ʼn 29-jarige vragmotorbestuurder van Pietermaritzburg is Donderdagoggend vroeg in ʼn kritieke toestand na die hospitaal gehaas toe hy glo sonder rede deur ʼn ander man op die N3 by die Kerkstraat-afrit geskiet is.
Chris Botha, Netcare 911-woordvoerder, sê die ambulansdiens is omstreeks 02:30 Donderdag na die toneel ontbied.
Botha sê hoewel die man in ʼn kritieke toestand is, kon hy daarin slaag om aan paramedici te vertel dat hy deur ʼn onbekende man in die maag geskiet is nadat hy by die Kerkstraat-afrit stilgehou het. Die man het gesê hy is om ‘geen rede’ geskiet.
Hy het glo uit die vragmotor gespring en te voet gevlug tot by ʼn nabye vulstasie, waar werknemers die polisie ontbied het.
Dit is nie seker waarom die vragmotorbestuurder stilgehou het nie, maar daar word vermoed dat hy vir die ander man ʼn saamrygeleentheid wou gee.
Volgens werknemers van die vulstasie is die bestuurder ʼn buitelandse burger.
Die polisie het teen Donderdagoggend nog nie meer inligting oor dié voorval gehad het nie, maar wel bevestig dat die saak ondersoek word.
Seker ni onmoontlik dat drugs betrokke is ni