Man, hondjies kom om in huisbrand

Dirk Wolvaardt saam met sy vrou, wyle Koba, dogter, Chantelle, en skoonseun, Juan (Foto: Chantelle Keyter, Facebook)

ʼn 61-jarige man is saam met sy twee honde in ʼn brand in sy huis in Mosselbaai, Wes-Kaap, dood.

Dirk Wolvaardt was ʼn oudwerknemer van PetroSA en sou volgende week 62 jaar oud word.

Sy dogter, Chantelle Keyter, vertel die brand het Dinsdag net na 18:00 in haar pa se huis in Kameeldoringstraat, Heiderand, uitgebreek.

Wolvaardt en sy twee chihuahuas kon nie betyds uit die huis kom nie en het in die brand omgekom.

“Die brand het baie vinnig versprei en alles verwoes. ʼn Gedeelte van die huis het heeltemal afgebrand,” vertel Keyter.

Die polisie ondersoek die omstandighede rondom die voorval. Die oorsaak van die brand is in hierdie stadium nog nie bekend nie.

Volgens sers. Christopher Spies, polisiewoordvoerder, sal ʼn nadoodse ondersoek Vrydag uitgevoer word om die oorsaak van Wolvaardt se dood te bepaal.

Wolvaardt het 28 jaar vir PetroSA – ʼn petroleum maatskappy – as produksietoesighouer gewerk.

Hy woon al die afgelope 32 jaar in Mosselbaai, waar Keyter ook woon.

Wolvaardt het sy vrou, Koba, in 2020 ná ʼn kort siekbed aan die dood afgestaan.

Volgens Keyter was haar pa ʼn hardwerkende man wat met trots vir sy gesin voorsien het. “Hy sou enigiets vir sy gesin doen. Niks was ooit teveel nie.”

Wolvaardt word oorleef deur sy vier kinders, Keyter en haar drie broers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sandra ·

Dis baie tragies. My innige simpatie aan sy dogter en familie vir hulle groot verlies.

Toy ·

Dit is verskriklik hartseer. My innige simpatie vir die familie.

Swerwer ·

Innige simpatie en meegevoel met Dirk Wolvaardt se familie en vriende.

Skappie ·

Baie hartseer. Sterkte aan sy gesin en vriende. Mag onse Liewe Heer julle almal styf in sy arms vashou en deur hierdie moeilike tyd dra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.