Maak jou finansies só resessie-vry

geld-klein-geld-finansies

Geldkenners verduidelik hoe om elke sent te laat tel in SA se moeilike ekonomiese tye. Foto: Pixabay/Pexels.com

Suid-Afrika se ekonomie is eers na rommelstatus afgegradeer en nou is die land in ʼn tegniese resessie.

Ekonome is dit eens Suid-Afrikaners is besig om te verarm en die toekomstige groeivooruitsigte lyk eerder stormagtig as rooskleurig.

Suid-Afrikaanse verbruikers word aangeraai om die gordel stywer in te trek om sodoende hul rande te rek, maar die vraag op almal se lippe is: Hoe doen ons dit?

Die goeie nuus is egter dat geldkenners meen ʼn mens kan die resessie oorleef en selfs floreer in die swaar ekonomiese omstandighede!

“Dit is so maklik om net meegesleur te word deur die negatiwiteit as jy oor die makro-ekonomiese omstandighede oplees. Jy moet egter net een ding onthou: meer mense het al miljoenêrs geword in tye van resessies as in die tyd van ekonomiese oplewing,” het Donna McCallum, ook bekend as Suid-Afrika se eie “Goeie Fee”, gesê.

Sy het al duisende mense gehelp om hul skuld af te skud en só finansiële vryheid te betree.

McCallum meen ʼn resessie is die ideale geleentheid om weer na jou geldsake te kyk en te vra hoe jy jou finansies op ʼn slimmer, beter manier kan bestuur.

Donna-03

Donna McCallum glo daar is altyd ‘n manier om nog ‘n rand of twee te spaar, jy moet net slim besluite maak. Foto: Verskaf.

Dagboek hou van elke sent

Sy beveel aan dat jy uitvind hoeveel geld jy bestee, asook presies waarop jy dit bestee. McCallum sê ʼn mens moet vir minstens ʼn maand of drie dagboek hou van elke sent wat bestee word.

“Jy kan dagboek hou deur ʼn notaboekie by jou te hou of een van die talle apps te gebruik wat jy sommer direk op jou slimfoon kan aflaai. Die dagboek is beslis nie om jou verder in te perk nie, maar dit help jou eerder om te besef waarop jy jou geld bestee sodat jy beter besluite kan neem. As jy byvoorbeeld uitvind jy bestee R200 per maand op wegneem-koffies kan jy dalk reeds soveel as R100 spaar deur een helfte van die oggend self jou eie koppies koffie tuis te maak. Dieselfde met iets soos jou maandelikse satelliet-televisie-subskripsie. Vra jouself af of jy werklik so baie televisie kyk en of jy nie dalk eerder kan bespaar deur televisiekanale deur die internet te stroom of na inhoud op YouTube te kyk nie.”

Wouter Snyman, entrepreneur en uitvoerende hoof van die finansiëledienste-maatskappy Attooh, stem saam dat dit belangrik is om te weet waarop jy elke rand en sent bestee. Hy stel voor dat jy ʼn eksperiment doen en vir ʼn maand of twee ʼn koevert-stelsel gebruik om jou besteebare uitgawes optimaal te bestuur.

“Die meeste mense bestee geld wat hulle nie het nie in die hoop dat hulle iewers in die toekoms dit sal kan opmaak. In moeiliker ekonomiese tye kan jy egter nie bekostig om volgende jaar se geld vandag al uit te gee nie. Die koevert-stelsel is ʼn eenvoudige manier om jou rande te tel: Geld vir kos kom in die kos-koevertjie, geld vir petrol in die petrol-koevertjie en so aan. As jy wil gaan uiteet, moet die geld daarvoor uit die kos-koevertjie en nie die petrol-koevertjie kom nie anders gaan jy in ʼn stadium moet stap om by die werk uit te kom.”

Ester Ochse, hoof van FNB se finansiële adviseurs, sê Suid-Afrikaners glo verkeerdelik dat jy net finansiële onafhanklikheid kan behaal as jy die dag eers ryk is. “Dit gaan eintlik veel meer daaroor om goeie geldbestuursvaardighede te ontwikkel. Jy kan slegs die volle potensiaal uit jou geld haal as jy selfs die bietjie geld wat jy het deurlopend goed bestuur.”

Wouter Snyman sê die gemiddelde Suid-Afrikaner kan die meeste van hulle skuld in minder as sewe jaar afbetaal. Foto: Facebook.

Vermy skuld

“Terwyl ons rentekoerse relatief laag is, met ʼn groot moontlikheid van ʼn verlaging later in die jaar, is dit nou die tyd om jou skuld so gou moontlik te delg,” sê Snyman.

Geldkenners is dit eens: Skuld is een van die grootse vyande van finansiële sekerheid en onafhanklikheid

Snyman stel voor jy stel ʼn skuld-delgingsplan op en begin skuld met die hoogste rente, gewoonlik ʼn kredietkaart of klererekening, af te betaal. “Die oomblik as die skuld afbetaal is, gebruik jy die totale paaiement om die volgende grootste skuld, wat dalk jou voertuig se finansiering is, af te betaal. Daarna kan jy ook begin om jou huis se skuld vinniger te delg. Die gemiddelde Suid-Afrikaner kan die meeste van sy of haar skuld in minder as sewe jaar op dié manier afbetaal.”

