Maande ná moord en nog geen antwoorde

Mia Heuer by haar ma, Marietha Willemse. (Foto: Verskaf)

Die familie van Marietha Willemse wat in Junie vanjaar op die Pinnacle Point-landgoed in Mosselbaai vermoor is, het sedertdien private speurders aangestel om antwoorde rakende die grusame moord te verskaf.

Die familie het ook ’n beloning van R50 000 uitgeloof vir nuwe inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van die moordenaar(s).

Dít omdat die polisie maande later nog geen antwoorde vir die familie blyk te hê nie, vertel Mia Heuer, dogter van Johannes en Marietha Willemse wat op 4 Junie in die huis reg langs hul dogter se huis in Albatrosstraat aangeval is.

Marietha is tydens die aanval grusaam vermoor.

“Ons kry nie berusting nie, want daar gebeur niks nie,” vertel Heuer nou meer as drie maande later.

Mia Heuer by haar ma, Marietha Willemse. (Foto: Verskaf)

“Ek het geen vertroue in die polisie om hul werk te doen en die moordenaar op te spoor nie … Daar is geen terugvoer nie. Die laaste wat ons van die polisie gehoor het, was toe hulle aangedui het dat die dossier volledig is. Dit was omtrent twee maande gelede.

“Almal gaan aan asof my ma nooit bestaan het nie.

“Ek vermoed dit gaan maar so met almal in hierdie land wat deur misdaad geraak word. Jy moet maar net leer om sonder daardie persoon te cope.”

Talle vrae

Daar is meer as ’n maand gelede ’n lasbrief uitgereik vir die inhegtenisneming van Clement Siabata Kholoane van Lesotho nadat hy met die moord op Pinnacle Point verbind is. Nog geen inhegtenisneming is sedertdien gedoen nie.

Sy hou ook nie meer haar asem op nie, erken Heuer.

Johannes en Marietha Willemse. (Foto: Verskaf)

Daar word beweer dat Kholoane twee weke voor die moord op haar ma in hegtenis geneem is nadat hy by ’n huis in Pinnacle Point ingebreek het. Soos Heuer verstaan, is Kholoane die volgende dag op waarskuwing vrygelaat.

“Dít net sodat hy twee weke later [na bewering] kon gaan moor.”

Heuer vermoed ook dat daar moontlik meer as een verdagte betrokke is by die moord op haar ma. Sy vertel dat daar kort voor die aanval op haar ouers by twee ander huise op die landgoed ingebreek is. “My ma-hulle was die derde stop.”

Die polisie het intussen aan Heuer gesê dat twee stelle vingerafdrukke op die toneel van die eerste inbraak gevind is. “Wat het dan van die ander een geword?” wil sy weet.

Woede

“Dit is verskriklik moeilik om oor die woede te kom en die feit dat die polisie nie moeite doen om terugvoer te verskaf nie, maak dit nie makliker nie. Die woede gaan nie weggaan voordat iemand in hegtenis geneem word nie,” sê Heuer.

“My ma het ’n ontsettende leemte in ons lewe gelaat. Sy was die familie se anker.”

Marietha en Johannes Willemse. (Foto: Verskaf)

Heuer was op haar wittebrood toe sy die oproep oor die aanval op haar ouers ontvang het.

“Ek het dit heeltemal verloor. Ek was histeries,” onthou sy nou.

“Hulle het eers gesê daar was ’n voorval. Toe hoor ek my ma is dood. Die inligting het stuk vir stuk ingekom … Dit is ’n oproep wat mens nie moet kry nie.

“My ma-hulle het langs my gebly. Ek het hulle [vanaf KwaZulu-Natal] help aftrek sodat ek na hulle kon omsien en tyd met hulle kon deurbring voordat ek hulle nie meer by my kan hê nie.”

Heuer en haar ouers se huis was reeds voor die moord in die mark. Johannes en Marietha sou ’n maand ná die moord Hartenbos toe verhuis.

Heuer en haar man beplan nou om binnekort na George te verhuis. Haar pa, ’n lyer aan Alzheimer se siekte en demensie, is ná die moord na ’n versorgingsoord op die dorp verskuif.

“Jy kan jouself net indink waardeur my ma en pa gegaan het. Dit is daardie deel wat ’n mens ry. Dit breek jou, want niemand stel daarin belang om jou te help om berusting te kry nie.”

Maroela Media het vroeër vandeesweek ’n navraag aan die polisie gerig rakende hul ondersoek na die moord op Marietha Willemse. Daar word steeds op terugvoer gewag.

Lees al Maroela Media se vorige berigte oor die moord hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

TO ·

Presies dieselfde met my seun. Die 7de Sept was dit reeds 14 jaar. Het al gebid, gesmeek aangesluit by kastige organisasies, die sogenaamde baasspeurder graf toe met my geld, maar nee hys dood en begrawe vir mense, maar vir my sal hy altyd bestaan. Ek bid vir julle sterkte toe, mag God se hand leiding gee

Veronika ·

Mense die doodstraf sal moet her-ingestel word, en die polisiediens se korrupsie uitgeroei word en ordentlike iets tussen die ore aanstellings gedoen word!

Christine ·

Veronika, jy wil beslis nie ons korrupte regstelsel beheer laat kry oor jou en jou mense se lewens nie. Wetsgehoorsames gaan gehang word en misdadigers gaan vrygespreek word. Be careful what you wish for.

Dries ·

Ai, wat n hartseer storie. My simpatie. Hoop die skuldides word gevang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.