Mafe na ander psigiatriese hospitaal gestuur

Zandile Christmas Mafe tydens ‘n vorige hofverskyning (Foto: RODGER BOSCH / AFP)

Zandile Mafe, wat daarvan beskuldig word dat hy verlede jaar se verwoestende brand by die parlementêre kompleks in Kaapstad gestig het, is vir waarneming na ʼn psigiatriese hospitaal in die Oos-Kaap gestuur.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het beveel dat Mafe in die Fort England- psigiatriese hospitaal opgeneem word om vir 30 dae sielkundig waargeneem te word.

Regter Nathan Erasmus het voorts die psigiaters by die hospitaal beveel om vas te stel of die beskuldigde weens geestesongesteldheid en intellektuele gestremdheid daartoe in staat is om die hofverrigtinge te verstaan om ’n behoorlike verdediging te maak, of hy ten tyde van die pleging van die misdryf die onregmatigheid van die betrokke handeling begryp het en of hy toerekeningsvatbaar is.

Die nodige verslae moet by die hospitaal se registrateur ingedien word en dan met die staat en verdediging gedeel word, asook met die adjunkdirekteur van openbare vervolging in Makhanda. Dit moet teen 8 Mei geskied.

Mafe is voorheen by die Valkenberg- psigiatriese hospitaal behandel, maar beweer hy word sleg behandel daar, waarna sy regspan versoek het dat hy na ʼn ander instelling gestuur word.

Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het Mafe al by drie geleenthede geweier om in die hof te verskyn. Hy ook glo geëis dat hy van ʼn ketel en TV voorsien word. Mafe het verder ook al aangevoer dat hy op ʼn eetstaking is en het ook al botweg geweier om sy tronksel te verlaat.

Met sy laaste verskyning voor regter Erasmus het hy aan die hof gesê hy sal nie teruggaan na die Valkenburg- psigiatriese hospitaal nie. Mafe sal na die Pollsmoor-gevangenis teruggestuur word aan die einde van sy waarneming by die Fort England- psigiatriese hospitaal. Hy moet op 8 Mei weer in die hof verskyn.

Mafe staan tereg op aanklag van huisbraak met die doel om ʼn brand te stig, brandstigting, terrorisme en diefstal. Die klagte spruit uit die brand op 2 Januarie verlede jaar by die parlement.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.