Ochse waarsku dat jy nooit skuld moet gebruik om jou lewenstyl te finansier nie. “Gebruik skuld slegs wanneer dit regtig nodig is en maak seker jy verstaan wat die skuld se impak op jou finansies op die langtermyn is. Spaar eerder vir iets wat jy regtig wil hê as om dit sommer goedsmoeds op krediet te koop. Onthou as die rentekoerse verhoog word kan jy dalk veel meer betaal om jou skuld te delg. Dit is beter om te spaar vir die items wat jy wil koop. Jy gaan dalk ʼn bietjie langer moet wag voor jy dit besit, maar dit gaan jou op die ou einde veel goedkoper uitwerk.”

blink-plan-idee-pexels

Jy kan meer geld verdien! Jy moet net dit gebruik wat jy het en in jouself belê. Foto: Pixabay/Pexels.com

Verdien meer geld

Snyman meen die maklikste manier om jou te verskans teen enige ekonomiese afswaai is om meer te verdien.

Is dit dalk nie makliker gesê as gedaan nie? “Nee,” sê McCallum, “jy moet eenvoudig net op die uitkyk bly vir geleenthede en alternatiewe maniere om geld te verdien.

“Deesdae is dit makliker as ooit te vore om op interessante maniere ʼn inkomste verdien. Verhuur jou huis of ʼn kamer uit op Airbnb, jy kan selfs jou motor op die wyse uitverhuur. Ek verstaan heeltemal as die idees dalk nie by jou aanklank vind nie, maar jy moet bewus wees van hierdie alternatiewe maniere om geld te verdien. Jy moet oopkop dink oor maniere om ʼn inkomste te verdien want dit gaan oor hoe jy dit wat jy het kan gebruik om geld te maak vir jou.”

McCallum meen ʼn mens het eintlik nie meer ʼn verskoning om ʼn ekstra inkomste te verdien nie. “Ek is oortuig as jy eenvoudig net die vraag voorop in jou gedagtes hou van hoe jy byvoorbeeld ʼn ekstra inkomstestroom kan skep of hoe jy jou geld beter kan bestuur, sal die antwoorde na jou toe kom.”

“Jy weet op watter wyse jy tans jou inkomste verdien. Om meer te kan verdien moet jy meer waarde tot die proses toevoeg. Terwyl ondernemings dalk noustrop trek in ʼn resessie moet hulle steeds produkte of dienste verkoop. Die beste manier om meer waarde te lewer is om jouself in ʼn posisie te plaas waar jy meer weet en die kundigste persoon is waarsonder jou onderneming nie kan voortbestaan nie. Jy kan jou waarde verhoog deur mettertyd relevante kursusse te loop. Die internet is oorlopens vol van briljante kursusse wat byna niks kos nie, of baie goedkoop is, om te doen,” voeg Snyman by.

Donna-02

Donna McCallum sê dit is ook belangrik dat jy jou verhouding met geld verbeter. Foto: Verskaf.

Jou verhouding met geld

“Jy moet jou verhouding met geld verbeter. Net soos jy ʼn verhouding met mense, jou motor en selfs jou huis het, het jy ook ʼn verhouding met jou geld en vir die meeste mense is dit ʼn negatiewe verhouding,” sê McCallum.

“Soveel as 95% van die mense waarmee ek werk se eerste ervaring in hulle kinderjare met geld was negatief. Jy onthou jou ma wat altyd gesê geld groei nie aan bome nie of jy kan nie iets kry nie want daar is net nie genoeg geld daarvoor nie, of jy het by die skool gesien die ander kinders is beter af as jy.

“Dit veroorsaak dat geld net in negatiewe lig beskou word en daar die persepsie moet verander word. In my Money and You, ʼn e-boek, verduidelik ek jou hoe om dit te doen en gee jou ʼn paar stukkies praktiese raad om dit reg te kry sodat jy jou geldsake beter kan bestuur en sommer so ook meer geld na jou te lok.”

“Om jou ingesteldheid jeens geld te verander is die eerste stap in die regte rigting. Jy moet die manier waarop jy oor geld dink verander want so kan jy dit bereik wat jy wil, ongeag jou inkomste,” het Ochse bygevoeg.

Vir meer finansiële raad of slim geldwenke besoek:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Marinda ·

Ek klink dalk nou sinies, maar julle maak dit so maklik klink. Hoe presies doen mens dit? Ek raak skoon histeries aan die lag van die artikel. Jy het nie skuld nie, maar jy moet huur betaal, kos koop, krag koop, petrol in jou motor gooi. Versekering betaal. R30 op jou selfoon laai sodat jy darem nou en dan met jou kinders kan gesels wat ver bly. Salarisse groei nie teen dieselfde tempo as die ekonomie nie. Daar is nie eers geldjie om te spaar nie. My beursie is so leeg, selfs die motte het gevlug. En betaal dag lê nog baie ver. Ek koop net wat ek nodig het, maak nie eers meer n grocery lysie nie. Ek sê maar net.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.