Lyfstraf in skole: Leerders gemaan om hand op te steek

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Die United Democratic Movement (UDM) verwelkom ʼn uitspraak in die hoogste hof van appèl in Bloemfontein in ʼn saak teen die Suid-Afrikaanse Raad van Opvoeders (Saro).

Die saak hou verband met twee onderwysers wat lyfstraf toegedien het op onderskeidelik twee gr. 2-leerders en een gr. 5-leerder. In een geval het ʼn onderwyser ʼn leerder met ʼn PVC-pyp oor die wang geslaan. Die leerder moes ʼn noodoperasie ondergaan.

Die appèlhof het bevind dat Saro die besluite en sanksies wat hy vroeër teen die twee onderwysers opgelê het, moet heroorweeg om te voldoen aan sy grondwetlike verpligting om in die beste belang van leerders op te tree. Saro moet ook gepaste regstellende sanksies oorweeg om te verseker dat die twee onderwysers, onderskeidelik van Gauteng en Limpopo, bygestaan word om in die toekoms gepaste en niegewelddadige dissiplinêre maatreëls toe te pas.

“Volgens ʼn verslag deur Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) woon byna die helfte van kinders wat geweld by skole beleef, in die Oos-Kaap, Vrystaat, KwaZulu-Natal en Noordwes,” sê Yongama Zigebe, sekretaris-generaal van UDM. “Die verslag dui daarop dat meer kinders landswyd lyfstraf deur ʼn onderwyser beleef het tussen 2009 en 2019. Die UDM is teleurgesteld en besorg oor berigte van lyfstraf wat in sommige provinsies voortduur.”

Zigebe sê die party maan leerders, wat aan lyfstraf onderwerp is, om na vore te kom en dit aan te meld.

Maroela Media het vroeër berig ’n Oos-Kaapse onderwyser is tydelik geskors hangende ’n interne ondersoek nadat dié na bewering lyfstraf op ’n matrikulant in die klaskamer toegedien het. Die onderwyser van die Sandi Senior Secondary School in Ngqeleni is geskors nadat foto’s van die matriekmeisie se geswelde hand op sosiale media versprei is.

Die presiese besonderhede van die voorval is nog onbekend.

Die Oos-Kaapse departement van onderwys het gesê die matrikulant se ouers is aangeraai om ’n saak van aanranding by die polisie aanhangig te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Martie ·

Gee hulle pak. Niemand se hulle moet met pype aangerand word nie maar ‘n goeie paar houe sal hulle net goed doen. Kinders hopeloos te parmantig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.