Man beskadig Uber in woedebui

Die skade aan die motor gaan derduisende rande beloop (Foto: Verskaf)

’n Uber-bestuurder van Pretoria is tydelik sy inkomste kwyt nadat ’n passasier na bewering Donderdagaand sy motor tydens ’n woedebui beskadig het.

Nie net kan Frederik van der Merwe (36) dalk vir lank nie sy werk doen nie, hy moet ook opdok vir die skade wat aan sy Suzuki Dzire gerig is. Die skade gaan hom byna R40 000 uit die sak jaag. Die motor is nog in April splinternuut uit die boks gekoop.

Van der Merwe se deure aan die bestuurderskant is erg beskadig en die vensterruit by die bestuurdersdeur is heeltemal uitgeslaan.

Van der Merwe het die passasier Donderdag omstreeks 21:30 by ’n kuierplek in Lynnwoodweg opgelaai en hom na sy woonkompleks in Silver Lakes geneem. “Die man se foonbattery was pap en hy het gevra of ek hom huis toe kan vat sonder dat hy ’n rit op die Uber-app bestel,” vertel Van der Merwe.

By die kompleks gekom, kon hy egter nie by die hek inkom nie omdat sy selfoon se battery pap was en hy dus nie self die hek kon oopbel nie. “Die sekerheidswagte by die hek wou ons ook nie in die kompleks inlaat nie weens veiligheidsredes.

“Ek kon sien die man raak geïrriteerd oor die situasie. Hy het toe gesê hy gaan sommer by die kompleks instap. Voor hy die pad gevat het, het ek hom herinner om my te betaal. Hy het my begin vloek en gevra hoeveel hy my skuld. Hy het toe gesê dat hy nie ’n bankkaart in sy besit het nie, maar ek het nie vir sy storie geval nie. Hy het eindelik erken dat hy wel ’n kaart het en ingestem om te betaal met die kaartmasjien wat ek in my kar hou.”

Die man het na bewering die motor geskop en geslaan (Foto: Verskaf)

Volgens Van der Merwe het hy die kaartmasjien uit die motor se ruit na die man uitgehou om die transaksie te doen, toe die man hom na bewering deur die ruit begin aanrand het.

“Ek het die ruit probeer toemaak, maar hy het dit stukkend geslaan. Hy het ook die motordeure begin skop en slaan. Hy het toe die yster koerantstaander gegryp en my kar daarmee bygedam.”

Van der Merwe sê hy het met sy motor agteruit gery in ’n poging om weg te kom, waarna die man by die kompleks ingehardloop het.

“Die sekerheidswagte het vir my nommers van die polisie gegee om te bel. Ek het ’n paar nommers gebel, maar voor dooiemansdeur te staan gekom. Ek het om 22:00 by 10111 deurgekom en hulle het 45 minute later opgedaag, maar wou nie die man in hegtenis neem nie.”

Volgens Van der Merwe wou die polisiebeamptes nie die man se huis betree om hom in hegtenis te neem nie, aangesien hulle glo “nie sy toestemming het om in sy huis te gaan nie” . “Hulle het aan my gesê die deur staan oop en dat hulle bang is hulle word van diefstal beskuldig as hulle die man se huis sonder toestemming betree.

“Ons is na die nabygeleë vulstasie om my verklaring af te neem en ek het my pa, JS, van die voorval ingelig en hy het met die polisiebeampte gepraat, wat dieselfde redes aangevoer het waarom hulle nie paslik met die skuldige handel nie. My pa het die polisie oor die selfoon probeer oorreed om wel ’n inhegtenisneming te doen, maar hulle het geweier. Hy het hulle gevra om met hul skof- of die stasiebevelvoerder te praat, maar hulle was nie bereid om die kontakbesonderhede te verskaf nie en wou ook nie aandui van watter stasie hulle is nie.  Nadat my pa aangedui het dat hy dit met die minister en areakommissaris gaan opneem, was hulle baie kwaad en het teruggegaan na die kompleks en die inhegtenisneming uiteindelik gedoen.”

