Ma, kleuters brand dood in huis

Argieffoto

’n Ma en twee kleuters is Maandag dood toe ’n brand in die gesin se huis in Springs, Gauteng, uitgebreek het.

Hein Erasmus (34) en sy stiefpa, Gerhard du Plooy (78), het daarin geslaag om betyds uit die brandende huis te ontsnap. Hein se vrou, Dellors (38), en hul twee dogtertjies, Uveniqeu (4) en Jasmin (2), het egter in die brand omgekom.

Danie Roodt, eienaar van JodaMed EMS, is omstreeks 22:00 na die brandende huis ontbied. Daar het hy Hein en Gerhard ongedeerd buite die huis aangetref.

“Ek en ’n reddingswerker van ’n ander reddingsdiens het die veiligheidshek van die kombuisdeur oopgebreek en só toegang tot die huis verkry. Dellors het agter die kombuisdeur gelê. Ons het haar aan die arms gevat en buitekant toe gesleep. Ek het haar probeer bybring, maar sy het reeds aan haar brandwonde omgekom,” sê Roodt.

Volgens Roodt het hy en die ander reddingswerker teruggegaan in die huis om die twee kleuters te red.

“Ons het Uveniqeu by een van die kamerdeure gekry. Sy het nie ernstige brandwonde opgedoen nie, maar het weens rook versmoor.”

Danie Roodt van JodaMed EMS (Foto: Verskaf)

Volgens Roodt het hulle Jasmin in die huis gekry nadat die brandweer op die toneel opgedaag en die brand geblus het. Die brandweer het ongeveer 40 minute gevat om die brand te blus.

“Ons het Jasmin op die vloer by ’n kamervenster aangetref. Sy was byna onherkenbaar verbrand.”

Martie de Villiers, voorsitter van die Solidariteit Helpende Hand in Springs wat as woordvoerder vir die gesin optree, sê volgens inligting het Gerhard vir Hein wakker gemaak nadat hy rook geruik het. Hulle is uit die huis en dit is toe dat hulle sien ’n gedeelte van die huis brand.

“Hulle kon egter nie teruggaan in die huis nie, aangesien die vlamme binne sekondes erger begin woed het,” vertel De Villiers aan Maroela Media.

Die oorsaak van die brand word nog ondersoek.

Volgens De Villiers het die gesin alles in die brand verloor. Helpende Hand samel nou skenkings en geldbydraes vir die gesin in. Die organisasie staan Hein en Gerhard ook emosioneel by.

“Hein en Gerhard benodig dringend kos, klere, breekware, kombuistoestelle en beddegoed.”

Enige skenking kan hier gemaak word.

’n Roudiens vir ma en dogters sal na verwagting volgende Saterdag om 10:00 in Springs gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Misky ·

Dit is tragies en so hartseer. Daai arme dogtertjies was nog so klein en moes so bang gewees het. Innige simpatie met die naasbestaandes.

Aletta ·

Baie hartseer maar is ‘n ouer se eerste instink nie om jou kinders te kry en nie ongedeerd buite die huis aan getref te word nie.

Simoné ·

Het die mans die kinders gaan probeer help of net uitgehardloop en aangeneem dat ‘n 4 en 2 jarige gaan weet hoe om uit n brandende huis te kom? Bietjie verdag

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.