Maimane saam met klante aangehou in restaurant

Mmusi Maimane (Foto: ANA)

Wat veronderstel was om ’n rustige aand uit vir die politikus Mmusi Maimane te wees, het in ’n nagmerrie ontaard toe gewapende rowers Woensdagaand op ’n restaurant in Kaapstad toegeslaan het waar Maimane en sy swaer drankies gaan drink het.

Maimane, leier van die One South Africa Movement, en verskeie ander klante is van hul besittings beroof toe drie gewapende mans kort voor 20:00 by die restaurant in Claremont ingestorm het.

“Ons was skaars 15 tot 20 minute daar toe drie gewapende mans instorm, hul vuurwapens te voorskyn bring en die kroegman op die vloer dwing. Dit is toe dat ek besef dit is ’n gewapende roof,” vertel Maimane Donderdag aan Maroela Media.

Die rowers het die personeel en klante van die betrokke restaurant beveel om op die vloer te lê voordat hulle van tafel tot tafel gegaan en klante se besittings gebuit het.

’n Ander klant, wat verkies het om anoniem te gesels, vertel dat sy onder ’n tafel ingekruip het toe die rowers toeslaan. Sy is ongedeerd.

“Ek het eers met my rug na die deur gesit. Toe ek oor my skouer kyk, het ek een van die rowers oor die kroegtoonbank sien klim met ’n vuurwapen in sy hand. Hy het mense gedreig en geskree hy soek geld.”

Sy vertel dat sy eers badkamer toe gehardloop het voordat sy terug is na die tafel om haar selfoon te kry. Een van die rowers het op haar geskree om op die grond te gaan lê en sy het saam met ander klante onder ’n tafel ingekruip.

Die toneel buite die restaurant in Claremont, Kaapstad. (Foto: Mmusi Maimane/Instagram)

“Hy het die geweer in ons gesigte gedruk en gesê hy soek ons selfone. Ek kan nie onthou vir hoe lank dit aangehou het nie. Ek kan net onthou mense het hul selfone oor my skouer na hom toe gegooi.”

Hulle sou daarna van onder die tafel hoor hoe die rowers van die een na die ander tafel gaan. “Toe word dit stil.”

Volgens Maimane het die plaaslike sekerheidsmaatskappy gereageer en die verdagtes het op die vlug geslaan.

Ook hy is ongedeerd maar getraumatiseer. “Te veel mense beleef te gereeld voorvalle soos die,” meen Maimane.

“Te veel burgers beleef misdaad. Ek dink nie ons praat genoeg oor misdaad nie. Ons almal beleef dit en leef in vrees terwyl die misdadigers skotvry rondloop. Dít terwyl ons minister van polisie mooi openbare toesprake lewer en die polisie sonder vuurwapens en voertuie moet klaarkom.

“Hulle verloor die oorlog teen misdaad. Dit is die bottom line.”

Maimane en die klant is egter albei vol lof vir die polisie wat vinnig was om op die rooftog te reageer.

Sers. Wesley Twigg, woordvoerder van die polisie, sê die verdagtes het met selfone en ’n onbekende bedrag geld op die vlug geslaan.

“Geen skote is afgevuur en geen beserings is aangemeld nie.”

Die polisie ondersoek ’n saak van sakeroof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Swerwer ·

Welkom Mmusi Maimane tot die werklikheid. Nou het jy gevoel hoe duisende landsburgers daagliks deur hierdie kommuniste deurloop.

WILLEM ·

Misdaad in RSA ruk hand uit. Ons bly in ons huis-tronk, met elektriese heinings en diefwering, en dit kos geld. Wie is verantwoordelik vir al die misdaad/verkragtings/ korrupsie ens?? Dis net ‘n deel van ons bevolking wat skuldig is, hoe kan hulle koppe geswaai word om met respek op te tree teen oor hulle mede burgers??

Saartjievandiebosveld ·

Welkom tot die misdaad in Suid-Afrika…ons leef Elke dag daarmee….miskien sal jy jou verstaan…nou dat jy dit aan jou eie vel gevoel het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.