Man in hof wat glo ongemagtigde lenings verskaf

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

ʼn Man het Donderdag in die hof verskyn nadat hy glo al geruime tyd ongemagtigde lenings aan mense verskaf en boonop dié se bankkaarte behou om terugbetaling te verseker.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, polisiewoordvoerder, sê die Valke het in vennootskap met die kantoor van die Nasionale Kredietreguleerder gewerk om die verdagte Woensdag in Cunningmoor, Mpumalanga, vas te trek.

“Die span het inligting ontvang oor ʼn verdagte wat ʼn onwettige kontantleningsonderneming bedryf sonder dat hy by die reguleerder geregistreer is,” sê Sekgotodi.

“Tydens voorlopige ondersoeke is vasgestel dat die verdagte sy klante se bankkaarte behou om terugbetaling op die lenings te verseker.”

ʼn Beslagleggingsbrief is van die hof verkry en die verdagte se perseel is deursoek. Tydens die soektog is op Sassa-kaarte, bankkaarte en identiteitsdokumente beslag gelê, asook op 77 bankstate en 18 leningsregisterboeke met klante se name in.

“Die verdagte is dadelik in hegtenis geneem en het die volgende dag in die Calcutta-landdroshof verskyn.”

Die beweerde woekeraar staan nou tereg op die oortreding van die Nasionale Kredietwet. Dit is nog nie duidelik wanneer hy weer in die hof sal verskyn nie.

Genl.maj. Zodwa Mokoena, hoof van die Valke in Mpumalanga, het boosdoeners wat beslag lê op mense se identiteitsdokumente en bankkaarte om terugbetaling van skuld te verseker, gewaarsku oor die gevolge van sulke onwettige bedrywighede.

“Bejaardes word voorts aangeraai om hulle daarvan te weerhou om hul persoonlike besittings, soos Sassa-kaarte, aan rampokkers te gee, aangesien dit ook onwettig is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anel ·

Nou wie is hy? Hy was mos nou al in die hof. Dalk is daar nog mense wat deur hom bedrieg is maar hulle weet dit nie. Maak sy naam bekend!!!

Andries ·

Iemand het weer geld by hom geleen, en kan dit nie terugbetaal nie. Gee hom weg en siedaar, jou skuld is vereffen.

Onnie ·

Hier op ons dorp is ‘n paar sulke “besighede”. Hulle buit die ongeskoolde en wynverslaafde stukwerkers uit deur geld teen belaglike rente aan hulle voor te skiet. Inruil hiervoor word hul SASSA kaarte en ID’s deur hierdie mense onderskep. Hierdie mense opereer oop en bloot hier en almal weet van hulle – die polisie hou hulle blind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.