Die man is omstreeks 12:30 in hegtenis geneem en is tans in aanhouding.

Van der Merwe het die polisie vergesel na Boschkop-polisiestasie en het ’n amptelike saak van opsetlike saakbeskadiging en aanranding aanhangig gemaak. Maroela Media het die verklaring en saaknommer onder oë gehad.

JS het vir Maroela Media gesê hy is teleurgesteld oor die polisie se aanvanklike onbehulpsaamheid

“Die verskonings wat hulle gegee het waarom hulle nie die man in hegtenis kan neem nie, het nie sin gemaak nie,” sê Van der Merwe.

Van der Merwe sê die voorval het ook ’n vrees by hom ingeboesem om weer as Uber-bestuurder agter die stuurwiel te klim. Hy werk die afgelope twee maande as Uber-drywer.

“Hoewel dit die eerste keer is dat só iets met my gebeur, is ek bang dit gebeur weer. Ek het dit glad nie verwag nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Delia ·

So jammer dat dit met jou moes gebeur…iemand wat net eerlik geld wou verdien.

Hennie Biebouw ·

Jy weet hoe werk “dagvaar”…innocent until proven broke….

miche ·

Ek voel regtig jammer vir die Polisielede. Wat mág hul doen en wat nie?
(Blyk asof die Minister nie eens seker is nie).
Wat word binne hul raamwerk toegelaat of vereis en wat nie?
Die kriminele het Dan meer regte as die slagoffers!

piet ·

Die polisielede praat snert, die Wet is baie duidelik. Hulle het die nodige magte om te betree en in hegtenis te neem as daar ‘n vermoede is dat ‘n misdaad gepleeg is. Sommer sleggeid en luiheid.

Di ·

As Polisie nie WEET wat hulle mag en NIE mag doen nie,HOORT HULLE NIE IN DAARDIE POS NIE

Jaco ·

Die hartseer van regstellende aksie: uber drywer is seker al “werk” wat dié man kon kry. Die polisie se aanvanklike optrede skreeu ook van “jy is wit; daarom help ons jou nie”.
Dis mos nou duidelik wat aan die gebeur is met regstellende aksie, BEE, radikale ekonomiese transformasie en onteiening sonder vergoeding: die owerhede van dié anti-wit SA hou regtig nie van ons nie. As ons nie eens meer behoorlike werk kan kry nie en ons belastinggeld dus nie meer goed genoeg of nodig is nie, deporteer ons dan met net die klere aan ons lywe na Europa, Amerika, Kanada en Australië. Ek begin enige dag heel van onder af in ‘n land waar daar nie iets soos ‘n “verkeerde ras” is nie.

Anton ·

Die laaste paragraaf in elke misdaad artikel staan altyd: “die polisie ondersoek die saak” Hierdie artikel wys watter leuen dit is

Toy ·

Wat gaan aan, raak van die mensdom nou van hul trollie af. Laat die man opdok, hy het ‘n keuse gehad om homself te gedra en nie soos ‘n hooligan op te tree nie. Dagvaar hom vir salaris wat jy verloor, skade aan jou motor ens.

Nie Verbaas ·

Hoekom moet hy vir die skade betaal? Voertuig moet verseker wees en gemors wat skade aangerig het moet gedagvaar word en weereens wys Cele se palukas hoe lus hulle is om hulle werk te doen. Pateties.

Elizabeth ·

Polities gemotiveerd of bloot net onwillig? Of dalk? Eis vir skadevergoeding aan jou motor, aanranding, ens. As hy in Silver Lakes woon moet hy kan betaal en sy versekering sal publieke aanspreeklikheid dek maar heel waarskynlik nie agv die feit dat hy besope was. Siviele eis.

Hennie Biebouw ·

Hy het darem seker versekering op die voertuig? Terloops, Uber bestuurders mag nie ‘n diens bied wat nie deur die APP bestel is nie…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.