgende jaar tot ʼn tekort aan handboeke en oorvol klaskamers kan lei, het die LUR gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.