Ma en drie kinders doodgekap

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Andri Tambunan / AFP)

ʼn Ma en haar drie kinders is Vrydagaand dood in hul huis in Piet Retief, Mpumalanga, aangetref.

Die drie is vermoedelik met ʼn byl bygekom en het leweloos op die vloer van die huis gelê toe polisielede eindelik daarin kon slaag om die deur oop te breek.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê beamptes het kort voor 22:30 op die gru-toneel afgekom nadat besorgde familielede geruime tyd nie die oorlede ma in die hande kon kry nie.

“Die polisie in Piet Retief het op die familie se oproep gereageer, maar kort daarna besef dat die huis in Phola Park gesluit is,” sê hy.

“Die beamptes moes die deur oop forseer en het dadelik op die liggaam van ʼn seun in die kombuis afgekom.”

Die beamptes het die huis gefynkam en op nog twee kinders se liggame, ʼn meisie en ʼn seun, asook die ma van die kinders afgekom.

Die 47-jarige ma, 11-jarige seun en sesjarige dogter se liggame was in dieselfde vertrek. Die polisie het ook op ʼn byl in die vertrek afgekom, wat vermoedelik gebruik is om die slagoffers te vermoor.

Die seun wat in die kombuis gevind is, is geïdentifiseer as die ander seun se tweelingbroer.

Paramedici het die vier slagoffers op die toneel dood verklaar.

“Na verdere ondersoek het dit aan die lig gekom dat die vermeende moordenaar die slagoffers in die huis toegesluit het.”

Volgens Mohlala is die ma en haar kinders Dinsdag vir die laaste keer lewend gesien.

Die polisie het ʼn ondersoek na die voorval begin, maar niemand is al in verband met die moorde in hegtenis geneem nie.

Die polisie is wel op soek na die pa van die kinders wat gesterf het, aangesien hy “van groot hulp vir die polisieondersoek kan wees”. Die 55-jarige pa kon nie by sy adres in Piet Retief opgespoor word nie.

Genl.maj. Zeph Mkhwanazi, waarnemende provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga, het sy skok oor die voorval uitgespreek en ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om nie die reg in eie hande te neem nie.

“Om weerlose vroue en kinders aan te val word beskou as lafhartige gedrag, daarom is dit nodig dat die reg sy gang gaan.”

Enigiemand met inligting oor die moorde kan kapt. Dumisani Gumbi by 082 493 1962 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.