Man en vrou sterf ná bylaanval in Ermelo

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

Twee mense is Saterdag dood nadat hulle vermoedelik met ʼn byl in hul huis in Sluiterstraat in Ermelo aangeval is. Nog twee mense is in die voorval beseer.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, het die slagoffers as Robert James (59) en Bangon Roopsai (50), ʼn Taiwannese burger, aan Maroela Media geïdentifiseer.

James se 25-jarige seun en sy 20-jarige meisie het die aanval oorleef. Die aard en omvang van hul beserings is nie bekend nie.

ʼn 29-jarige man is intussen in verband met die voorval in hegtenis geneem.

“Die polisie ondersoek twee aanklagte van moord, asook twee aanklagte van poging tot moord, huisbraak en motordiefstal,” het Mohlala gesê.

Die polisie het met hul aankoms op die toneel op James en Roopsai se liggame en die twee oorlewende slagoffers afgekom.

“Al vier slagoffers is vermoedelik met ʼn byl aangeval.

“Die verdagte het in ʼn wit Volkswagen Polo van die toneel gevlug wat aan een van die slagoffers behoort. Hy het in die rigting van Amsterdam gevlug, maar was sowat 10 km buite Ermelo in ʼn botsing met ʼn ander voertuig betrokke. Polisielede wat op die uitkyk vir die gesteelde voertuig was, het hom op die ongelukstoneel in hegtenis geneem.”

Mohlala het nie aangedui wanneer die verdagte in die hof sal verskyn nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.