Man gevonnis wat met WhatsApp aanhits

Argieffoto (Foto: Thomas Ulrich / Pixabay)

Philani Ronnie Gumede (36) is in die Durban-streekhof gevonnis in verband met ʼn stemboodskap wat hy op WhatsApp uitgestuur het wat geweld aangehits het.

Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, sê Gumede is ʼn boete van R10 000 of drie jaar tronkstraf, waarvan die helfte vir vyf jaar opgeskort is, opgelê. Hy is vroeër skuldig bevind op aanklag van die oortreding van die Wet op Kubermisdaad.

“Gumede was ʼn lid van Operation Dudula en in Maart 2022 het hy ʼn stemboodskap op WhatsApp uitgestuur wat ander lede in kennis gestel het dat daar ‘donder en storm in die Durbanse middestad’ gaan wees. Hy het gesê hulle gaan alle uitlanders uit Durban wegjaag. Die plan was om ondernemings, wat deur uitlanders besit word, te betree, alle inhoud te verwyder en kettings te gebruik om die persele te sluit.”

Die boodskap het op verskeie WhatsApp-groepe versprei en het uiteindelik by die polisie uitgekom.

“Gumede is ingeroep en hy het bevestig dat hy die boodskap met sy selfoon uitgestuur het na alle Operation Dudula-lede. Sy selfoon is gekonfiskeer en hy is in hegtenis geneem.”

Staatsaanklaer Nomalungelo Ntshangase het aan die hof gesê die stemboodskap het tot xenofobiese aanvalle op uitlanders gelei en in sommige gevalle is hul eiendom beskadig en geplunder.

“Die NVG verwelkom die suksesvolle afhandeling van die saak. Ons waardeer die werk wat die staatsaanklaers en polisie gedoen het. Om sulke boodskappe te versprei, kom neer daarop om die reg in eie hande te neem. Sulke wetteloosheid kan nie geduld word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Cherokee ·

Netjies. Hy het lig daarvan afgekom.
Die uitlanders, wat uit oorloggeteisterde lande gevlug het, bedel nie maar sorg vir hulle self. Ek het 4nm ‘n onderhoud gehad met 4 broers uit Ethiopië waarvan 3 ‘n supermark inDurban bedryf. Die ander een is ook in ‘n eie besigheid betrokke. Hulle bedel nie maar sorg vir hulself.

John ·

Ek voel daar is wel so bietjie dubbel standaarde hier. Word dieselfde reël toegepas op van ons politikuste en hoog-geplaastes?

Kobus ·

Ek wonder steeds wanneer gaan die Zuma kinders aangekla word en indien wel, wat gaan die straf wees

Jacques Dawie ·

Wat het van die saak teen Duduzane geword waar hy glo ook aangehits het, in die Natal onliste? Of het die aantuigings verdwyn?

Bolandse Nooi ·

“Sulke wetteloosheid kan nie geduld word nie” … maar plaasmoorde word geduld – afgemaak as òf “dit bestaan nie” óf “dis doodgewone misdadigheid, gebore uit hongersnood en armoede”?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.